Los en vas: Afrikaanse spellers se grootste kopseer

Ek weet, dit is ʼn nagmerrie. Ongelukkig het ek nie kitsoplossings nie, en ongelukkig is die spelreëls oor los en vas skryf (hoofstuk 15 in die Afrikaanse woordelys en spelreëls) ook nie altyd eenvoudig nie. As daar ʼn maklike manier was om die saak te beredder, het iemand dit al so beskryf.

Maar daar is tog ʼn paar beginsels wat ʼn mens kan onthou, wat ʼn mens in die gewone handel en wandel kan help. Los en vas skrywery is nou ook nie onbegryplik moeilik nie. Die lysie wat ek hier onder plaas, is iets wat in my kop bestaan. Dis nie spelreëls nie – dié word in die AWS vervat, en vir volledige verwysing moet ʼn mens dié bron raadpleeg. Maar ek sit wel my gedagtes hier neer, want dalk help dit.

  • Adjektiewe (in skoolwerk: byvoeglike naamwoorde) is los. Daarom is dit mediese skema, lang termyn, privaat skool, rooi pen, wit gesinne. Die uitsonderings is gewone plant- en diername waar die kleuradjektiewe vas geskryf word (blousysie, rooibessie, swartmamba) en gevalle van betekenisverdigting waar die vaste vorm iets heel anders as die los vorm beteken (geelperske, witskrif, swartlys). [Die toets vir adjektiewe is dat ʼn mens dit predikatief kan gebruik: die termyn is lank, die skool is privaat.] Lees meer oor privaat wat altyd los is in hierdie blog en oor junior en senior koor wat los is hier.
  • Bywoorde is los. Daarom is dit goed beplande projek, erg verbrande aandete, glad nie, ook al, al weer. Die een wat hier kopsere veroorsaak is die bywoord toe wat ook los moet wees as dit saam met naamwoorde optree: huis toe, see toe, skool toe, winkel toe. Dis net vas as dit saam met ʼn ander bywoord optree: binnetoe, buitentoe, agtertoe, boontoe.
  • Telwoorde is los. Daarom is dit tien rand, eerste span, sewe honderd vyf en dertig duisend ses honderd twee en twintig verskonings. Al wat ʼn mens hier hoef te onthou, is dat die lang telwoorde wat uit verskeie woorde bestaan ook met koppeltekens geskryf kan word. Ek het in hierdie blog verduidelik waarom eerste span los en 17A-span vas is. Oor gevalle soos sewesrugby (lees hier) en toptien (lees hier) het ek ook al geskryf.
  • Naamwoorde is vas of los afhangende van hulle geaardheid. Maatnaamwoorde (soos ʼn liter water of ʼn koppie koffie) is los. Versamelnaamwoorde (soos ʼn trop beeste of ʼn tros kinders) is los. Soortnaamwoorde wat langs mekaar voorkom en nie twee aparte dinge in die sin benoem nie, gaan heel waarskynlik vas wees: buiteluguitstalling, inperkingsmaatreëls, internetprobleme. Die manier waarop ek hierdie soort woorde toets, is om te bepaal waar die lidwoord gaan wees en dan te bepaal waar die meervoud gaan wees (die buiteluguitstallings, die inperkingsmaatreëls). Alles wat naamwoord is tussen die lidwoord en die meervoudsvorm gaan waarskynlik vas wees. (NB: Dis nie ʼn taalreël nie, dis ʼn toets. Moenie dit verabsoluteer nie.)
  • Eienaamwoorde val eintlik ook onder die kolpunt hier bo, want dit is naamwoorde, maar hulle het ʼn eie stel reëls as hulle in samestellings optree. ʼn Eienaamwoord wat saam met ʼn soortnaamwoord ʼn soortnaamwoord maak (Checkerssak, Volkswagen-onderdele) is ʼn gewone samestelling en dus (met of sonder ʼn koppelteken) vas. ʼn Eienaamwoord wat saam met ʼn soortnaamwoord ʼn eienaamwoord maak, kan op een van vier maniere geskryf word: Potchefstroom Apteek, Potchefstroom-Apteek, Potchefstroom-apteek, Potchefstroomapteek. Onthou wel dat ʼn mens by geregistreerde handelsname die skryfwyse gebruik soos wat die produk of instansie oorspronklik geregistreer is.
  • Wees versigtig vir die oorbenutting van koppeltekens. Koppeltekens beteken die komponente wat jy koppel, is ʼn samestelling, daar is net ʼn rede waarom jy nie die samestelling direk aan mekaar kan skryf nie. Dit is nie ʼn teken wat ʼn mens gebruik as jy nie weet of jy ʼn ding vas of los moet skryf nie. Lees hierdie blog vir ʼn volledige bespreking.
  • Daar is “ingewikkelder” samestellings wat reëls van hulle eie het. Samestellende samestellings (lees ʼn volledige bespreking hier) krap gewoonlik dinge deurmekaar, want dit bevat adjektiewe wat deel word van die samestelling, soos langtermynversekering en medieseskemavoordele. Samestellende afleidings is ook ʼn baie spesifieke bousel – ʼn woordgroep soos ten toon stel wat weens die toevoeging van ʼn afleidingsmorfeem vas geskryf word: tentoonstelling. Daar is in skoolgeledere heelwat verwarring hieroor, en dit is belangrik om kennis te neem van hierdie blog waarin die verskil tussen samestellende afleidings en afgeleide samestellings bespreek word.

Is dit alles wat daar te sê is oor vas en los skryf? Nee, natuurlik nie. Daarvoor is die AWS geskryf. Maar ongeveer 90% van die navrae wat ek oor vas en los kry, kan uit hierdie inligting beantwoord word. Werk dus gerus deur hierdie stel skrywes – ook dié waarvoor daar skakels is – as jy net jou greep op die saak wil verstewig. En as jy met die 10% van gevalle te doen het wat nie hieruit beantwoord word nie, verwys na die AWS, of skakel met my by sophia@viva-afrikaans.org of per whatsapp by 0621260295, ek help graag.

VivA-groete

Sophia

Scroll Up