Gereelde VivA-gebruiker Elridus Grobler vra: Hoe werk beklemtoning in tekste? Mag ʼn mens twee uitroeptekens gebruik? En wat van ʼn vraagteken en ʼn uitroepteken? Of is dit ʼn geval van “te veel van ʼn goeie ding is eintlik te veel”?
Dis ʼn baie geldige vraag, veral vir fiksieskrywers. Die meeste skrywers skryf ouditief (dit beteken hulle skryf soos wat hulle dinge in hulle koppe hoor – skryf grens mos vir die meeste skrywers aan waansin), wat daartoe kan lei dat die teks swaar dra aan klem. Veral in tonele wat emotief gelaai is en waarin karakters met swaarwigtige vraagstukke worstel, kan ʼn mens maklik vasval in ʼn moeras van klemme en uitroeptekens wat in die hitte van die skryfstryd baie sin gemaak het, maar wat by nabetragting dalk nie nodig is nie. Gelukkig het die meeste uitgewers ervare teksredakteurs wat skrywers teen hulle eie waansin beskerm, maar ons gewone sterflinge wat sommer net vinnig tekste vir die werk of die kerk of die kinders of die skool moet pleeg, het nie hekwagters wat ons kan help nie. Hoe nou gemaak?
Voor ons by die sonde van oordaad kom, kom ons kyk net eers wat tot ʼn mens se beskikking is om klem in tekste aan te dui.
Die AWS gee nie leiding oor hoeveel keer jy die akuutteken in ʼn teks mag gebruik nie. Dis gewoon omdat die AWS nie leiding gee oor skryfwerk nie, die bron gee leiding oor spelling en skryfwyse.
Leestekens soos die aandagstreep wat by parenteses gebruik word (“Ek het jou al gewaarsku – en ek gaan dit nie weer doen nie – om jou mond te hou!”) is ook ʼn manier om bepaalde teksgedeeltes vir die leser uit te sonder.
Met al bogenoemde in gedagte, is dit belangrik om te onthou dat dit ʼn outeur van ʼn teks (enige teks, hetsy akademies, fiksie, advertensie, lighartig of donker) se werk is om ʼn leser so doeltreffend moontlik deur ʼn teks te lei. Die oogmerk is nooit om slim te lyk of om met ʼn mens se taalbeheersing af te wys nie, die oogmerk is om die leser op ʼn nuwe intellektuele, emosionele of filosofiese plek te kry, of om die leser se ingesteldheid teenoor ʼn saak of die lewe self te verander. Taal bly altyd in diens van die boodskap, nie andersom nie.
Klem is ʼn baie doeltreffende manier om die leser se verhoogde emosionele betrokkenheid by ʼn bepaalde teksgedeelte af te dwing. Dit beteken dat die outeur die leser dwing om met nuwe, helder, verhelderde bewustheid waar te neem, om harder te hoor en beter te kyk. Dit verg meer van die leser en put meer uit as gewone lees. As dit omsigtig gebruik word, kan dit baie doeltreffend wees, maar die óórbenutting van klem kan die leser vermóéi en uiteindelik vervréém!!! Hoewel die vorige sin ingevolge taalreëls heeltemal korrek is, gaan die meeste lesers instinktief aanvoel hoe die spreker/verteller op hulle begin skree. Die vraag is altyd hoeveel iemand bereid gaan wees om op geskree te word voor hulle die teks eenkant toe gaan gooi en eerder tandarts toe gaan.
Die goue beginsel hier, is (soos met enige skryfwerk): Vorm volg funksie. Die feit dat ʼn mens verskeie beklemtoningsmeganismes tot jou beskikking het, en dat die AWS boonop sê hulle mag saam of by herhaling gebruik word, beteken nie dis doeltreffend om almal gelyktydig aan te wend nie. Dis bietjie soos vuurwerke by ʼn popkonsert of ʼn kanonsaluut by ʼn staatsbegrafnis: Een salvo op die regte oomblik is genoeg. Enigiets meer as dit is ʼn aanloop tot hooikoors of oorpyn. Of, in die geval van klemoordaad, ʼn pyn in die oog.
VivA-groete
Sophia