Die gesegde: ʼn kattekoor

Almelewe het ek (A-kandidaat in matriek, Afrikaansonderwyser, en nou met ʼn PhD in Afrikaanse Taalkunde agter my naam) die kat aan die stert beetgehad. Ek wil die taalonderwyser wat hierdie sintaktiese gekattemaai geskep het, katswink slaan. Die onderwysstelsel van die afgelope paar dekades het die kat aan die bo-lip beetgehad en ons as sprekers en onderwysers is deur ʼn spul onkundiges wysgemaak dat ʼn kat eiers lê.

Voor ek my ouers hulle dit laat berou dat hulle hulle ʼn kat in die sak gekoop het met my duur opleiding, laat ek liewers die kat … nee, die aap uit die mou laat!

 ʼn Gedeelde begrip

VivA se onderneming om die grammatika van Afrikaans volledig en korrek te beskryf (dit lê in Taalportaal en Taalonderrigportaal) het primêr gespruit uit die magdom uiteenlopende opvattings oor wat die term gesegde behels. Die verwarring in skoolgeledere was veral ‘n kwelling, want as onderwysers nie eenstemmigheid het oor wat dit is nie, hoe billik is dit om kinders almal dieselfde vraestel te laat skryf en hulle dan te penaliseer omdat die onderwyser en die eksaminator nie dieselfde onder die term verstaan nie?

Dit is dus kernnoodsaaklik dat onderwysers, leerders en almal wat met sintaksisopleiding te doen het, na hierdie werk verwys, sodat ons ten minste net ʼn gedeelte begrip het van waarmee ons werk. Die werk wat VivA in die Afrikaanse Skoolgrammatika gedoen het, en steeds doen, is gegrond op navorsing, en is internasionaal gestandaardiseer. As ons dus hier goed publiseer, is dit gehalteverseker en korrek, en hoef niemand meer daaroor te wroeg of te wonder nie.

Goed, die gesegde. Die term kan natuurlik gewoon na ‘n sêding verwys, soos die soort fraaihede hier bo waarmee ek die blog afgeskop het. Maar dit is ook die naam van ‘n sinsfunksie (verwys na hierdie blog om te begryp wat ons met dié term bedoel), en dis hierdie sinsfunksie, en veral die definisie daarvan, wat die krisis veroorsaak.

Hier is die korrekte beskrywing in ‘n neutedop, met die vriendelike komplimente van die span by VivA, en die span internasionale navorsers by Taalportaal:

Die gesegde is alles in die sin wat nie die subjek (onderwerp) is nie.

In eenvoudige wiskunde druk ons hierdie aftreksom soos volg uit: gesegde = [sin] – [subjek]

Voetnoot: Vir onderwysers wat met tweedetaalleerders werk, is dit belangrik om daarop te let dat die gesegde in Engels (Longman p.122) bekend staan as die predicate. Dit is veral noodsaaklik om leerders daarop te wys dat die Engelse predicate nie gelyk is aan die Afrikaanse predikaat nie (sien hier onder).

Die verdeling tussen die subjek en die gesegde kan soos volg voorgestel word:

subjek

gesegde

My boetie

jaag.

My boetie

het verskriklik vinnig hospitaal toe gejaag.

My boetie

doen sy huiswerk net voor die klas.

My oudste boetie

doen sy huiswerk voor hy gaan rugby oefen.

Waaruit bestaan die gesegde? Noodsaaklike en nienoodsaaklike sinsdele

Die gesegde bestaan minstens uit ‘n hoofwerkwoord. Sonder ʼn hoofwerkwoord is daar nie ʼn gesegde nie, en sonder ʼn gesegde is daar nie ʼn sin nie. Kyk weer na die voorbeelde hier bo. In elke sin is daar ten minste ʼn hoofwerkwoord.

Daar kan natuurlik ‘n swetterjoel ander bousels saam met die hoofwerkwoord in die gesegde optree. Ons sal elkeen afsonderlik in hierdie reeks blogs oor sintaksis bespreek, maar in hierdie blog is dit nodig om reeds kennis te neem van die konsep van noodsaaklike en nienoodsaaklike sinsdele.

As ons verwys na ʼn noodsaaklike sinsdeel, bedoel ons ʼn sinsdeel wat nodig is om die sin grammatikaal te hou. Let wel: Dit gaan nie hier oor hoe belangrik die inligting in die sinsdeel is nie, dit gaan oor wat die sinsdeel vir die grammatikaliteit van die sin doen. As die sin sonder die sinsdeel ongrammatikaal is, is die sinsdeel noodsaaklik.

Die gesegde moet ten minste ‘n hoofwerkwoord hê, anders is die sin nie grammatikaal nie: My boetie jaag is grammatikaal ‘n sin. My boetie is nie ‘n sin nie. Dit het betekenis, ja, maar dit word nie in die sintaksis as ‘n sin beskou nie.

Benewens die hoofwerkwoord wat noodsaaklik is, is daar dele van die gesegde wat as gevolg van die aard van die hoofwerkwoord noodsaaklik is om die sin grammatikaal te hou: In My boetie doen sy huiswerk is sy huiswerk ‘n noodsaaklike element. *My boetie doen is nie ‘n sin nie.

Die dele van die gesegde wat weggelaat kan word sonder dat dit ‘n ongrammatikale sin tot gevolg het, is nienoodsaaklik. Weereens: Dit gaan nie hier oor die belangrikheid van die inligting nie. Al is die betekenis van die sinsdeel kernbelangrik, gaan dit hier net oor hoe noodsaaklik die sinsdeel is om die sin grammatikaal te hou. In die sin My boetie doen sy huiswerk net voor die klas is net voor die klas nie noodsaaklik om die sin grammatikaal te maak nie. Dis betekenisgewys (semanties) belangrik, maar sintakties kan dit weggelaat kan word sonder om die sin grammatikaal te ontspoor.

Met bostaande in gedagte, onderskei ons die volgende in die sintaksis:

Gesegde = alles in die sin wat nie die subjek is nie.

Predikaat = alles in die gesegde wat noodsaaklik is (hoofwerkwoorde, niehoofwerkwoorde en noodsaaklike sinsdele)

Predikator = al die werkwoorde (hoofwerkwoorde en niehoofwerkwoorde)

Komplement = noodsaaklike sinsdeel in die gesegde wat deur die werkwoord afgedwing word

Adjunk = nienoodsaaklike dele van die gesegde wat weggelaat kan word

So lyk dit as ons sinne op grond van bogenoemde ontleed: My boetie doen sy huiswerk net voor die klas.

subjek

gesegde

my boetie

doen sy huiswerk net voor die klas

subjek

predikaat

adjunk

my boetie

doen sy huiswerk

net voor die klas

subjek

predikator

komplement

adjunk

my boetie

doen

sy huiswerk

net voor die klas

Hier is nog ʼn voorbeeld: My boetie het verskriklik vinnig hospitaal toe gejaag.

subjek

gesegde

my boetie

het verskriklik vinnig hospitaal toe gejaag

subjek

predikaat

adjunk

adjunk

 

my boetie

het gejaag

verskriklik vinnig

hospitaal toe

 

subjek

predikator

komplement

adjunk

adjunk

 

my boetie

het gejaag

 

verskriklik vinnig

hospitaal toe

 

ʼn Paar belangrike goed om uit bostaande af te lei:

  • Die gesegde is ʼn sinsfunksie, soos wat die subjek ʼn sinsfunksie is.
  • Vir universiteitstudente: Die subjek is vormlik altyd ʼn naamwoordstuk (NP) en die gesegde is vormlik altyd ʼn werkwoordstuk (VP). ʼn Mens kan dus aanvaar dat ʼn subjek altyd ten minste ʼn naamwoord gaan bevat, en dat die gesegde ten minste ʼn hoofwerkwoord gaan bevat.
  • Die aard van die hoofwerkwoord bepaal wat in die gesegde gebeur. Die sinsdele wat in die gesegde optree, hou dus ten nouste verband met die soort hoofwerkwoord wat in die sin voorkom, en sonder ʼn behoorlike begrip van watter soort hoofwerkwoord dit is, is enige poging tot sinsontleding gedoem. Verwys na die afdeling in die Afrikaanse skoolgrammatika oor werkwoorde vir ʼn behoorlike begrip van die soorte hoofwerkwoorde en niehoofwerkwoorde wat in Afrikaans voorkom. Lees ook die blog oor werkwoorde.
  • Die gesegde kan ander sinsfunksies bevat. Dit is net in die eenvoudigste van simplekse sinne waar die gesegde uit ʼn enkele hoofwerkwoord bestaan. In natuurlike skryftaal, is die gesegde gewoonlik kompleks.
  • Die gesegde is, saam met die subjek, een van die basiese en noodsaaklike dele van die sin, maar dit beteken nie alle gesegdes lyk dieselfde nie. Afgesien van die feit dat ʼn gesegde ʼn hoofwerkwoord moet bevat, is niks anders aan die gesegde voorspelbaar nie. Sinsontleding vereis dus van die leerder, onderwyser, student en dosent om baie noukeurig te kyk wat in die sin self aangaan, en met ʼn proses van eliminasie (weglating van sinsdele) sinsdele te klassifiseer.

Die laaste kattegesang

Die laaste woord oor die gesegde en wat alles in die gesegde kan gebeur, is nog nie gespreek nie. In ʼn volgende blog sal ek die sinsfunksies bespreek wat in die gesegde kan voorkom, en gee ek ʼn “resep” wat ʼn mens vir kinders kan gee om sinne mee te ontleed.

My kat het ʼn paar lewens, en hy hom weer.

Tot dan

Cecilia

Scroll Up