Uit Daan se pen

Daan gesels – September’25

Deur Daan Potgieter

Kollegas

Met 2025  wat ten einde snel en soveel aksie rondom ons, wil ek enkele gedagtes met u deel, om dalk perspektief te stel en u so effens uiit die branders te laat staan. 

Ek lees onlangs van ‘n baie duur skoenveter-struikel. Ons almal het al iewers gestruikel. Soms met komiese gevolge en soms met dramatiese gevolge.

Min mense kan egter by Nick Flynn kers vashou.

Nick Flynn besoek in 2006 die Fitzwilliam Museum in Cambridge, Engeland, waar hy per ongeluk oor sy skoenveter struikel, met dramatiese en baie duur gevolge. Aanvanklik is Nick gearresteer, omdat sy struikel nie as “per ongeluk” gesien is nie. Gelukkig is hy wel later vrygelaat

Sy val het drie Qing vase in duisende stukke laat bars. Een van die vase is vir ongeveer R10 miljoen gewaardeer. Nogal ‘n duur struikel!!

 

Die les is egter…almal struikel soms…en dalk nie met dieselfde gevolge of koste as Nick nie. Ons hoef ook nie altyd met die ergste optrede te probeer vergeld nie.  Soms moet ons as leiers net geduldig wees met ons kollega, leerder, ouer of vriend wat struikel, omdat hulle nie noodwendig bewustelik struikel en val nie. Ons moet reeds die vangnet wees om te ondersteun, te verstaan en op te help. 

Die AON het met die Afrikaanse Taalraad se Taalpodium in die begin van September die verslag oor die Stand van Afrikaanse Onderwys bekend gestel.

Dit was deel van ‘n groter verslag wat deur die ATR gedoen is oor die Stand van Afrikaans. Die verslag is met die ondersteuning en samewerking van ons vennote, SAOU, FEDSAS en SOS, gedoen.  Enkele van die kommerwekkende bevindinge is die volgende:

*              Sedert 2016 is daar ‘n afname van 289 enkel medium Afrikaanse skole in Suid Afrika

*              Veeltalige skole waar Afrikaans ook as Taal van Onderrig en Leer gebruik word, toon ook ‘n afname

*              Die gemiddelde ouderdom van Afrikaanssprekende onderwysers is 45 jaar

*              Beginneronderwysers verlaat die professie teen ‘n koers van 52% binne die eerste drie jaar.

*              Afrikaanse skole op die platteland “verdwyn” die vinnigste

Tog is daar baie positiewe bevindinge ook:

*              Die groei van mega skole sedert 2016 is noemenswaardig. In 2016 het 1% van skole in Suid Afrika ‘n leerdertal bo 1 500 gehad en tans is dit 14% 

*              Groei in onafhanklike skole het toegeneem met 110% 

*              Standaard van skole waar skoolbestuur Afrikaans is, is uitsonderlik hoog

*              Enkelmedium Afrikaanse skole se uitslae is ook uitsonderlik

*              Daar is steeds ‘n beduidende groep leerders wat moedertaalonderrig (Afrikaans) verkies.

*              Die kwaliteit van Afrikaanse kunste, boeke, musiek en feeste, groei beduidend.

 

Die AON wil ons vennote bedank vir hulle insette en onbaatsugtige diens en bydrae tot die verslag. Indien u insae tot die verslag wil hê, is u welkom om dit per e-pos aan te vra.

Die AON beplan ook om op 31 Oktober ‘n strategies beplanningsessie met die vennote en rolspelers in die Afrikaanse onderwys te hou by die AROS kampus in Pretoria. Indien u hierdie geleentheid wil bywoon kan u per e-pos u sitplek bespreek.

Geniet hierdie kort nuusbrief en sterkte met die laaste skof van die derde kwartaal.