Weet, die Afrikaanse e-naslaangids vir leerders, bied al vir drie jaar lank gehalte, betroubare inligting aan kinders en nuuskieriges – gratis. Die Weet-droom is gebore uit ʼn behoefte aan Afrikaanse inligting vir laerskoolkinders op die internet. Hierdie behoefte was baie duidelik veral in die Covid 19-inperkingstyd. Daarom het die werk agter die skerms reeds in 2020 begin, en in Maart 2022 kon ons Weet.co.za aan die wêreld bekendstel.
Die eerste klomp artikels het kurrikulumonderwerpe gedek, veral vir graad 4 tot graad 7 leerders. Maar Weet vertel jou nie net alles wat in die handboek staan nie, ons gee selfs meer inligting en uit verskillende perspektiewe, sodat jy ‘n volledige en geballanseerde prentjie van elke onderwerp kan kry. In vierkiesingstyd kon jy byvoorbeeld oplees oor hoe ons politieke stelsel werk en waarvoor die verskillende politieke partye staan. Toe die Olimpiese Spele aan die gang was kon Weet jou inligting gee oor al wat ʼn sport is. As jy in die verbyry wonder wie die mens agter ‘n straatnaam is kan jy dit waarskynlik op Weet uitvind en vanjaar, in hierdie feesjaar van ons moedertaal, kan jy oor alles wat Afrikaans is lees. Daar is boonop ook nog ‘n tydlyn wat Afrikaans se verloop uitbeeld.
Oor geskiedenis kan jy baie leer op Weet. Ons het die onderwerpe waaroor kinders op skool leer gevat en op allerlei maniere daarop uitgebrei. Al leer jou kind oor demokrasie op skool, kan hulle op Weet ʼn baie breër prentjie van demokrasie en demokratiese leiers kry, en dit sommer ook vergelyk met kommunisme, liberalisme en al die ander ideologiese -ismes. En dit is nie in Grieks geskryf nie, maar in eenvoudige, verstaanbare Afrikaans, sodat ons kinders van jongs af kan verstaan waaroor hierdie belangrike dinge gaan.
Verder is ons besig om artikels oor al die wêreldlande te skryf, ons werk aan ‘n reeks oor beroepe en ons vul intussen ook enige moontlike gate in ons laerskoolkurrikuluminhoud, voordat ons volgende jaar na die hoërskoolkurrikulum aanskuif.
Behalwe vir goeie inhoud, bied Weet ook nog mooi, gepaste prente en aanvullende leesstof en video’s. Boonop het elke artikel vinnige feite, ʼn inhoudsopgawe wat navigasie maklik maak, ʼn bronnelys waarmee inligting geverifieer kan word en ʼn woordbank wat moeilike woorde verduidelik. Die kersie op die koek is ons luisterartikels – dit is ʼn versameling van artikels wat ons opgeneem het en waarna daar op enige plek geluister kan word, of dit nou in die klas, op die langpad see toe of in die oggend voor ʼn toets in die kar is.
Vroeër vanjaar het ons ook die Weet-app bekendgestel, wat dit nóg makliker en veiliger vir kinders en nuuskieriges maak om tussen die inligting rond te snuffel; ʼn virtuele biblioteek wat altyd beskikbaar is. Alles wat jy tot dusver op Weet.co.za kon kry, is voortaan op ʼn maklike manier verpak in ʼn app.
Hoewel ons baie trots op ons inhoud is, weet ons dat ons werk nie klaar is nie. Nee, ons identifiseer knaend nuwe onderwerpe en ons verwelkom voorstelle vir nuwe inhoud van ons gebruikers.
Kontak Weet se projekbestuurder, Petronel Fourie, vir enige verdere inligting of voorstelle: petronel@weet.co.za.

