Aan elke onderwyser:
Die einde van die jaar is ‘n baie besige tyd vir almal, vir onderwysers is dit ‘n tyd van verslae skryf, opruim, skoonmaak, afskeid neem, nadink oor die jaar wat verby is, die goeie daaruit neem om daarop te bou gedurende die nuwe jaar.
Goeie onderwysers is geroepe, hul hou skool met hul harte, hul hande en hul verstand, hul hele wese. Hul ontsien geen moeite nie, omdat hul werk vir hul ‘n plesier is en hul strewe daarna om jaarliks meer innoverend te wees.
Hul is uitgeput, maar nie moedeloos nie, hul rus gou uit omdat hul opgewonde is om ‘n nuwe jaar aan te pak. Hier volg ‘n paar eienskappe van ‘n professionele onderwyser.
Die eienskappe van ‘n waarlik professionele onderwyser
Onderwysers wil graag hê hul leerders moet van hulle hou, maar om van gehou te word, is nie die hoogste doelwit nie. Onderwysers moet soms ‘n paar ongewilde besluite neem, dikwels in belang van kinders.
Onderwysers kan gewild wees net omdat hulle vriendelik en behulpsaam is, maar om werklik professioneel en effektief te wees, het hulle ander eienskappe nodig. Leerders kan dalk nie hul vinger plaas op hoekom een onderwyser meer effektief is as ‘n ander nie, maar ons moet die vaardighede en gedrag wat ons in ‘n ware professionele persoon benodig, kan identifiseer.
‘n Professionele onderwyser moet selfversekerd wees sonder om arrogant te wees. Niemand kan verwag om al die antwoorde te hê nie, so as ‘n leerder ‘n onmoontlike vraag vra, moet die professionele onderwyser die nederlaag kan erken, maar aanbied om meer oor die onderwerp uit te vind. En hulle moet daardie belofte nakom.
Behoorlike voorbereiding is nog ‘n belangrike vereiste van professionaliteit. Wanneer die onderwyser die klaskamer binnekom, moet hy/sy al die nodige materiaal en die lesplan gereed hê. Niks is meer slordig as swak voorbereiding nie.
Interaksie met die groep benodig professionele gedrag: beleefd, ferm en regverdig som dit amper op. Gedurende die aanbieding van lesse in die klas, behoort die onderwyser almal hul kans gee om by te dra en moet buigsaam genoeg wees om lesse aan te pas as hulle nie volgens plan verloop nie. Inderdaad, ‘n plan B waarop teruggeval kan word, is deel van goeie beplanning.
Dit is ook vanselfsprekend dat onderwysers stiptelikheid en toepaslike netheid en kleredrag moet voortleef: dit is nie moontlik om sulke gedrag van leerders te eis as die onderwyser nie die voorbeeld stel nie.
Onderwysers behoort staat te kan maak op die rugsteun van die skoolbestuur en die beheerliggaam. Prosedures behoort in plek te wees by die skool, sodat probleme professioneel hanteer kan word, sonder dat personeel of leerders kwesbaar voel.
Baie dankie aan elke onderwyser wat daagliks die belange van leerders op die hart dra! Baie dankie vir toewyding deur die jaar! Mag die rustyd geseënd wees en die Feestyd gevul wees met liefde, lag en saamwees. Mag jy die nuwe jaar met vreugde aanpak, nadat jou emmertjie vol gelaai is gedurende die vakansie. Dankie dat jy ‘n verskilmaker is.
Vriendelike groete!
Wilna van Rooyen