WAAROM MOEDERTAALONDERRIG?
Moedertaalonderrig in Suid-Afrika is toenemend in die politieke visier met aanslae op Afrikaans wat as middel tot rasuitsluiting beskou word, veral gemeet aan die uitsprake van die LUR van onderwys in Gauteng, mnr. Panyaza Lesufi. Die doel van hierdie bydrae is beslis nie om in die politiekery van Afrikaans as onderrigtaal betrokke te raak nie, maar eerder om die nut en noodsaaklikheid van moedertaalonderrig uit te lig en te beklemtoon.
Die debat oor moedertaalonderrig het gelukkig ook ‘n groter bewustheid onder die breër publiek geskep oor die voordele en belang daarvan. Daar is deesdae ‘n besef dat die aanspraak op moedertaalonderrig nie net oor die sentiment daarvan gaan nie, maar dat dit gesonde en beter opvoedings- en akademiese praktyk tot gevolg het. Dit is vir seker nie gemik op ‘n anti-Engelse beweging nie!
Internasionale navorsing op verskeie vlakke bewys dat die basiese konsepte van enige vak eers in die moedertaal bemeester moet word alvorens meer komplekse begrippe of konsepte in ‘n ander taal bemeester kan word. Hierdie studies word deur UNESCO (die Verenigde Nasies se onderwys, wetenskap en kultuurorganisasies van onderwys in Afrika) asook ADEA (die vereniging vir die ontwikkeling van onderwys in Afrika) ondersteun. Die organisasies skryf ‘n minimum van ses jaar moedertaalonderrig vir ‘n leerder om in ‘n ander taal, byvoorbeeld Engels te kan leer, voor. Hierdie norm stel egter ‘n groot uitdaging aan lande waar hulpbronne en kwaliteit onderwys skaar is. In hierdie lande skuif die tydperk vir moedertaalonderrig op na agt jaar. Dit kan verklaar waarom leerders in Suid-Afrika se lees- en begripsvermoeë so laag toets. Die swak prestasie van leerders in die Nasionale Eindeksamen kan direk aan onder andere die gebrek van moedertaalonderrig in die vormingsjare van kognitiewe ontwikkeling van leerders, toegeskryf word.
Die swak uitslae kan ook daaraan toegeskryf word dat leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie en dat onderwysers dikwels onderrig in ‘n taal, wat ook nie sy/haar moedertaal is nie, moet aanbied. Statistieke oor presterende skole is baie insiggewend. Dit dui daarop dat die gehalte van onderrig die gehalte van uitslae bepaal en dat skole waar leerders in tot in graad 12 in hul moedertaal onderrig word, beduidend beter presteer. Die gehalte van onderrig kan aan die feit dat dié skole gehalte moedertaalonderrig aanbied, toegeskryf word.
UNESCO het deur navorsing ook bevind dat:
Die gehalte van onderrig verbeter met moedertaal, omdat daar op bestaande kennis en ondervinding voortgebou word. Dit het ‘n duidelike invloed op akademiese sukses.
Lande waar moedertaalonderrig bevorder word, is oor die algemeen meer welvarend.
Studies in moedertaal bevorder nie net verdere studie nie, maar waarborg ook sukses.
Dit is makliker vir leerders om kennis, wat in die moedertaal verwerf is, na ‘n tweede of selfs derde taal oor te dra as anders om.
Reeds in 1953 het UNESCO dit so gestel:
“Moedertaalonderrig behoort die beste manier te wees vir kinders om te leer, aangesien dit die gaping tussen huistaal en die taal van onderrig oorbrug….Daarom moet moedertaalonderrig so lank as moontlik verleng word. Onderrig in ‘n lingua franca, of ‘n taal van meer algemene kommunikasie, kan nooit ‘n plaasvervanger vir moedertaalonderrig wees nie en dit moet uitgestel word totdat die kind sy moedertaal ten volle bemeester het.”
Kognitiewe ontwikkeling verhoog met moedertaalonderrig. Abstrakte konsepte word makliker in die moedertaal bemeester en vasgelê. Wanneer leerders moeilike konsepte in die moedertaal verstaan, word die begrippe outomaties na ‘n ander taal oorgedra en is dit nie nodig om dit van vooraf in ‘n ander taal te leer nie. Die prestasie van studente wat op tersiêre vlak in moedertaal onderrig is en in ‘n tweede taal moet studeer, is ‘n sprekende bewys hiervan. Moedertaal stimuleer nie net kognitiewe ontwikkeling nie, maar leerders wat in moedertaal onderrig word se intellektuele ontwikkelingsvlakke is hoër.
Hoërordedenke word dus ook nie net deur moedertaalonderrig bevorder nie, maar is die waarborg tot sukses. Waar ons tans besig is met strategieë en denke oor die Vierde Industriële Revolusie (4IR) en hoe onderwysmodelle en praktyk aangepas sal moet word om voorsiening te maak vir die uitdagings en om leerders ‘n kompeterende voorsprong te gee, kan ons dit nie sonder moedertaalonderrig as basis aanpak nie. Ons sal nouliks oorleef as ons nie oor spesifieke vaardighede en toepaslike kennis beskik nie. Vaardighede wat onder andere kritiese denke, kreatiewe denke, kommunikasie, komplekse probleemoplossing en emosionele intelligensie insluit, kan net ontsluit word wanneer die basiese konsepte in die moedertaal bemeester is. Dit is slegs deur moedertaal dat linguistiese vaardighede, redenasie en probleemoplossing optimaal ontwikkel kan word.
Dr Michael le Cordeur: “Leerders wat onderrig word in die taal waarin hulle die vaardigste is, vaar die beste omdat hulle die hoër-orde-vrae begryp. Daarteenoor struikel leerders wat nie in hul moedertaal leer nie met vrae soos “verduidelik in jou eie woorde … wat is jou mening oor … wat dink jy sal die gevolg wees as …”
In die Vierde Industriële Revolusie sal meertaligheid onontbeerlik wees en tot die algehele vorming en ontwikkeling van individue se prestasie en aanpassing in die werksomgewing bydra. Soos reeds genoem is dit vir moedertaalsprekers wat begrippe en konsepte reeds bemeester het, makliker om ‘n volgende taal aan te leer. Veeltaligheid gaan toenemend tot die sukses van ons leerders en Suid-Afrika bydra. Veeltaligheid dra tot beter begrip van ander by en gee toegang tot nuwe kennis en kulturele ervarings. Eenvoudig gestel; dit maak deelname moontlik en ontsluit die wêreld – baie belangrike vereistes vir oorlewing in die Vierde Industriële Revolusie.
Internasionale bewustheid rakende die waarde van moedertaalonderrig begin ook momentum aanneem. Finland word allerweë as een van die wêreld se beste onderwysstelsels beskou. Fins of Sweeds word as onderrigtaal in die onderwyspyplyn van vroeëkinderontwikkeling tot tersiëre vlak as onderrigtaal gebruik. Die prestasie, veral in wetenskap en wiskunde, van Finse-studente word wêreldwyd baie hoog geag.
In Asië en Afrikastate (Ghana en Tanzanië) word inheemse tale eerder as koloniale tale voorgestaan in die omskakeling van hul skoolstelsels. Hierdie lande se ervaring is dat die gebruik van koloniale tale as onderrig- en omgangstaal, soos Engels, tot laer geletterdheidsvlakke en hoër werkloosheid lei.
Moedertaal is die taal wat mense in hul kinderjare aangeleer het en wat hulle natuurlike manier van dink en kommunikasie word. Moedertaal vorm daarom ‘n integrale deel van ‘n individu se identiteit. Dit vorm leerders se identiteitsvorming en -besef en beïnvloed sosiale gebruike, waardes, norme en gebruike.
Moederaal het dus ‘n belangrike rol in die vorming van ‘n skool- of gemeenskapskultuur en laat die leerder toe om hul kultuur en erfenis te waardeer. In hierdie omstandighede, waar die leerder veilig voel, word ‘n positiewe selfbeeld en selfvertroue ontwikkel. Moedertaal dra dus tot sielkundige, kulturele en sosio-ekonomiese welsyn van gemeenskappe by. Meertaligheid, die vermoë om meer as een taal aan te leer, juis omdat jou moedertaal gevestig is, word ook op hierdie manier deur moedertaal ondersteun en bevorder.
In Suid-Afrika, waar toegevoegde veeltaligheid voorgestaan word, kan dit net slaag as leerders die moedertaal deeglik bemeester het. Dit is dus foutief om te redeneer dat moedertaalonderrig,veral in Afrikaans, kulturele en etniese verdeling bevorder. Die afdwing van ‘n koloniale taal, Engels, het reeds daardie uitwerking en gevolg. Deur aan te dring op onderrig in ‘n tweede of selfs derde taal word daar ‘n belangrike dimensie van die mens se identiteit ontneem.
Moedertaal bevorder sosiale en professionele kontak met ander moedertaalsprekers. Moedertaalsprekers is gewoonlik ook vaardig op hoërfunksievlak in Engels, terwyl leerders wat slegs in Engels studeer, meer vaardig op sosiale vlak as op hoëfunksievlak is.
Bogenoemde argumente oor die waarde en noodsaaklikheid van moedertaalonderrig mag dalk steeds twyfel laat by sommige mense. Waarom dan steeds moedertaalonderrig?
Taal is ‘n fundamentele mensereg volgens Artikel 10 van die Suid-Afrikaanse Grondwet én Internasionale Reg. Miskenning van ‘n individu se taal en kultuur kom neer op die aantasting van sy menswaardigheid. Taal is nie die draer van regte nie, dit is die individu (gebruiker) wat regte op sy/haar taal het. Dit kom veral in gedrang by minderheidsgroepe. Taal is deel van die individu se regte.
Artikel 17 van die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg die individu se reg om taal en kultuur binne groepsverband, deur erkenning van bepaalde vryhede, waaronder Vryheid van assosiasie, te beoefen.
Die Handves van Regte, wat gelykheid, menswaardigheid en ander menseregte verskans, asook die reg op openbare onderwys in die taal van die kind se keuse en om die taal van keuse te gebruik, verskans en waarborg dié reg van die individu. Hierdie regte vind veral uiting in Artikel 29(2) van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat uitdruklik bepaal dat elke persoon die reg tot onderrig in een of meer amptelike taal volgens eie keuse in openbare onderwysinstellings het.
Die keuse van moedertaalonderrig het dus nie net ‘n waarde of noodsaak nie, maar is ‘n reg waarop elke leerder in Suid-Afrika aanspraak kan maak.
Wanneer ons as opvoeders in die beste belang van die kind en met opvoedende onderwys as maatstaf wil optree, sal ons elke denkbare poging aanwend om moedertaalonderrig te beskerm en uit te bou.
Ons doel is immers om die kind tot sy of haar volle potensiaal te laat ontwikkel, deur karakter te bou, vaardighede te ontsluit en te ontwikkel en kennis (toepaslike kennis en kennis wat toegepas kan word) oor te dra. Ons sal nie net in ons taak en roeping misluk indien ons nie die waarde en noodsaaklikheid van moedertaalonderrig besef nie, maar ook ons leerders versaak.