Uit Daan se pen

Daan gesels -Junie ’23

Deur Daan Potgieter

Beste Kollegas,

Met die winter in volle swang en vakansie om die draai is dit ‘n goeie tyd om te besin oor waar ons tans met onderwys staan.

Die BELA-wetgewing se openbare gesprekke het getoon dat die meerderheid deelnemers teen die Wysigingswetsontwerp gekant is.  Ons kan verwag dat daar nog vurige debat hieroor gevoer gaan word.

Die onlangse verslag van die Vereniging vir Evaluering van Opvoedkundige Prestasie se jongste peiling oor vordering van die internasionale leesvaardighede (PIRLS) het gewys dat 81% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders, wat in 2021 getoets is, nie met begrip kan lees nie.  Dit skep ‘n somber prentjie van die stand van onderwys en die toekoms van die jeug.  Daar is baie wat gedoen moet word en daarom werk die AON onverpoos saam met vennote om aan Afrikaanse leerders die kompeterende voordeel te gee op alle terreine.

‘n Positiewe uitspraak van die minister van basiese onderwys, me Angie Motshekga, waaroor die AON opgewonde is, is haar pleidooi vir moedertaalonderrig.  “Ons kan dit met Afrikaans sien.  Dit is moedertaalonderrig.  Dit werk vir hulle”.

Hiermee het die minister bevestig waarvoor die AON hom beywer en dat die grondslag vir leerders se prestasie in moedertaal gesetel is.  Die AON en vennote fokus ook in 2023 op die ontwikkeling van leesvaardighede reeds vanaf vroeë kinderontwikkeling.  Hierdie nuusbrief gee ook ‘n bondige samevatting van die AON se bydrae die afgelope kwartaal.        

Dankie dat u elke dag die verskil in Afrikaans maak.