ViVA

Die bywoord met ’n houding

Deur ViVA Blog

“Die maklikste manier om vir leerlinge die bywoord van modaliteit te verduidelik….asb” [sic]. Dit is een van die antwoorde wat ontvang het, nadat ek op VivA se Facebookblad vir Afrikaansonderwysers, Taalonderwysersforum, gevra het met watter aspekte van die bywoord probleme ervaar word.

In hierdie blog stel ek ’n les voor wat vir verskeie graadgroepe aangepas kan word. Die les volg ’n tipiese inleiding-ontwikkeling-konsolidasie-struktuur wat deur Lawrence et al. (2014:212-213) voorgestel word. 

Lesfase 1:  Kontekstualisering en inleiding (stel die onderwerp aan die leerders bekend)

Stap 1: Skep ’n konteks

Bywoorde wat die betekenis van modaliteit uitdruk”, soos wat daarna in VivA se Afrikaansgrammatikas verwys word, en op skoolvlak “bywoord van modaliteit” genoem word, is bietjie soos wat ek op sestienjarige ouderdom was: Hulle het ’n houding. Dit het jy gesien wanneer ek nog die vorige dag ’n bruin kapsel gehad het en dan die volgende dag met gebleikte oranje-geel hare by die skool opgedaag het. Oortuigingsvaardighede het ek dus nie kortgekom nie. Oor die spesiale vermoë om my ouers te laat twyfel, het ek ook beskik: Soms het ek aartappelslaai geëet, ander kere net aartappelwiggies, en soms net skyfies wat in die oond gebak is, al is die hoofbestanddeel van almal dieselfde. Boonop was ek soos menige tiener baie krities. Laat my ma tog net “thank you” as “thênk joe” in Engels uitspreek en ek het bloedrooi van skaamte geword. (Jammer vandag daaroor, Ma.)

Stap 2: Koppel die konteks aan die leefwêreld van die leerders

Gebruik bostaande konteks om die “tienerbywoord” (die bywoord wat ’n modale betekenis uitdruk, oftewel bywoord van modaliteit) in die klaskamer te behandel. Vra jou leerders of hulle iemand (bv. ’n ouer boetie/sussie/niggie/nefie/vriendin) ken wat bostaande eienskappe het. Dalk het die leerder nog self dié eienskappe. Verbind die metafoor met ander woorde met die leefwêreld van die leerders in jou klas. Jy sou al die begrip “konstruktivisme” iewers in jou onderwysloopbaan teëgekom het. Dit dui daarop dat leer voortbou op leerders se bestaande kennis en ervarings (De Jager, 2014:22).

’n Bykomende voordeel om jou les op hierdie wyse te begin, is dat die onderrigstrategie “front-loading grammar” (Pierce, 2022), waarvoor ons almal (ek ingesluit) so lief is, hokgeslaan word. Hierdie strategie word gebruik wanneer jy jou les begin met ’n eksplisiete fokus op taalstrukture en -konvensies. Ons doen dit dikwels deur die les aan te kondig, byvoorbeeld “Vandag gaan ons oor die bywoord van modaliteit leer” of deur vir leerders te vra wat hulle oor bywoorde kan onthou.

Stap 2

Gee die volgende opdrag: Waarom herinner die onderstreepte woorde in die strokiesprent hier onder jou aan hierdie sussie/boetie/niggie/nefie/vriendin wat nie skroom om hulle sê te sê nie?

Figuur 1: Strokiesprent Meester geneem en aangepas Cronje (2017).

’n Moontlike antwoordsleutel:

  • Die woord “kwansuis”, “sowaar” en “darem” dui op die “stem” van die karakter wat sterk na vore kom.
    • Die woord “kwansuis” dui op die karakter wat aandui dat dit nie hy is wat sy ouma-hulle gesien het nie en dat hy hierdie gebeurtenis nogal bevraagteken.
    • Die woord “sowaar” dra die betekenis van ongeloof oor. Omdat dit die betekenis van ongeloof oordra, is dit asof die karakter nie werklik ’n vraag nie, maar meer ’n retoriese vraag (d.w.s. ’n vraag met ’n stellingswaarde) oordra, naamlik “Ek kan nie glo dat jou ouma en oupa al hulle klere uitgetrek het nie”.
    • Die woord “darem” kommunikeer die persoon se verligting dat sy ouma en oupa ten minste hul kunstande ingehou het. Daarby bewerkstellig dit sommer ook ’n komiese effek.
    • Hier kan jy wys op dié woorde wat nie soos “vinnig” in “Hy hardloop vinnig” ’n spesifieke woord bepaal/spesifiseer (of uitbrei) nie, maar wel die inhoud van die hele sin.

 Lesfase 2: ontwikkeling

Stap 3

Hierna kan die onderwyser voortbou op hierdie kennis deur die leerders self hierdie tipe bywoorde, die “tienerbywoorde” met ’n duidelike houding, te laat identifiseer en hul keuse te motiveer. Vra vrae soos “By watter woord kom die stem van die skrywer duidelik na vore?”, met ander woorde “Watter woorde oortuig jou, wek twyfel of wys hoe die skrywer voel?”.

Natuurlik moes jy die geluid gehoor het. Miskien het ek dit gehoor. Jy het dit definitief gehoor.
Ek het dit altemit nie gehoor nie. Dit was beslis hard genoeg. Daar skort vermoedelik iets met jou ore.
Ongelukkig kan ek niks daaraan doen nie. Die geluid het onverklaarbaar verdwyn. Oënskynlik hoor jy mos alles.

Tabel 1: Aktiwiteit vir die herkenning van bywoorde van modaliteit (vertaal en aangepas uit Lury, 2017)

Die antwoorde van die leerders gaan wissel, maar gebruik die volgende as vertrekpunt:

  • In die sin “Natuurlik moes jy die geluid gehoor het”, word die tienerbywoord “natuurlik” gebruik om aan te dui dat iets in ’n hoë mate duidelik is, en daarom vir die leser duidelik behoort te wees.
  • In die sin “Jy het dit definitief gehoor” en “Dit was beslis hard genoeg” dui die woord “definitief” en “beslis” daarop dat daar géén twyfel oor die genoemde saak moet wees nie. Hierdie woorde word dus ingespan om te oortuig of te verwys na die sekerheid van die skrywer. Die onderneming ten opsigte van die waarheid word versterk.
  • In die sin “Miskien het ek dit gehoor” dui die woord “miskien” op ’n stelling wat as ’n moontlikheid uitgedruk word. So ook word “altemit” en “vermoedelik” op dieselfde wyse gebruik. Die woord “oënskynlik” in die sin “Oënskynlik hoor jy mos alles” dui ook op die spreker se bevraagtekening van die moontlikheid dat die ander persoon wel alles hoor, aangesien dit beteken ‘wat lyk asof …, hoewel dit nie noodwendig die geval is nie’.
  • In die sin “Ongelukkig kan ek nou niks daaraan doen nie” dui die woord “ongelukkig” op die oordeel van die skrywer, met ander woorde hoe die skrywer oor die saak voel. Dit geld ook vir “onverklaarbaar”. Vergelyk die onderstaande parafrase van die sinne:
    • “Ongelukkig kan ek niks daaraan doen nie.” < “Ek kan nou niks daaraan doen nie, en dit maak my ongelukkig.”
    • “Die geluid het onverklaarbaar verdwyn.” < “Die geluid het verdwyn, en dit is onverklaarbaar.”
  • In die sin “Oënskynlik hoor jy mos alles” kan die woord “mos” kan geïnterpreteer word as inligting wat bekend is of bekend behoort te wees – iets wat die oordeel van die skrywer is.

Stap 4

Stel nou die definisie van die term “bywoord van modaliteit” – soos wat dit op skoolvlak gebruik word – tesame met ’n definisie bekend. Ek gee ’n paar definisies waaruit jy vir jou bepaalde graadgroep kan kies, maar dalk het die handboek wat jy tans gebruik reeds ’n goeie definisie hiervoor.

  • ‘n Bywoord wat die betekenis van modaliteit uitdruk, kan gebruik word om inligting oor die mening van die spreker/skrywer oor te dra. Dit kan verwys na hoe seker die spreker/skrywer is oor die stelling wat in die sin gemaak word. Is dit ‘n feit of ‘n vermoede? Daar kan ook met hierdie tipe bywoorde uitdrukking gegee word aan die spreker/skrywer se subjektiewe emosie of evaluering rakende die inhoud van die sin. Dit gee dus te kenne hoe gebeure in die sin beskou of waargeneem word (Fouché et al., 2021).
  • “Modal adverbs are used to show what the speaker believes about what they are saying, to show their attitude. […] They are persuasive, evasive and, in some hands, dangerous” (Lury, 2017).
  • “Dit druk die werklikheid al dan nie uit van wat in ʼn sin beweer word. Dit druk die spreker se houding of waardering uit. Dit dui sekerheid, onsekerheid of twyfel aan” (Departement van Basiese Onderwys, n.d.).
  • “Bywoorde van modaliteit en die meeste byvoeglike naamwoorde is emotiewe taal wat mense wil oorreed of wil manipuleer” (Anker et al., 2012).

Stap 5

Laat die vet gedrukte woorde in die tabel weg, en vra vir die leerders hoe die betekenis vir hulle verander het. In die sin “Ek kan niks daaraan doen nie”, bring die weglating van “ongelukkig”, na my mening, mee dat die persoon hard na vore kom. Geen emosie word tydens die uiting uitgedruk nie. Dit sal natuurlik wys wees om ’n teks te gebruik en nie met gedekontekstualiseerde sinne soos dié wat ek voorstel te werk nie, aangesien die KABV spesifiseer dat daar teksgebaseerd te werk gegaan moet word.

  • Lesfase 3: konsolidasie

    Die lesinhoud moet volgens Lawrence et al. (2014:213) gekonsolideer word. Vergelyk die volgende aanhaling van Lawrence et al. (2014:213) redeneer dat die konsolidasiefase moet fokus op die fisiese gebruik van die taalstruktuur: “So word die taalstruktuur verinnerlik en word daar nie net seker gemaak dat leerders dit kon hoor en sien nie, maar ook nou kan skryf en aanbied.”

Stap 6

Afhangend van die ouderdom van die leerders in jou klas is sosialemediabeïnvloeders (of “influencers”) dalk ’n geskikte tema.

  • Verduidelik dat sosialemediabeïnvloeders mense is met ’n groot gevolg op sosialemediaplatforms en die vermoë om mense se menings of koopgewoontes te beïnvloed.
  • Die leerders moet in groepe verdeel. (Die grootte hang uiteraard van die aantal leerders in jou klas af.) Hulle moet ’n kort teks skryf wat op sosialemediaplatforms sou kon verskyn, waardeur hulle poog om iemand oor enige onderwerp wat vir hulle belangrik is, te beïnvloed.
  • Ten minste vyf van bywoorde wat die betekenis van modaliteit kommunikeer, moet in die teks ingesluit word. Gebruik die woordwolk aan die einde van die blog.
  • Die stukkie teks moet voorgedra word, asof die leerders sosialemediabeïnvloeders is, hetsy deur middel van ’n voorafopname wat elektronies ingedien word, of ’n rolspel in die klas. (Dit hang van die beskikbaarheid van digitale toestelle en data af, sowel as die voorkeur van die onderwyser.)
  • Die rolspel/video moet vergesel word van ’n paragraaf waarin die leerders aantoon waarom hulle die gekose bywoorde ingesluit het.

Gevolgtrekking

Ek hoop dat hierdie lesuiteensetting ’n alternatiewe en hopelik kreatiewe blik bied op die onderrig van die bywoord wat die betekenis van modaliteit kommunikeer (oftewel die bywoord van modaliteit). Miskien sal die les deur leerders geniet word.

Onthou dat die vasstel van bywoorde se betekenis baie subjektief is (vergelyk Biber et al., 2018:385). Woorde in die blog wat ek as bywoorde van modaliteit geklassifiseer het, kan jy dalk as wyse of graad reken. Vergelyk die onderstaande meem wat jy dalk in jou klaskamer kan gebruik om hierdie punt te illustreer.

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

Bronnelys

Anker, J., Vermaak, A., Banda, C., Du Plessis, S., Du Toit, E., Gouws, R., Hugo, J., Janse van Rensburg, C., Julies, G., Le Cordeur, M., Nel, M. & Jansen van Nieuwenhuizen, I. 2012. Platinum Afrikaans Huistaal Graad 11 Leerderboek.  Kaapstad: Maskew Miller Longman.

Cronje, D. (@Meester). 2017. Kan jy glo? Die polisie het laas nag by ouma en oupa betrap. https://www.facebook.com/Meester-526907010657770/?ref=page_internal Datum van toegang: 15 September 2022.

De Jager, T. 2014. General Subject Didactics. Pretoria: Van Schaik.

Departement van Basiese Onderwys. n.d. Afrikaans Huistaal Graad 12 Hersieningsgids. http://taalarsenaal2.yolasite.com/resources/MTG%20HT%20HERSIENINGSGIDS.pdf Datum van toegang: 14 September 2022.

Fouché, N., Kapp, S., Pilon, S., Luther, J. 2021. Bywoorde. Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FBywoord%2FAAG_Woordsoort_ADV_Inleiding.html Datum van toegang: 15 September 2022.

Lawrence, D.. Le Cordeur, M., Van der Merwe, L., Van der Vyver, C. & Van Oort, R. 2014. Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril. Kaapstad: Oxford University Press.

Lury, J. 2017. Understanding and Teaching Grammar in the Primary Classroom Subject knowledge, ideas and activities. New York: Routledge.

Pearce, L. & Aarts, B. 2022. What to avoid! Future Learn. Online course: University College London. (Study notes, Teaching English Grammar in Context).