• Teen die ouderdom van drie jaar het ’n kind se brein reeds die meeste verbindings gevorm wat leer, gedrag en emosionele regulering beïnvloed.
• Vroeë ervarings speel ’n bepalende rol. Wat ’n jong kind beleef, bou die neurale netwerke (breinpaadjies) wat sy toekomstige akademiese potensiaal, sosiale lewe en probleemoplossingsvaardighede vorm.
Belangrike realiteite
Die besonderse band tussen ouer-en-kind plaas die ouer in ‘n sleutelposisie. Kinders wat gedurende hierdie kritiese tydperk saam met ’n ouer by die huis bly, beleef ’n ideale omgewing. Die daaglikse gefokusde interaksie, konstante roetines, en emosionele ondersteuning is geweldig waardevol.
Meer nog, ontdekking wat onder ouerleiding plaasvind lê unieke patrone vas wat spanning help reguleer en kinders se geheue versterk.
Die oomblikke wat kinders beleef lyk heel gewoon — maar dit bou die grondslag vir lewenslange bevoegdheid
Tydens die eerste drie jaar ontwikkel kinders se breine op ’n wonderlike en doeltreffende wyse.
Die rol van voorskoolse instansies
Dieselfde ervarings kan natuurlik ook by ’n voorskoolse instansie geskep word, waar kundige versorgers ondersteuning bied wat met dié van ’n ouer ooreenstem.
Een-tot-een aandag is egter deurslaggewend om so ‘n omgewing te verseker. Dit verg baie goeie organisasie, sodat die versorgers waarlik die geleentheid kry om kwaliteit aandag aan individuele babas en peuters te gee.
Die belegging is die moeite werd
Kinders floreer wanneer hulle liefde en omgee ervaar, veilig voel, gereeld gesels met die sleutel-volwassenes in hul lewens, en die kans kry om na stories te luister.
Dis hoe hulle emosionele stabiliteit ontwikkel en toegerus word om makliker te leer, praat en ontdek. Al hierdie faktore gee kinders se potensiaal ’n merkbare hupstoot.
Groete, Wilna van Rooyen

