Daar bestaan die wanpersepsie op skoolvlak dat “hoofwerkwoord” ’n sinoniem vir “selfstandige werkwoord” is. In hierdie blog word hierdie wanpersepsie uit die weg geruim deur op die twee soorte hoofwerkwoorde te fokus.
Maar kom ons kyk net weer vir ’n oomblik na die metafoor wat in die titel van die blog voorkom. Waarom sê ek dat die hoofwerkwoord die hoofmeisie en -seun van die sin is?
- Die hoofmeisie en -seun is die leerlingraadslede wat die grootste verantwoordelikheid het om dissipline onder die leerders te handhaaf. So ook het die hoofwerkwoord die belangrike verantwoordelikheid om aan te dui of ’n toestand, oftewel manier van wees ( “Hulle lyk kwaad”), of ’n handeling, oftewel ’n situasie wat gedurig verander en vorder (bv. “Die meisie lees ’n boek”), in die sin uitgedruk word.

- Die hoofmeisie en -seun ontvang hulp vanaf die ander leerlingraadslede; tog bly hulle in beheer. Net so is die hoofwerkwoord die werkwoord wat in beheer is, al word dit saam met ander werkwoorde gebruik om ’n bepaalde betekenis oor te dra. Dit is in beheer, omdat dit op sy eie in die sin kan staan én oorbly wanneer al die ander werkwoorde weggelaat word. Lees die volgende voorbeelde, en kyk watter werkwoord oorbly:
- “Die professor het die moeilike begrip probeer beklemtoon.” > “Die professor probeer die moeilike begrip beklemtoon.” > “Die professor beklemtoon die moeilike begrip.”
- “Ek het siek geword.” > “Ek word siek.”
Daar is twee soorte hoofwerkwoorde, naamlik leksikale hoofwerkwoorde en koppelwerkwoorde.


Selfstandige werkwoorde is inhoudswoorde, en inhoudswoorde is woorde wat geen ander sinsdeel benodig om die betekenis daarvan te voltooi nie. Waarom benodig hulle geen ander sinsdeel nie? Want hulle druk ’n konkrete betekenis uit, ’n bepaalde konsep word daarmee geassosieer. Byvoorbeeld, die selfstandige werkwoord “sing” vereis geen ander sinsdeel om die betekenis ‘musikale note met jou stem voortbring’ te kommunikeer nie. Ál die vet gedrukte werkwoorde hier onder is selfstandige werkwoorde:
- “Die baba kruip oor die ”
- “Hy het die plantjies natgelei.”
- “Die dam se walle het oorspoel.”
- “Die vrou het haar kollega aangegluur.”
Ons onderskei tussen vier soorte selfstandige werkwoorde:
- Selfstandige werkwoorde wat onoorganklik gebruik word (oftewel onoorganklike hoofwerkwoorde). Dit is selfstandige werkwoorde wat sonder ’n direkte objek in ’n sin gebruik word en dui op ’n handeling wat voortduur, byvoorbeeld “Sy slaap”, “Die bye zoem” en “Hy sit”.
- Selfstandige werkwoorde wat oorganklik gebruik word (oftewel oorganklike hoofwerkwoorde). Dit is selfstandige werkwoorde wat saam met ’n direkte objek (oftewel direkte voorwerp) gebruik word, dit wil sê ’n sinsdeel wat in die plek van X in direkte hoofwerkwoord X staan en verwys na wie/wat deur die handeling direk geraak word.
- Oorganklike hoofwerkwoorde kan saam met ’n direkte objek gebruik word, waar die direkte objek nie dieselfde persoon is as die een wat die handeling uitvoer nie (soos in “Sy lees ’n boek”). Dan is dit ’n gewone oorganklike hoofwerkwoord.
- Oorganklike hoofwerkwoorde kan saam met ’n direkte objek gebruik word, waar die mens, dier of ding wat die handeling uitvoer dieselfde handeling ondergaan, byvoorbeeld “Hy bekommer hom” en “Ek sny my met die mes”. Dan is dit ’n wederkerende hoofwerkwoord, steeds ’n oorganklike hoof (i) So ’n werkwoord kan gebruik word in ’n sin waar die handeling áltyd oorgaan op dieselfde persoon as die een wat die handeling uitvoer (soos in die voorbeeld “Hy bekommer hom”). Ons kan immers nie “hom” met iets soos “haar” vervang nie. (ii) So ’n werkwoord kan ook in ’n sin voorkom waar die handeling toevallig oorgaan op dieselfde persoon wat die handeling uitvoer (soos in “Ek sny my met die mes”), waar “my” ook deur byvoorbeeld “die brood” vervang kan word.

- Selfstandige werkwoorde wat dubbeloorganklik gebruik word (oftewel dubbeloorganklike hoofwerkwoorde). Dit is selfstandige werkwoorde wat saam met ’n direkte én indirekte objek gebruik word, soos in “Die agent wys die koper (indirekte objek) ’n huis (direkte objek)”.

- Selfstandige werkwoorde wat onpersoonlik gebruik word (oftewel onpersoonlike hoofwerkwoorde). Dit is selfstandige werkwoorde wat op een of ander weerstoestand of bonatuurlike toestand dui én saam met die voornaamwoord “dit” (wat die subjek of onderwerp van die sin is) gebruik word. Tipies sal onpersoonlike hoofwerkwoorde saam met bywoordelike bepalings (onderstreep) gebruik word, byvoorbeeld “Dit sous vanaand” en “Dit reën kliphard”.

Koppelwerkwoorde roep nie ’n beeld op wanneer hulle op hul eie gebruik word nie. Wanneer net “is” gebruik word (bv. *“Sy is”), verstaan ’n mens nie watter betekenis “is” uitdruk nie, maar
sodra ’n sinsdeel daarná gebruik word (bv. “Sy is [mooi]”), begryp ’n mens dat hierdie
werkwoord op ’n toestand (’n manier van wees) dui. Koppelwerkwoorde benodig daarom ’n sinsdeel daarná. Daar is nog ’n belangrike rede waarom ’n koppelwerkwoord ’n sinsdeel daarná kort. Dink gou aan die woord “koppelwerkwoord”. Hierin word “koppel” gebruik. Dit koppel ’n eienskap (uitgedruk deur die sinsdeel daarná) aan dít waarna die subjek (onderwerp) van die sin verwys.

Die koppelwerkwoord is met ander woorde die skakel tussen die subjek en ’n ander sinsdeel. Ons kan net sowel in die koppelwerkwoord se plek ’n gelykaanteken gaan gebruik:
- “Die man = ’n ”
Let op dat die sinsdeel “’n dokter” nie net die naamwoord (selfstandige naamwoord) “man” bepaal nie, maar die hele subjek.
Hier is voorbeelde van koppelwerkwoorde (in vetdruk) wat ’n eienskap (uitgedruk deur die sinsdeel daarná) aan dit waarna die subjek verwys, koppel:
- “Louise bly ’n pragtige jong dame.”
- “Die dam bly vol.”
- “Gideon is ’n entrepreneur.”
- “Die hondjie is mooi.”
- “Die kind word groot.”
- “Die ongeluk was ’n angswekkende ervaring.”
- “Die staking blyk iets van die verlede te wees.”
- “Die vrou lyk kwaai.”
- “Ons raak moeg.”
- “Die koek smaak lekker.”
- “Die materiaal voel sag.”
- “Hy heet Frances.”
- “Die klavier klink vals.”
- “Die pak klere kom oud voor.” [Dit is die enigste koppelwerkwoord wat geskei kan word en daarom op vormvlak ’n deeltjiewerkwoord is. Die soort werkwoord bly ’n koppelwerkwoord, maar ons spesifiseer sy vorm as ’n deeltjiewerkwoord.]
Dan, sekerlik een van die grootste foute wat in onderrigmateriaal gemaak word, is om
deeltjiewerkwoorde as ’n soort werkwoord te ag. Dit is bloot die vorm wat ’n hoofwerkwoord kan hê. Dink maar aan die werkwoord “feesvier”. As ons dit as ’n soort werkwoord moet
klassifiseer, sal ons dit ’n selfstandige werkwoord noem, want die werkwoord het selfstandige betekenis. Maar as ons na sy vorm kyk, sien ons dat die werkwoord deur ander woorde geskei kan word (bv. “Hy hou daarvan om elke jaar fees te vier”) en morfologies deur “-ge-” in die
verlede tyd geskei word (bv. “Op Nuwejaarsdag word orals feesgevier”). Dink ook aan die werkwoord “voorkom”. As ons dit as ’n soort werkwoord moet klassifiseer, sal dit ’n koppelwerkwoord wees. Vormlik is dit egter ook ’n deeltjiewerkwoord, want ons sê “Dit kom werklik voor as die waarheid” en “Dit het voorgekom as die waarheid”.
Vir die verskil tussen oorganklike en onoorganklike hoofwerkwoorde kan dié hulpmiddel gebruik word.
Ek hoop jy verstaan nou dat twee werkwoorde (selfstandige werkwoorde en koppelwerkwoorde) balkies dra.
Vriendelike groete
Nadine Fouché-Karsten
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys
Brink, N. & Erasmus, C. 2021. Leksikale hoofwerkwoorde. Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. Datum van toegang: 26 Maart 2025. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FWerkwoord%2Faag_woordsoort_v_soorte_hoof_leksikaal.html
T.J.R., Botha (red). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. 2de hersiene uitgawe. Pretoria: Academica.
Taalversorging
Maureen van Helden