ViVA

Die klikkiebek van Afrikaans

Deur ViVA Blog

Die indirekte rede kan as die klikkiebek van Afrikaans beskou word, want hierdie vorm van die sin word gebruik wanneer iemand anders se woorde oorvertel word.

Die gebruik van die indirekte rede op skoolvlak word gekenmerk deur omsettingsreëls (vgl. Kapp 2023; Parrot 2004:257). Byvoorbeeld, in ’n Engelse bron, soos die Oxford Modern English Grammar (Aarts 2011) word aangedui dat die werkwoord “terug moet skuif” (“backshift”) na ’n ander tydsvorm, byvoorbeeld vanaf die teenwoordigetydsvorm (soos in I no longer love you ) na die verledetydsvorm (soos in Then the next day he said that he no longer loved me). Sulke omsettingsreëls word ook waargeneem in skoolmateriaal van die vak Afrikaans, soos die Mind the Gap-hersieningsgids (DBO s.j.:29), waarin byvoorbeeld aangedui word dat voornaamwoorde en bywoorde moet verander.

  1. Wat sê die algemene vakliteratuur?

Larsen-Freeman en Celcia-Murcia (2015:735) verduidelik dat tydsuitdrukkings soos tomorrow afgewissel kan word met the next day “depending on the relation of the time of the original utterance to the time of reported utterance”. Hierdie taalkundiges dui dus daarop die verhouding tussen die tyd wat die persoon se woorde oorvertel word (d.w.s. die tyd van die oorvertelling) en die tyd wat hierdie woorde geuiter is (d.w.s. die uitingstyd) bepaal watter veranderinge aangebring moet word.

Veronderstel dat iemand die volgende gesê het: Ek vlieg môre Johannesburg toe. Die persoon het hierdie woorde byvoorbeeld op 30 Oktober gesê, en die persoon vir wie dit vertel is, vertel dit op dieselfde dag, 30 Oktober, oor. Die rapporteerder se môre is dus dieselfde as die spreker s’n. In so ’n geval maak dit sin dat môre deur die rapporteerder gebruik word. Maar indien dié woorde 1 November oorvertel word, kan môre nie gebruik word nie, want die oorspronklike spreker se môre (31 Oktober) en die rapporteerder se môre (2 November) stem nie meer ooreen nie. In so ’n geval behoort die volgende dag deur die rapporteerder gebruik te word. Waarom? Die verteller se toekoms is nou vir die rapporteerder ’n toekoms-in-die-verlede (“future-in-past”), daarom kan dieselfde tydsaanduidende woord nie gebruik word nie.

Dieselfde beginsel rakende die keuse van plekuitdrukkings geld ook (Quirk et al. 1985:1029). As die plek waar die rapporteerder die boodskap oorvertel dieselfde is as die plek waar die spreker die oorspronklike boodskap geuiter het, kan dieselfde plekaanduidende uitdrukking gebruik word. Larsen-Freeman en Celcia-Murcia (2015:736) sê ook “[i]f the two places remain identical, then there is no shift; if they lack identity, there is a shift”. Vergelyk die volgende voorbeeld:

Direkte rede Indirekte rede: plek is dieselfde Indirekte rede: plek is verskillend
“Ek maak al die heeldag hierdie kamer / hier skoon.” Sy sê dat sy al die heeldag hierdie kamer / hier skoonmaak. Sy sê dat sy al die heeldag  daardie kamer / daar skoonmaak.

 

Konteks speel daarom ’n belangrike rol. Vergelyk die volgende Engelse sin waar die inleidende werkwoord (“reporting verb”) in die verlede tyd is, hoewel die voornaamwoord “this” nie na “that” verander nie.

  • Smith predicted that no school budget cuts would occur during this

Hoewel die inleidende werkwoord in die verlede tyd is, is die resessie steeds ter sprake, en daarom word die voornaamwoord “this” gebruik.

 

  1. Wat sê vakadviseurs?

Om te bepaal of konteks relevant is in die skoolkurrikulum wanneer tydsaanduidende en plekaanduidende uitdrukkings in die indirekte rede gebruik moet word, is twee vakadviseurs genader. Anita Vogel is ’n vakadviseur van die Intermediêre en Senior Fase vir die Lejweleputswa Distrik in die Vrystaat, en Monica Potgieter is die vakadviseur van die VOO-fase vir die Gautengdistrik.

Anita Vogel sê:

“Ons leer die kinders dat die tydsbywoorde verander. Brei elke jaar bietjie uit daarop en leer meer woorde aan. Dit maak nie sin om dit nie vir hulle te leer nie, want op die ou end moet hulle dit in die hoërskool kan doen.” (Vogel 2023)

Monica Potgieter sê:

“Die tye in die indirekte rede verander. Ek verduidelik dit altyd aan die hand van ‘skinder’. ’n Persoon kan op enige stadium skinder, daarom kan jy byvoorbeeld nie verwys na ‘gister’ nie. Dit kon die vorige dag gewees het of selfs weke/maande/jare gelede.” (Potgieter 2023)

Hieruit is dit dus duidelik dat tydsaanduidende en plekaanduidende uitdrukkings onmiddellik verander moet word.

 

  1. Hoe versoen ons die siening in die vakliteratuur met dié van vakadviseurs?

As dit die uitgangspunt op skoolvlak is, behoort opdragte oor die indirekte rede van ’n konteks voorsien te word, sodat dit vir leerders duidelik is wáárom bepaalde tydsaanduidende/plekaanduidende woorde móét verander. Dalk word ’n konteks reeds geskep deurdat die inleidende werkwoord in baie tipiese skoolhandboeksinne in die verlede tyd aangedui word, byvoorbeeld Hy het gesê … Hoewel ek dit nog nooit pertinent raakgelees het nie, is dit moontlik dat skoolhandboeke eintlik deur middel van die verledetydsvorm van die werkwoord aandui dat daar ’n verskil is in tyd tussen die oorspronklike uitingstyd en die rapporteringstyd (en ook tussen die plek waar die uiting plaasgevind het). Die wysiging van tydsaanduidende en plekaanduidende woorde kan reeds duideliker en minder meganies gemaak word deur op dié funksie van die verledetydsvorm van die werkwoord te wys. Die vraag is of ek wel reg redeneer, en indien wel, of hierdie stukkie “konteks” aan die leerders gekommunikeer word.

Hierdie stukkie inligting oor die inleidende werkwoord kan gekombineer word met ’n eksplisiete konteks wat vir die leerders geskep word. Hier onder gee ek twee voorbeelde van so ’n konteks: ’n konteks wat vir ouer leerders geskep word met meer woorde en ’n konteks wat deur middel van ’n strokiesprent geskep word.

Vergelyk die volgende voorbeeld uit Fouché et al. (2021) wat ek effens aangepas het. Dit is geskik vir ouer leerders.

 

Jaap is besig om by die Fransen Hotel die tuine netjies te kry wanneer hy ’n pragtige dame, wat hom onmiddellik van Jony laat vergeet, sien. Hy stel ’n vraag aan die dame: “Wil jy môre saam met my ’n melkskommel gaan drink?”

Jony, wat ook by die Fransen Hotel werk, hoor dit. Sy is so bly dat Jaap iemand anders gekry het oor wie hy moontlik beenaf kan wees, en sy vertel dit vir haar vriendin die volgende dag oor WhatsApp. Sien die volgende WhatsApp-boodskappe wat tussen Jony en haar vriendin, Janine, uitgeruil is.

Maak of jy Jony is, en vertel hierdie boodskap oor, deur die sin by 11:25 te voltooi.

Vir jonger leerders is strokiesprente dalk ’n geskikte tekskeuse, omdat die plek waar handelinge plaasgevind, asook die tydsverloop van gebeure, op verskillende maniere (skriftelik en visueel) uitgebeeld kan word. In die onderstaande strokiesprent kan die leerders die spraakborrel van Jakkalsie voltooi met … dat sy die boer die vorige dag gehelp het om van plantvretende peste ontslae te raak. Dit is duidelik dat gister nie deur Jakkalsie gebruik kan word nie. Waarom nie? Jakkalsie vertel Lieweheersbesie se woorde Dinsdagoggend oor, en sy gister is dus Maandag. Lieweheersbesie se gister, daarenteen, is Sondag. Daarom is Jakkals se gister nie dieselfde as Lieweheersbesie s’n nie en moet ’n ander woord gebruik word. Binne skoolhandboeke is die vorige dag die konvensie. Weereens sal dit tegnies nie verkeerd wees, indien die leerder Sondag in plaas van die vorige dag sou skryf nie, want dit is immers die dag wat Lieweheersbesie die boer gehelp het. In hierdie verband haal ek Kapp (2018) aan: “Taalgebruikers moet in die ‘regte lewe’ tekste kan genereer, en hulle moet weet hoe dialoog, tyd en bywoordelike bepalings in verskillende soorte tekste hanteer word.” Indien leerders dan Sondag in plaas van die vorige dag gebruik, het hulle, in ooreenstemming met Kapp (2019), ’n teks gegenereer waar tyd korrek hanteer is.

Kom ons keer nou terug na spraakproduksie. Bo-op jou lugpyp waardeur die lug vloei, is daar ’n soliede raamwerk wat uit ’n klomp kraakbeentjies en spierweefsel bestaan. Hierdie struktuur noem ons die “strottehoof”. Jou adamsappel behoort vir jou ’n aanduiding te wees van waar die strottehoof geleë is. Die strottehoof waarin die stembande voorkom, is die oond waarin die klanke begin vorm kry. Kyk na die beeld van die strottehoof hier onder, en klik op dié skakel om te sien hoe die stembande lyk. Die lug wat deur die lugpyp (of trachea) voorsien word, pers deur die stembande wat herhaaldelik oop en toe maak. Dit skep pulse van lug (met ander woorde klein hoeveelhede lug) wat herhaaldelik deur die stembande ontsnap. Dié lug word getransformeer tot stemhebbende klanke – klanke wat gevorm word deur die stembande wat tril. Ander kere vibreer die stembande weer nie. Die stembande maak met ander woorde nie herhaaldelik oop en toe nie, en pulse van lug kan nie daardeur ontsnap nie. Ons sê dat stemlose klanke geskep word.

4. ’n Laaste gedagte

Van Schoor (1983:343) maak ’n belangrike opmerking dat die direkte en die indirekte rede eintlik stilistiese kwessies is, hoewel ons grammatikale hulpmiddele, soos spesifieke leestekens vir die direkte rede en die gebruik van dat vir die indirekte rede, gebruik om hulle te merk. Die volgende tabel kan gebruik word om ons leerders net weer bewus te maak van die stilistiese verskil tussen direkte en die indirekte rede.
Direkte rede Indirekte rede
Die direkte rede is iemand se presiese woorde in gesproke of geskrewe kommunikasie.

Omdat iemand se presiese woorde gebruik word, is die direkte rede persoonliker en meer onmiddellik.

Dit word gebruik wanneer ons wil fokus op die woorde van die spreker/skrywer.

Dit word ook gebruik wanneer die skrywer groter lewendigheid en dramatiese krag aan die vertelling wil verleen.

Dit voorkom dubbelsinnigheid. Vergelyk die dubbelsinnige indirekte rede met die kombinasie van die indirekte rede met die direkte rede om dubbelsinnigheid te voorkom.
• Volgens die ontvangspersoon by die casino het meneer Ashton gesê die jong vrou met die uitlokkende laehalsrok by hom is sy vrou. [Wie sê sy het die laehalsrok aan: meneer Ashton of die ontvangspersoon?]
• Die ontvangspersoon by die casino het gesê dat meneer Ashton die jong vrou as sy eggenote voorgestel het. Die casionowerknemer het bygevoeg: Sy het nogal ’n uitlokkende laehalsrok aangehad.”

Die indirekte rede is die rapporteerder se interpretasie van iemand se woorde. Dit rapporteer slegs iemand se woorde.

Omdat die indirekte rede nie iemand se presiese woorde is nie, die indirekte rede meer verwyderd en minder persoonlik.

Wanneer ons nie belangstel in die woorde wat iemand gekies het nie, maar in die inligting wat oorgedra is, gebruik ons die indirekte rede.

Die gebruik van die indirekte rede kan die kleur van ’n vertelling verflou. Lees die volgende twee sinne waarvan die eersgenoemde in die direkte rede betrek en die tweede die direkte rede.
• Stofberg lyk effens verbaas. Na ‘n rukkie se hy aan sy hoof dat hy nie van so ’n lêer weet nie. Die sekretaris frons. Hy stel dit aan Stofberg dat hy miskien daarvan vergeet het; dis ’n maand vantevore na hom toe gestuur.
• Stofberg lyk effens verbaas. “Ek weet nie van so ’n lêer nie, meneer,” sê hy na ’n rukkie. Die sekretaris frons. “Miskien het u vergeet – dis ’n maand gelede na u toe gestuur.”

VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten
Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

Bronnelys
Aarts, B. 2011. Oxford Modern English Grammar. Oxford: Oxford University Press.
Faasen, F. 2018. Pharos Afrikaansgids. Kaapstad: Pharos Woordeboek.
Fouché, N., Pedro, M. & Van der Merwe, M. 2021. Gefokusde take in die Afrikaans Huistaal-klaskamer vir die kommunikatiewe onderrig van Afrikaansgrammatika: ’n eerste verkenning. LitNet Akademies, 18(3): 500-537.
Kapp, S. 2019. Direkte en indirekte rede: ’n gedwaal in die duister. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/blogs-grammatika/item/446-direkte-en-indirekte-rede-n-gedwaal-in-die-duister Datum van gebruik: 4 Desember 2023.
Larsen-Freeman, D. & Celcia-Mercia, M. 2016. The grammar book: Form, meaning and use for English language teachers. Boston: National Geographic Learning.
Potgieter, M. 2023. Die verandering van tydsbywoorde in die indirekte rede [e-poskorrespondensie]. 25 Aug.
Quirk, R., Greenbaum, S., Leech, G. & Svartvik, J. 1985. A comprehensive grammar of the English language. London: Longman.
Vogel, A. 2023. Tydsbywoorde in die indirekte rede [WhatsApp-korrespondensie]. 23 Aug.