Uit Wilna se pen

Die kunste, die toekoms en KI

Deur Wilna van Rooyen

Ons gesels graag oor die wêreld van kodering en robotika, asook ander vakke en dit is belangrik vir die toekoms van kinders.  Dit is egter ook belangrik om aandag te gee aan alle aspekte van kinders se ontwikkeling, om hul op alle vlakke kognitief te stimuleer.

Die kunste, die toekoms en KI

Die kunste is wêreldwyd in gedrang in die onderwysomgewing.  Akademiese vakke kry baie aandag, wat natuurlik so hoort, maar die kunste behoort ingesluit te word by alle beplanning.

KI gaan fisiese kodering binnekort oorbodig maak. Al wat mens nodig sal hê om te doen, is om te sê wat jy nodig het om gekodeer te word, dan sal KI dit kodeer en selfs foute korrigeer. Die proses sal boonop baie vinniger wees as wat enige mens dit kan doen. 

Sal mense vorentoe nog vir die plesier daarvan per hand kodeer?  Miskien sal daar ‘n paar mense wees wat dit graag sal wil doen.  As ons praat van om mense se harte aan te raak en die brein te organiseer, sal daar mense wees wat byvoorbeeld klavier speel vir die genot daarvan, want as mens met die hande skep, word Dopamien afgeskei, wat die mens goed laat voel.

Heel dikwels word die liefde vir die hantering van een of ander musiekinstrument gedurende die laerskooljare ontwikkel.  Die hantering van ‘n musiekinstrument vir die bevrediging van die kunstenaarshart is onontbeerlik.

Alle studies oor die onderwerp dui aan dat kinders wat musiekinstrumente bespeel, akademies beter vaar.  Hul breine is op ‘n hoër vlak georganiseer en daarom vaar hul beter op akademiese vlak. 

Tegnologie en kodering kan nie die waarde van bogenoemde vervang nie.  Die hantering van musiekinstrumente kan wissel van om met dromme te speel, blokfluit te speel, klavier of enige ander melodiese instrument te bespeel, of selfs net musiek met behulp van slaginstrumente te vertolk.

Die belangrikheid van die belewing van musiek en ander kunste op skoolvlak kan nie oorbeklemtoon word nie en behoort in besonder aandag te kry om volronde leerders te vorm.

Mag ons in ons skole en huise genoeg ruimte skep vir kinders om met musiek te doen te hê, te beweeg op die maat van musiek en die ritme daarvan met hul lywe of een of ander instrument te vertolk.

Baie dankie!

Vriendelike groete.

Wilna van Rooyen

 

Lees gerus verder oor die onderwerp:

www.awarenessact.com