Die neem van register in kleuterskole of speelgroepe.
Dit is baie belangrik vir elke onderwyser in die voorskoolse fase om elke dag register te neem. Dit gee die onderwysers geleentheid om vas te stel of die kind teenwoordig is, gesond is en wat die gemoedstoestand van elke kind is. Dit gee geleentheid vir kinders om voor hul maatjies verbaal te reageer op ‘n vraag, wat hul selfvertroue en selfbeeld ‘n hupstoot gee. Dit kan egter ‘n vervelige aksie word, wat net so gou as moontlik agter die rug gekry moet word. Dit kan ook ‘n leersame geleentheid vir onderwyser en kind wees, as daar moeite gedoen word om inligting oor die kind in te win, in plaas van om net as ‘n aftiklys hanteer te word.
Wenke vir die neem van register:
In plaas van om elke dag net te vra: “Is Rina hier?” kan die volgende dien as interessante alternatiewe:
- Vra die naam en die van en die kind moet reageer.
- Vra net die van: is die jonge mnr. Pieterse hier, of die jonge juffrou ……
- Is die kind van Piet en Sannie hier?
- Is die kind van mnr. en mev. Pieterse hier.
- Is die boetie van…. of sussie van…. hier?
- Wat het jy vanoggend vir ontbyt gehad?
- Van watter dier hou jy die meeste?
- Wie is jou beste maatjie?
- Waar speel jy die graagste buite?
- Waar speel jy die graagste binne?
- Vra ‘n vragie oor die tema, almal moet dan iets anders noem.
- Wat sien jy in die klas wat, rooi, blou, geel, ens. is?
- Hoe oud is jy?
- As juf. Jou naam sê, moet jy mamma se naam noem.
- As juf. Jou naam sê, moet jy pappa, boetie, sussie, hond, kat of wat ook al se naam sê – elke dag ‘n ander opdrag.
- Van watter vrugte hou jy die meeste?
- Van watter groente hou jy die meeste?
- Wat is vir jou lekker van herfs, winter, lente, somer – wat die seisoen op daardie stadium mag wees.
- Gebruik die tema, dink ‘n vragie vir elke dag oor die tema uit, vra en die kleuter moet antwoord as jy sy naam noem.
- Noem ‘n woordjie wat rym met: …..
- R: Wanneer verjaar jy?
- R: Waar bly jy?
- R: Sê ‘n woordjie wat met r, s, ….. begin.
- As juffrou jou naam noem moet jy sê of jy ‘n hondjie of ‘n kat, voëltjie of vis het, dit wil sê of jy ‘n troeteldier het en watter soort jy het.
- Watter kleur is jou toppie, broek of wat van toepassing is?
- Woordsommetjies: Vra vir elkeen ‘n eenvoudige sommetjie.
Die lys kan aansienlik uitgebrei word en die moontlikhede raak al meer interessant, hoe meer ‘n mens daaroor dink. Onderwysers kan saamspan en saam vrae uitdink wat ouderdomsgepas is vir elke groep.
Geniet die ontwikkeling van ‘n opwindende stel vrae wat van register neem ‘n avontuur maak!
Wilna van Rooyen AON