Inleiding
Die terme nasalering en vokalisering is terme wat nog op skoolvlak gebruik word. Dit word in ouer bronne soos Afrikaanse klankleer: fonetiek, fonologie en woordbou (De Villiers, 1967) gebruik, maar in resenter bronne soos Anna Coetzee se Fonetiek (Coetzee, 2017) en prof. Daan Wissing se boekhoofstuk “Fonetiek” in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (Wissing, 2017) word hierdie onderskeid nie getref nie. Daar word eerder slegs na nasalering verwys. Vokalisering is iets wat deel van hierdie proses is – iets wat hier onder duidelik na vore sal kom.
Die eienskap van vokale
Alle vokale (die klanke) soos die lang a-klank in baas word uitgespreek met die stembande wat vibreer en die lugstroom wat ongehinderd deur die mondholte vloei (Coetzee 2018:52; Wissing 2017:97). Daar is met ander woorde nie, soos by konsonante, ’n gedeeltelike of algehele afsluiting van die lugstroom nie. ’n Verdere kenmerk van vokale wat veral vir hierdie blog relevant is, is dat die lug vir vokale deur die mond beweeg (Coetzee 2018:52). Dit kan gevoel word wanneer jy jou hand voor jou mond sit en “ah” sê.
Bron van afbeelding: Mouth and mind (https://mouthandmind.com.au/speech/)
Die eienskap van nasale klanke (oftewel neusklanke – ’n term wat op skoolvlak gebruik word)
Die klanke wat voorgestel word deur die vetgedrukte letters in bang, neus en mal is almal klanke wat uitgespreek word met die lugstroom wat deur die neus ontsnap, terwyl die mondkanaal iewers versper word (Wissing 2017:120). Neem die m-klank in mal as voorbeeld. Die lugstroom word versper waar albei lippe teenaan mekaar druk (Wissing 2017:119), en die lugstroom vloei gevolglik deur die neusholte. ’n Mens kan sê dat hierdie klank deur die neuskanaal geartikuleer word. Die m-klank, ng-klank en n-klank word gevolglik nasale klanke genoem. Vergelyk die onderstaande skets ter illustrasie:
Bron van afbeelding: Shameem (2013)
Hoe pas hierdie twee dele nou by mekaar?
Wanneer ’n vokaal (byvoorbeeld die lang a-klank) gevolg word deur ’n nasale klank (byvoorbeeld die n-klank), en daardie nasale klank word gevolg deur veral ’n konsonant wat gevorm word deurdat daar friksie is (soos die s-klank), vind daar ’n wysiging van die vokaal (die klank) plaas.
Kom ons gebruik die voorbeeld gans – die dier – om die proses van nasalering te verduidelik.
Wanneer die vokaal (die lang a-klank) binne hierdie betrokke klankomgewing (vokaal-nasaal-konsonant-verbinding) voorkom, bring die feit dat dit deur ’n nasale klank gevolg word mee dat dit gelykgemaak word aan hierdie nasale klank. Ons laat sak ons velum, en sodoende ontsnap die lugstroom nou deur sowel die mond- as die neuskanaal. Dit kry met ander woorde ’n eienskap van ’n nasale klank by. In die fonetiese alfabet dui ons hierdie nuutverworwe eienskap aan met die simbool ~ wat ’n tilde genoem word. Die vokaal word nou ’n genasaleerde vokaal genoem.
Die genasaleerde vokaal bring mee dat die nasale klank, die n-klank, wat daarna uitgespreek moes word, verswak, sodat daar nie ’n volledige artikulasie van die n-klank is nie. Met ander woorde, net soos by vokale vind geen sluiting of vernouing in die mond vir die vorming van die n-klank meer plaas nie. Ons skryf gevolglik nie die [n] wanneer ons die woord in die fonetiese alfabet sou skryf nie. Na hierdie wysiging van die nasale klank word as vokalisering verwys.
Nota:
Pas op om te sê dat vokalisering die uitspraak van ’n neusklank soos ’n vokaal behels. Herformuleer dit eerder deur daarop te wys dat die nasale klank tot so ’n mate verswak dat geen obstruksie/sluiting/vernouing in die mond plaasvind nie (net soos vokale).
Wat verder gebeur, is dat die vokaal dikwels langer uitgespreek word om te “kompenseer” vir die verlies van hierdie nasale klank en om die woord se tydsduur te behou. Wanneer ons die woord gans se uitspraak met behulp van die fonetiese alfabet aandui, sal ’n dubbelpunt gebruik word – ’n indikasie van die langer uitspraak – dikwels ná die vokaal geplaas.
gans > [xã:s]
Hoe stel ons hierdie woord se uitspraak met behulp van die fonetiese alfabet foneties voor?
Gevolgtrekking
Aangesien vokalisering deel van die hele proses van nasalering vorm, is dit myns insiens nie nodig om ’n onderskeid tussen die prosesse te wil tref en gevolglik na “nasalering en vokalisering” te verwys nie. Ek besef egter dat daar wel na “nasalering en vokalisering” op skoolvlak verwys word. Tog word dit in sommige skoolhandleidings tussen hakies geplaas, byvoorbeeld “Nasalering (en vokalisering)”. Die feit dat vokalisering ook tussen hakies geplaas word, wys vir my dat daar nie eintlik tussen nasalering en vokalisering onderskei behoort te word nie, aangesien laasgenoemde omvat word deur eersgenoemde.
Vriendelike groete
Nadine Fouché-Karsten
Bronnelys
Coetzee, A.E. Fonetiek. 5de uitg. Pretoria: Van Schaik.
Venter, H. 1975. Klankverskynsels. Departement Afrikaans-Nederlands. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir CHO.
Wissing, D. 2017. Fonetiek. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., eds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik.