Die verslag van die Wêreldbank oor die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en gr. R is op 17 September 2024 vrygestel. Die verslag het ‘n hele paar aspekte uitgelig waaraan aandag gegee behoort te word. Die verslag is gemik op die Wes-Kaap, maar is beslis op die hele land van toepassing. Ons lig ‘n paar aspekte in hierdie nuusbrief uit, met eie kommentaar ingevoeg:
- Die Wes-Kaap is een van die provinsies wat besluit het om daadwerklik te investeer in onderwys om lees en Wiskunde in die grondslagfase ‘n hupstoot te gee. Wat die PIRLS-uitslae betref, het die Wes-Kaap die beste in die land gevaar en is hul uitslae beter as tydens die vorige toets, maar dit is nog laer die wêreldgemiddeld.
- Die vaslegging van lees en Wiskunde in die grondslagfase is baie belangrik, maar die ontwikkeling van voorskoolse vaardighede speel ‘n deurslaggewende rol.
- Die ontwikkeling van jong kinders is kompleks, dit sluit die kind in totaliteit in, wat omvattend is.
- Dié ontwikkeling begin vroeg – van konsepsie af. Dit is belangrik dat jong mammas by klinieke of dokters inligting sal kry oor gesonde swangerskap – dat jong mammas so ver as moontlik gesond eet, gesond drink, rus, oefen, ensovoorts, om die jong brein wat besig is om te ontwikkel die beste moontlike kans te gee. Voeding na geboorte behoort ook aandag te kry, aangesien voeding ‘n invloed op die ontwikkeling van die lyfie en brein uitoefen.
- Na geboorte is die ontwikkeling van die sintuie, die groot- en fynspiere, dit wil sê perseptueel- motoriese ontwikkeling, asook die aanhoor van taal van onskatbare waarde.
- Die verskeidenheid van aktiwiteite wat ervaar word, om die geleentheid te gee om sensories-motories te ontwikkel, emosioneel, sosiaal en normatief te ontwikkel, woordeskat en taal te ontwikkel, terwyl kreatiwiteit, kritiese denke, probleemoplossingsvaardighede, deurlopend aandag kry en die verbeelding te ontwikkel, is onontbeerlik.
- Taal speel ‘n belangrike rol. Moedertaal word verkies en dan so ‘n duidelike en korrekte voorbeeld as moontlik. (Hoe beter ‘n kind se woordeskat en taal is, hoe ‘n beter leser behoort die kind te wees en hoe meer begrip is van toepassing). Ouers behoort aangemoedig te word om die moedertaal deeglik vas te lê, sodat kinders in hul taal kan leer lees en skryf. Kinders wat in hul eie taal leer lees, leer gewoonlik makliker om ‘n tweede taal te lees. Wat Afrikaanse ouers betref, sou mens aanbeveel dat ouers kies om hul kinders in Afrikaans te laat onderrig, want hierdie kinders leer gewoonlik dan ‘n tweede of derde taal ook aan wat hul ‘n voorsprong gee bo kinders wat net een taal magtig is.
- Om die natuurlike ontwikkeling optimaal te laat plaasvind, word versorgers en onderwysers benodig wat gespesialiseerde opleiding ontvang. Opleidingsinstansies sal daadwerklik in die opleiding van sodanige opvoeders moet belê.
- Distriksamptenare sal deeglik opgelei moet word om te weet wat in die voorskoolse fase belangrik is en nie onvanpaste vereistes najaag wat geen voordeel vir die kinders inhou nie.
- Die verwagting van die Departement van Onderwys plaas druk op onderwysers – onderwysers probeer om die Departement te plesier in plaas van om in belang van jong kinders op te tree.
- R kan ‘n goeie toevoeging tot die grondslagfase wees, indien dit nie aangebied word as ‘n afgewaterde gr. 1-klas nie. Indien te gou met formele onderwys begin word, is dit nadelig vir die kind, soos dit duidelik blyk uit die PIRLS- en TIMSS-uitslae.
- Skoolgereedheid is ‘n omvattende begrip, maar dit is baie belangrik dat kinders so ver as moontlik skoolgereed sal wees voordat hul die gr. 1- klas betree.
- Vir kinders om skoolgereed te word, is dit belangrik dat die kind soveel moontlik geleenthede kry vir optimale ontwikkeling, al die sintuie moet ingespan word terwyl ervaar word. Voor skool behoort ouditiewe en visuele persepsie deeglik ontwikkel te wees om formele leer te vergemaklik.
- Die lyf moet beweeg om vaardighede soos balans te bevorder, liggaamsbewustheid te vestig, deeglike kennis van links en regs daar te stel, ruimtelike oriëntasie te ontwikkel, spiertonus te versterk vir konsentrasie, middellynkruising om die twee kante van die brein te stimuleer en te integreer en om oor ritme en koördinasie, rigting en volgorde te beskik.
- As al die vaardighede so goed as moontlik ontwikkel is, is kinders gereed om formeel te leer en kan ons verwag dat hul met begrip sal leer lees, skryf en wiskunde bemeester.
- Boustene moet volledig ontwikkel word, daar moenie gapings wat moeilik is om te vul, gelaat word nie. Die grondslag behoort vroegtydig deeglik vasgelê te word, sodat die toevoeging van gr. R positiewe gevolge kan hê en werklik ‘n verskil in belang van ons kinders maak.
Baie dankie!
Wilna van Rooyen