Uit Wilna se pen

Die waarde daarvan om self te teken of prente te verf

Deur Wilna van Rooyen

Ons gesels graag oor die voordele wat dit inhou om met skeppende aktiwiteite besig te wees:

Kommunikasievaardighede word opgeskerp.  Sommige mense vind dit moeilik om hulself verbaal uit te druk voor mense, maar kan hul emosies op papier weergee.

Dit verbeter kreatiwiteit.  Einsein het op ‘n keer gesê: “Verbeelding is belangriker as kennis.”  ‘n Potlood of ‘n verfkwas is gereedskap wat ons maklik kan gebruik om ons denke en idees te visualiseer

Emosionele intelligensie word ontwikkel.

Geheue-ontwikkeling vind plaas.  Wanneer ons probeer om ‘n idee te vorm oor wat ons wil teken of verf, moet daar in die geheue-album navorsing gedoen word.  Die plekke waar ons was, die kos wat ons geëet het, die mense wat ons ontmoet het, die goeie en slegte ervarings wat ons gehad het.  Om hierdie herinnering op te roep, is gesond vir die ontwikkeling van die menslike brein.

Vaardighede om probleme op te los word aangespreek.  Om prente te teken of te verf, is nie altyd maklik nie.  Beplanning en organisasie vorm deel daarvan om ‘n prent op papier te skep, asook die oorkoming van tegniese uitdagings. 

Die selfbeeld verbeter.  Wanneer ‘n mens oplossings vir die probleem om ‘n prent te skep gevind het, kry die selfbeeld ‘n hupstoot.

Angs en spanning word verlig.  Om op die skep van ‘n prent of ‘n ander item te fokus, help dat mens nie aan ander dinge kan dink nie en ontspan daarom die brein.