Beste Lesers,
Ons het al baie gesels oor spel, maar dié onderwerp kan nooit uitgeput raak nie, aangesien die waarde van speel nooit genoeg beklemtoon of ontgin kan word nie. Vandag beklemtoon ons graag ‘n paar aspekte van wat die waarde van spel is.
Wêreldspeeldag word jaarliks op 11 Junie herdenk.
Speel is die natuurlike manier waarop kinders die wêreld om hulle verken en ontdek. Deur te speel onwikkel kinders se vermoëns op talle terreine:
- Hul denke en geheue, taalvaardighede, beweginsvaardighede, hand-, voet-, en oogkoördinasie, hulle sosiale vaardighede en emosionele rypheid.
- Speel is die manier waarop kinders hulself kan uitdruk, maar is veral die manier waarop hul leer. Hulle gee uitdrukking aan hoe hulle hul wêreld sien en beleef deur te speel.
- Wanneer kinders speel, voel hul veilig om te waag en te verken.
- Wanneer kinders saam met ander speel, ontwikkel hul sosiale vaardighede spontaan. Hulle leer om te deel, om vir ‘n beurt te wag en hoe om ander in ag te neem, sonder om heeltyd die middelpunt van belangstelling te wees.
- Wanneer kinders speel, leer hulle om onafhanklik te wees en stelselmatig hul eie besluite te neem. Hul emosionele ontwikkeling en selfstandigheid
- Hul verbeelding word aangewakker en hul kreatiwiteit ontwikkel, wanneer hul tyd het om hul eie speletjies uit te dink.
- Kinders se liggaamlike ontwikkeling kry ‘n hupstoot, wanneer hulle rondhardloop, klim, klouter, balgooi, voorwerpe optel en ronddra, deur hindernisbane beweeg, op springmatte spring en op fietsies rondry.
- Kinders raak op ‘n positiewe manier van oortollige energie ontslae, wanneer hul met fisiese inspanning speel.
- Hul konsentrasievermoë word bevorder en hulle leer om gedagtes te orden wanneer hul besig is om aktiwiteite te beplan.
- Wanneer kinders speel, versamel hulle inligting wat die basis vir formele leeraktiwiteite vorm, deur, bv. met blokke te speel, lees hulle dat ‘n reghoek wat in twee gedeel word, twee vierkante vorm, dat twee driehoeke ‘n vierkant of ‘n reghoek kan vorm, hul leer verdere wiskundige taal aan, wanneer hul ‘n hoë toring bou, of ‘n diep gat in die sand grawe, hul leer van vol en leeg, baie en min.
- Terwyl kinders speel, word geleenthede vir probleemoplossing geskep en kinders leer om inisiatief te neem. Hul leer om hul bestaande kennis te gebruik om met hul lewenservaring te integreer.
Kinders leer ongeveer alle vaardighede wat hul lewenslank gaan nodig hê aan deur te speel.
Baie dankie!
Lekker speel!
Wilna van Rooyen

