Die verslag toon etlike kommerwekkende tendense wat lees in Suid-Afrika betref.
Om die voorskoolse sisteem ‘n hupstoot te gee, deur miljoene daarin te belê, kan deels ‘n oplossing bied. Die kruks van die saak is egter dat die voorskoolse program van so ‘n aard moet wees, dat dit kinders die geleentheid gee om vaardighede op ‘n natuurlike en holistiese wyse te vestig.
Té vroeë blootstelling aan formele onderrig, het juis die teenoorgestelde uitwerking op jong kinders. Hul raak gespanne en die vaardighede wat hul aanleer, is gefragmenteer.
‘n Doelgerigte program
‘n Program wat doelgerig uitgewerk is om jong kinders optimaal te help ontwikkel, op alle gebiede, is van kardinale belang. Die sensories-motoriese ontwikkeling is veral in die voorskoolse fase van uiterste belang. Dié ontwikkeling is die fondament waarop alle leer berus. ‘n Wankelrige fondasie, gaan beslis latere leeruitvalle tot gevolg hê.
In die voorskoolse fase moet die sintuie ontwikkel word, waar ouditiewe- en visuele persepsie ‘n kardinale rol speel, voordat kinders skoolgereed is. Die Vestibulêre sisteem in Propriosepsie speel hier ‘n deurslaggewende rol.
Die grootmotoriese en fynmotoriese ontwikkeling, wat die sintuie ondersteun, moet in plek wees. Hulle moet kan balanseer, hul spiertonus behoort sterk ontwikkel te wees, om vir ‘n dag in die skool op stoele te kan sit, hul ruimtelike oriëntasie, lateraliteit, midlynkruising, ritme en koördinasie, volgorde en rigting moet in plek wees, voordat kinders regtig fisiek skoolgereed is.
Wat die fynmotoriese ontwikkeling betref, moet hul self kan aan- en uittrek, vrugte afskil, eiers afdop, knope los- en vasmaak, tande borsel, eetgerei hanteer, tafeldek, hande was, bad en nog baie meer alledaagse aktiwiteite uitvoer.
Hul moet papier in repe en stukkies kan skeur, papier opfrommel, knip, teken, verf, spykers in hout kap, met konstruksie-apparaat kan werk, ryg, plak, legkaarte bou, opvoedkundige speelgoed met vaardigheid hanteer, ensovoorts.
Kinders se mondspiere moet behoorlik ontwikkel word om onder andere behoorlik te kan praat, hul oogspiere ontwikkel deur aan ‘n verskeidenheid groot- en fynmotoriese aktiwiteite deel te neem, hul voet- en toonspiere ontwikkel wanneer hul klim en klouter, op verskillende oppervlaktes beweeg, bv. klippe, gras, houtstompe, ensovoorts.
Al hierdie vaardighede speel ‘n deurslaggewende rol om van formele onderrig ‘n sukses te maak.
Kinders se emosionele ontwikkeling is net so belangrik as al die vorige ontwikkelingsvaardighede wat genoem is. Hul behoort hul emosies te kan herken en benoem, om, onder andere, selfregulering makliker te maak. Empatie is ‘n vaardigheid wat aangeleer word en waarvan daar duidelike tekens behoort te wees, voordat formele onderrig in graad 1 aangebied word. Emosionele ontwikkeling het te doen met konsentrasie, om te kan onthou, om te kan verstaan watter gedrag gepas is, al dan nie.
Sosiale ontwikkeling beteken kinders kan begin saamwerk, kan saam planne maak om probleme op te los, kan bymekaar leer, kan begin om te deel, begin om respek vir ander te betoon en reëls te aanvaar, om saam in die skoolomgewing te kan funksioneer.
Taal speel deurgaans ‘n kardinale rol. Hoe beter die woordeskat en taal van ‘n kind ontwikkel is, hoe beter is lees met begrip. Taal moet gehoor word om gepraat te kan word. Die onderrigtaal van kinders behoort dus in diepte aandag te geniet, om hul in staat te stel om met begrip te leer lees en skryf. Die klanke van die taal, die herkenning van rymwoorde van rympies en liedjies, die belewing van die ritme van versies en liedjies, verhoog die moontlikheid om suksesvol te leer lees.
‘n Doelgerigte metode van leesonderrig, is nodig wanneer kinders leer om te lees. Kinders moet geluide kan identifiseer, bv. huishoudelike geluide, omgewingsgeluide, natuurgeluide, ensovoorts. Hul moet die klanke van taal kan hoor en kan identifiseer, daarom is ouditiewe ontwikkeling so belangrik. Die samestelling van woorde is op klanke gebaseer, daarom moet kinders kan onderskei met watter klanke woorde begin, eindig en watter klanke in die middel van woorde is.
Leesonderrig behoort deurlopend plaas te vind en daagliks aandag te kry in die Grondslagfase. Leesonderrig mag nie agterweë gelaat word of afgerammel te word nie. Lees is ‘n aangeleerde vaardigheid en vaardighede moet geoefen word.
Mag ons leesonderrig ernstig opneem, selfs van graad 4 tot 7, kinders leer nie toevallig lees nie.
Baie dankie.
Wilna van Rooyen

