Uit Wilna se pen

Faktore wat skoolgereedheid beïnvloed

Deur Wilna van Rooyen

Om skoolgereed te word is ’n wonderlike en opwindende tydperk in ’n kind se lewe — ’n tyd waarin hulle nog die “wonder” in alles raaksien

 Jong kinders beleef die wêreld deur hul sintuie en spiere, en hulle staan in verwondering oor die natuur: ’n blaartjie, ’n stokkie, ’n vlinder. Hierdie belewing laat hul breine op ’n natuurlike manier ontwikkel om ‘n vaste grondslag vir hul toekomstige sukses in die beroepswêreld te bou.

Einstein het gesê: “Kennis bring jou van A tot Z, maar verbeelding bring jou oral.”

Sintuiglike ontwikkeling

 Sintuiglike waarneming – wat ‘n kind voel, ruik, proe, hoor en sien – speel ’n krities belangrike rol in leer. Dit behels ook die ontwikkeling van:

  • Die vestibulêre sisteem, wat verantwoordelik is vir balans, ruimtelike oriëntasie, en om te leer om oogbewegings te koördineer
  • Propriosepsie, wat liggaamsbewustheid bevorder en boodskappe vanaf spiere en gewrigte na die brein stuur

Kinders moet daagliks geleenthede kry om hul omgewing aktief, met hulle liggame, te verken.

Die vermoë om sensoriese ervarings effektief te prosesseer – om sin daaruit te maak – speel ‘n primêre rol in ‘n kind se vermoë om te leer.

  

Fisieke ontwikkeling

Groot- en fynmotoriese vaardighede is noodsaaklik vir: 

  • Teken, skryf, knip en speel
  • Liggaamsbewustheid en balans
  • Die vermoë om vir lang tye te sit, van die bord af te skryf, kreatief (self) te teken, en in hul boeke te werk

 Fisieke vaardighede ondersteun nie net akademiese take nie, maar ook die uitvoer van alledaagse take.

  

Emosionele en sosiale gereedheid

Kinders moet op skool kan saamwerk, deel, luister, en hul emosies kan beheer. ‘n Positiewe selfbeeld is hier ook van groot belang.

 ‘n Positiewe selfbeeld help kinders om:

  • Nuwe aktiwiteite waagmoedig en entoesiasties aan te pak
  • Nie maklik aan groepsdruk toe te gee nie
  • Selfstandig die regte besluite te neem
  • Uit foute te leer, en nie toe te laat dat foute of uitdagings hulle negatief beïnvloed nie

 

Kognitiewe vermoëns

Die volgende eienskappe vergemaklik leer, en behoort by skooltoetrede in plek te wees: 

  • Die vermoë om te konsentreer, onthou en eenvoudige instruksies te volg
  • Ouderdomsgepaste perseptuele ontwikkeling
  • Ontluikende logiese denke
  • Die vermoë om vergelykings te tref

 

Taalvaardighede

Die volgende taalvaardighede is tekens wat sê dat ‘n kind reg is vir skool: 

  • Die luister en vertel van stories
  • Die memorisering van versies en rympies
  • Pogings om stories af te lei uit die prente (illustrasies) in storieboeke
  • Die poging om lysies saam te stel wanneer mamma gaan inkopies doen 

Taalvaardige kinders kan goed kommunikeer, vrae verstaan en self antwoorde gee.

 

Selfstandigheid

 Selfstandigheid dra by tot sukses. Die vermoë om self aan te trek, toilet toe te gaan en eenvoudige take te voltooi wys onder meer vir ons dat ‘n kind gereed is om die eise van die skoolomgewing te hanteer.

Die goue reël is: as ‘n kind iets self kan doen, dan moet hy of sy dit doen.

 

Hou ter afsluiting ook in gedagte: ‘n kind se opgewondenheid oor die vooruitsig om grootskool toe te gaan is ook ‘n belangrike aanduiding dat hulle reg is vir die groot stap.

 

Groete, Wilna van Rooyen