Wenke om ‘n goeie selfbeeld te kweek

Maak seker dat die kinders in jou klas hul met selfvertroue uitleef. Dit is ook belangrik vir elke onderwyser om deurlopend aan sy of haar eie selfbeeld te werk.  Werk nou saam met die ouers van die kinders in jou klas, om die beste vir elke kind te bewerkstellig.

Kweek ‘n goeie selfbeeld met hierdie wenke.  (Met erkenning aan die Tydskrif Baba en Kleuter, 2018)

Die ses stappe hieronder lê die grondslag vir ’n huishouding of klaskamer waarin elke kind homself as waardevol ag.

  1. Wees onvoorwaardelik lief vir jou kind of vir die kinders in jou klas

Dis belangrik dat kinders gewaardeer en spesiaal voel. Help hulle om hul goeie eienskappe raak te sien en gee opregte lof waar nodig, selfs vir “verwagte” gedrag soos die uitvoer van pligte of goeie maniere. Kinders moet weet dat jy hulle liefhet ongeag hul foute of mislukkings.

‘Fisieke kontak en drukkies is altyd ’n goeie ding en sê gereeld vir jou kind wanneer hy iets doen waarvan jy hou of wat jou beïndruk.’  Maak net seker van die fisiese kontak, wat deesdae problematies kan wees, maar ‘n handdruk op ‘n skouer, is soms ‘n aanmoediging wat ‘n wêreld se verskil in ‘n kind se lewe kan beteken. Wees wel versigtig vir oordrewe lof of te veel heuning om die mond smeer – kinders kom gou agter as jy nie opreg is nie of altyd oordryf.  Hulle sal dan gou jou opinie as ongeloofwaardig begin afmaak.

  1. Skep ’n veilige omgewing

’n Veilige omgewing beteken nie net die fisieke veiligheid en sekuriteit van kinders nie, maar ook ’n roetine met reëls en grense waarbinne hulle veilig kan voel. Hul dae moet ’n sekere patroon hê sodat hulle binne daardie raamwerk kan weet wat om volgende te verwag.

Kies jou woorde versigtig en probeer om nie negatiewe patrone of opmerkings uit jou eie ouerhuis of skoolervaring te herhaal nie. Koester ook realistiese doelwitte en verwagtinge van kinders – kinders voel teleurstelling baie vinnig aan en dit doen gewoonlik skade. Onthou dat klein kindertjies dikwels ongesiens hul gang gaan; dink dus mooi voordat jy opmerkings oor die telefoon of aanmerkings aan ander mense maak.  Wees baie versigtig met die bespreking van kinders met kollegas.

Wees duidelik en realisties oor wat jy verwag, en sorg dat kinders weet hul beste is baie belangriker as goeie resultate.

  1. Vertrou mekaar

Kinders moet kan staatmaak op jou om konsekwent en betroubaar te wees. Hulle moet leer dat elke optrede ’n gevolg het, positief of negatief. Probeer om nie verskillend of onvoorspelbaar te reageer op dinge wat die kinders doen nie. Maak seker dat jou verbale en nie-verbale boodskappe ooreenstem. (As jy klem plaas op deelname aan sport ongeag die uitslag, moet jy nie mismoedig raak as die span nie wen nie.)

Kinders moet vertroue kan hê in jou reaksie en ondersteuning. As daar probleme is, kan julle dit saam oplos deur te fokus op die probleem eerder as die kind.  Hulle moet weet hul onderwyser is aan hul kant en sal hul onvoorwaardelik ondersteun.

  1. Ontwikkel vaardighede

As jy iets kan doen, bou dit jou selfvertroue. En selfvertroue bou ’n sterk selfbeeld. Help kinders om hul vaardighede en belangstellings te ontwikkel. Toon opregte belangstelling in hul talente en stokperdjies en help hulle waar moontlik om kundigheid op te bou, sodat hulle met selfvertroue oor die onderwerp kan praat of aan die aktiwiteit kan deelneem. Ontwikkel ook kinders se vaardigheid in probleemoplossing en besluitneming.

Gee keuses – laat kinders hul eie keuses maak en uitoefen. Dit wys dat jy hul ernstig opneem en vertrou om ’n keuse te maak. Gee hulle ruimte om self oplossings vir  probleme te bedink en die beste oplossing te kies.  Moedig hulpvaardigheid aan, want dit kweek ook ‘n positiewe selfbeeld.

  1. Kweek ’n positiewe uitkyk

Help kinders, waar moontlik, om kommentaar en kritiek te hanteer deur positief te bly oor hulself. Dit is belangrik om kritiek te hoor, maar dit moenie selfbeeld skaad nie. Help kinders om kritiek binne konteks te sien en wees self maar spaarsaam met die uitdeel van kritiek.

Korrigeer kinders  sagkens wanneer hulle negatiewe goed oor hulself sê. Help hulle om hul probleme positief te omskryf en teleurstellings te verwerk. Indien daar probleme by kinders geïdentifiseer word, help ouers om die probleem te verstaan en werk saam aan ’n positiewe perspektief daarop, wat dan ook aan kinders deurgegee word.

Leer kinders om aan hulself krediet te gee wanneer hul dit verdien. Kinders moet ook komplimente positief kan hanteer en nie afmaak of ignoreer nie. Deel van ’n positiewe uitkyk is die vermoë van ’n kind om sy emosies te hanteer en te verwerk. Gee dus aandag aan kinders se emosies wanneer hul slaag of misluk en gee leiding daaroor aan ouers. Die formulering en verwerking van emosies laat kinders meer in beheer voel en laat hul selfvertroue styg.

  1. Gun elkeen ’n plek

Respek vir mekaar se manier van doen is baie belangrik vir ’n gesin om mekaar volkome te aanvaar, asook in ‘n klassituasie. Wanneer ’n kind weet dat sy unieke geaardheid ’n plekkie in die groter gesin het, sal hy nie te selfbewus wees om homself te wees nie. Hegte familiebande en familietradisies help ’n kind ook om sy plek binne die familie, kultuur en herkoms te kry – hy weet dan dat hy êrens hoort.

Elke kind verdien ’n plekkie en dis daarom onnodig om jou kinders en hul belangstellings, prestasies of lewensuitkyk met mekaar te vergelyk. Jou kind sal homself wel mettertyd met maats begin vergelyk – weet net dat sy selfvertroue ook kan wissel soos ervarings hom dryf en sulke vergelykings kan dikwels lei tot afguns en jaloesie.

Maak seker dat elke kind weet dat hy of sy ‘n belangrike rol as deel van die groep in die klas speel.  Help hul om hul potensiaal te ontwikkel, deur ongesonde vergelykings met ander kinders te vermy.

’n Klomp moenies!  (Hierdie beginsels geld vir die ouer en kind, maar is ook geldig vir die verhouding tussen onderwysers en kinders.)

  • Moenie jou kind se fisieke of emosionele toenadering weier of aflag nie. (Pas die behoefte aan in ‘n klassituasie, die ouderdomme van kinders sal ook deurslaggewend wees.)
  • Moenie beloftes aan kinders verbreek nie.
  • Moenie prestasies met liefde (veral wat tyd betref) beloon nie – jou kind verdien jou liefde en jou tyd, ongeag sy prestasie. (Wees onvoorwaardelik lief vir die kinders in jou klas.)
  • Moenie jou kind veroordeel nie – dis nie hy wat die probleem is nie, maar wel sy optrede of houding. Maak seker jou kind is seker van jou liefde, al keur jy sy doen en late af.
  • Moenie jou kinders met mekaar of met maats vergelyk nie.
  • Moenie net jou kind se suksesse beklemtoon en die mislukkings ignoreer nie. Jou kind moet ook leer om deur mislukking te werk. (Prys kinders vir suksesse, maar help hul om teleurstellings te verwerk.)
  • Moenie jou kind voor ander verkleineer nie. Hou kritiek opbouend. (Hierdie is ‘n baie belangrike beginsel, wat konsekwent teenoor alle kinders toegepas behoort te word.)
  • Moenie vergeet om daagliks vir jou kind te sê jy is lief vir hom nie. (Kinders moet bewus wees van hul onderwyser se liefde en empatie.)

Ten slotte

Die sukses van kinders in hul latere lewe is dikwels as gevolg van die liefde wat een onderwyser onvoorwaardelik aan al die kinders in sy of haar klas betoon het.  Die nalatenskap daarvan, is onmeetbaar.  Mag jý die onderwyser wees wat só ‘n verskil in kinders se lewe gemaak het en sodanig bygedra het tot die selfbeeld van daardie kinders, dat jy ‘n lewenslange indruk op hul laat.

Sterkte met dié uitdagende, maar uiters bevredigende, taak!

Wilna van Rooyen