Uit Wilna se pen

Gr. R – bevooordeel of benadeel ons kinders?

Deur Wilna van Rooyen

Beweging bou Breine

Daar is soveel artikels beskikbaar oor die belangrikheid van breinontwikkeling en die belangrike rol wat beweging speel, om verbindings in die brein te stimuleer en te versterk. Die belangrikheid van beweging kan nie oorbeklemtoon word nie. Ons weet ook hoe belangrik is ervaring, asook ander fisiese aktiwiteite, wat teken, verf, deegspel, verbeeldingspel en ander insluit, om te verken, te ontdek en te beleef.

Ten spyte daarvan dat ons bewus is daarvan, vind ons dat gr. R leerders in baie gevalle alles doen behalwe om genoeg te beweeg! Verder word hul oorlaai met gefotostateerde materiaal, wat kreatiwiteit, kritiese denke, organisasie, beplanning, probleemoplossingsvaardighede vernietig.

Ons praat so baie van die een en twintigste eeuse vaardighede wat so belangrik is vir die oorlewing van ons kinders na skool. Hierdie vaardighede kan reeds voorskool bekendgestel en ontwikkel word, of verarm word.

Indien ons voortgaan om gr. R op die formele, stagnante en statiese wyse aanbied en moontlik nog gr. RR ook so gaan aanbied, gaan Suid-Afrikaanse kinders ‘n onuitwisbare agterstand ontwikkel.

Voeg daarby nog ure se skermtyd en ons kan opreg bekommerd raak oor ons kinders se vordering.

“Kinders leer deur te speel” is ‘n frase wat oorbekend is en dit is nie sonder rede dat dit so ‘n bekende stelling geword het nie. Beweging en om aktief besig te wees is essensieel, nie net vir fisiese en geestelike gesondheid nie, maar ook vir groei en akademiese prestasie. Fisiese aktiwiteite stimuleer ‘n kind se ontwikkelende brein op baie maniere.

By geboorte beskik ‘n baba se brein oor miljoene breinselle, min of meer soveel senuweeselle as wat daar sterre in die Melkweg is. Die senuweeselle wat neurone genoem word, vorm miljarde verbindings gedurende die eerste paar lewensjare van ‘n kind se lewe, afhangende van die ervarings wat die kind het. Later word van die verbindings weggesnoei en verbindings word versterk deur bewegings- en speelervarings wat die kind het. Hierdie senuwees verbind emosionele, sensoriese en bewegingservarings, wat toelaat dat inligting ongehinderd tussen die lyf en die brein beweeg.

Hoe meer ‘n baba beweeg, hoe meer word die senuweepaadjies gestimuleere en hoe meer verbindings vind plaas – uiteindelik sal die senuweepaadjies van onafhanklike, aparte paadjies verander na “supersnelweë”, saamgevoegde paadjies, wat boodskappe behendig en vinnig dwarsdeur die liggaam na die brein en andersom vervoer.

Leemtes wat ontwikkel:

Wanneer kinders nie genoegsaam aan bewegingsaktiwiteite deelneem nie, kan sekere leemtes ontwikkel:

  • ‘n Verhoogde risiko om leerprobleme te ontwikkel
  • ‘n Gebrek aan die nodige reflekse
  • Verstandelike ontwikkelingsprobleme
  • ‘n Gebrek aan die stig van verhoudings (meeste kinders ontwikkel vriendskappe deur aktiwiteite)
  • ‘n Verminderde sin van genoegdoening of welstand – emosionele onsekerheid

Navorsing wat oor die groei van kinders gedoen word wat nie genoegsame geleentheid vir beweging as jong kinders gehad het nie, dui op ‘n verhoogde risiko om later leerprobleme te ontwikkel.

Deur beweging ontwikkel babas ingeboude reflekse wat ontwerp is om ‘n nuutgebore baba om te oorleef. Wanneer hierdie reflekse verfyn is, kan ‘n baba beweging beheer en stimuleer dit hoër vlakke van breinfunksie. Hierdie verskillende vlakke is lewensbelangrik vir die vestiging van komplekse vaardighede wat later vir leer in die skool benodig word.

Deur voortdurende beweging verfyn peuters die bewegings van hul liggame, byvoorbeeld: om te balanseer, om die middellyn te kruis, ens. en dit verbeter hul oog-handkoördinasie. Gedurende hierdie aksies word beide kante van die brein ingespan – as mens ‘n speelding vir ‘n 12 maande oue baba aanbied, sal al twee handjies uitgesteek word om dit te neem.

Wanneer ‘n peuter ongeveer drie jaar oud is, het hulle hul vaardighede in meer komplekse bewegings ontwikkel. Hulle kan oorkruisbewegings uitvoer en ontwikkel oog-handkoördinasie voortdurend deur meer aan aktiwiteite en spel deel te neem. Hulle het gewoonlik al ‘n dominante hand ontwikkel en sal ‘n bal met die regter- of linkerhand gooi.

Hierdie bewegingsvaardighede stimuleer die hoër orde dele van die brein (kognitiewe dele) wat belangrik is vir akademiese leer. As die kind deelneem aan bewegingservarings word die supersnelweë versterk en die kind kan meer komplekse take uitvoer. Komplekse take wat ‘n kind vir die res van hul reis om te kan leer moontlik maak.

Kinders benodig die volgende:

‘n Deeglike kennis van hul liggame, lateraliteit, dit wil sê ‘n innerlike bewustheid en kennis van links en regs. Kruising van hul middellyn, spiertonus – sterk kernspiere, bewustheid van hul posisie in die
ruimte, asook voorwerpe se posisie ten opsigte van mekaar, ritme en koördinasie – dit wil sê vloeiende bewegings. Rigting en volgorde, sterk fynspiere van die vingers, tone, mond – kou, suig en blaas, en die fynspiere van die ogies. Sterk ouditiewe vaardighede – hul moet nie net kan hoor nie, hul moet kan luister en verstaan wat hul hoor, hul moet oor fyn visuele vaardighede beskik – in detail kan waarneem en verstaan wat hul sien. Hul moet al hul sintuie inspan om die wêreld om hul deeglik te verken en te ontdek. So word die hele brein by leer betrek. (Nie een van hierdie vaardighede kan ongelukkig bereik word deur stil te sit by ‘n tafeltjie en afgerolde werk in te vul of in te kleur nie.)

As mens aan al bogenoemde inligting dink moet babas, peuters, kleuters en kinders meer tyd hê om fisies te speel. So, gaan verken die erf, hardloop, spring, huppel en galop. Rol, klim, swaai en slaan bollemakiesie. Speel met blare, klippies, water en sand. Trek self klere aan en uit, skil self vrugte en maak kossies. Speel met potte en panne. Dek die tafel en help om in die tuin te werk. Kou onverfynde kosse, blaas borrels met strooitjies, suig water met strooitjies op. Balanseer op die randstene en dans in die son, dit sal nie net goed wees vir almal se welstand nie, maar is uitstekend en onontbeerlik vir ons kinders se akademiese reis!

Sien skakels vir verdere leeswerk hieronder.