Kinders wat geen grense beleef nie, voel maklik verlore en angstig
Dis verstaanbaar dat kinders daarvan hou om te weet wat van hulle verwag word, want sonder duidelike riglyne sukkel hul senustelsel om uitkomste te voorspel. Dit lei tot onsekerheid, wat spanning verhoog, en hul selfvertroue ly skade.
Grense is soos ’n raamwerk vir die brein
Grense help kinders om oorsaak en gevolg te verstaan sodat hulle goeie besluite kan neem en kan leer hoe om sosiale situasies veilig te bestuur.
Fokus op eenvoudige reëls, roetines en verwagtings
- Hou dit eenvoudig. Eenvoudige reëls en voorskrifte, wat konsekwent toegepas word, help kinders om kalm te bly sodat dit vir die prefrontale korteks (logiese brein) makliker is om probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel.
- Reëls onderdruk nie onafhanklikheid nie. Reëls dien wel as ’n gids. Eenvoudige roetines, duidelike verwagtinge en vriendelike begeleiding leer kinders hoe om hul impulse te bestuur en respek vir ander te ontwikkel. Hulle oefen ook om keuses in ‘n veilige ruimte te maak.
- Grense help kinders om meer onafhanklik te word. Soos tyd verloop, help grense om die uitvoerende funksies van die brein te versterk, en bou dit selfvertroue.
Kinders wat die soort veiligheid ervaar wat deur vaste roetines en duidelike grense geskep word, ontwikkel die soort waagmoed wat nodig is om die wêreld waarin hulle leef entoesiasties te ontdek, risiko’s te neem en selfvertroue te ontwikkel.
Ouers kan hierdie proses ondersteun
Hoe? Deur kinders se positiewe gedrag op ‘n rustige wyse te versterk, te verduidelik hoekom roetine en reëls bestaan, en positiewe gedrag te vier – eerder as om foute te straf.
Grense is liefde in aksie
Die kruks van die saak is dat grense nie daar is om volle beheer oor te neem of die kind in te perk nie — dit rus kinders toe om met selfvertroue in ’n komplekse wêreld op te tree.
Groete, Wilna van Rooyen

