Uit Daan se pen

Grootleierdenke

Deur Daan Potgieter

 

Inleiding

In ‘n studie oor die faktore wat groot leiers en organisasies gemeen het, is daar dié interessante bevindinge gemaak.

Die studie het getoon dat slegs 20% van leiers ‘n sterk besef van hul eie sowel as hul span se doel het. Nog minder kon hulle die doel in ‘n uitkomsgefokusde, aksiegeoriënteerde stelling formuleer. Sommige leiers kan die missie van hul organisasies duidelik uitspel, maar as hulle na hul eie doel uitgevra word, val hulle terug op generiese antwoorde soos: “Om ‘n verskil te maak” of “Om mense te bemagtig.” Nog meer ontstellend is dat weinig leiers ‘n duidelike plan het om hul doel of strategie in aksie om te skakel.

Die vraag ontstaan dus nou: “Wat is dit wat goeie leiers in staat stel om uitstaande resultate te lewer en daardeur betekenisvolle veranderinge in hul organisasies (skole) en gemeenskappe mee te bring?” Daar is drie gemeenskaplike faktore wat groot leiers van die res onderskei.

Impak

Die eerste is onderskeidende kenmerk is impak. Dit begin met die vraag: is daar ‘n beter manier? Hierdie vraag het deur die eeue telkens groot verandering veroorsaak en toekomsveranderende gevolge teweeg gebring. Leiers wat nie met middelmatigheid wil konformeer nie, is ingestel om te sê: “Die huidige situasie is uitgedien! Is daar ‘n beter manier?”

Enkele voorbeelde hiervan:

Die huidige vervoermetodes is uitgedien! Waarom vlieg ons nie? Die Wright-broers se bydrae tot lugvaart.

Donkerte. Is daar ‘n beter manier om lig te maak? Thomas Edison gee vir ons die gloeilamp.

Is daar ‘n beter manier om kieme te beveg? Alexander Fleming ontwikkel Penicillin.

So is daar vele ander voorbeelde van “beter maniere”. Dink maar aan die selfoon, rekenaar, satelliete ensovoorts. Die waarde hiervan is dat groot leiers dikwels ‘n groot impak gemaak het en die bestaande uit te daag deur te vra: “Kan dit beter?” of “Is daar ‘n beter manier?”

Wanneer passie, energie en toewyding gebruik word om ‘n oplossing te vind, manifesteer dit in innovasie wat ‘n impak op ‘n gemeenskap maak. Deur vas te stel wat beter gedoen kan en moet word, kan ‘n leier groot impak op sy/haar gemeenskap hê. Innoverende denke ontwikkel dan op ‘n ongelooflike manier. Daardeur word ‘n sinvolle impak in die skool én gemeenskap gedryf.

Daag die onmoontlike uit

Die tweede gemeenskaplike kenmerk wat groot leiers deel is die vermoë om dit wat as onmoontlik gesien word, uit te daag. Deur innoverende denke neem hierdie leiers besluite wat deur die “gewone/

normale” as ondenkbaar of onmoontlik gesien word. Die toepassing van onkonvensionele idees bring geweldige verandering mee. Henry Ford het oornag sy werknemers se salarisrekening verdubbel. Vir die aandeelhouers was dit haas ondenkbaar en hulle het geglo dat hy die maatskappy na bankkrotskap gaan lei. Ford het egter sy plan deurgevoer en binne ‘n jaar het produksie gestyg, wins verdubbel en Ford was die mees gesogte maatskappy om voor te werk. Dit het slegs die beste talent en vaardighede gelok. Ford het later gesê dat die verdubbeling van salarisse die beste kostebesnoeiingsmaatreël was wat hy ooit ingestel het! Die Ford-maatskappy word tot vandag toe nog as die skepper van die Amerikaanse middelklas erken. Deur te doen wat die meeste mense as “onmoontlik” beskou het, het Henry Ford ‘n verreikende impak, nie net op sy eie maatskappy en gemeenskap gehad nie, maar op die wêreld.

Inspireer

Die derde vaardigheid wat suksesvolle leiers gemeen het, is dat hulle die vermoë het om ander te inspireer. Die neuroloog Antonio Damasio het ‘n paar jaar gelede ‘n uitsonderlike deurbraak gemaak deur mense te behandel wat skade opgedoen het in die deel van die brein waar emosies ontwikkel. Hy het tot die slotsom gekom dat dié mense almal normaal voorkom, maar dat hulle nie besluite kon neem nie. Inderdaad ‘n belangrike deurbraak!

Leiers moet dus op die emosionele, gepaardgaande met ontdekking, besluitneming, passie en aksie, konsentreer om ‘n inspirerende toekoms te skep.

Ten Slotte

Kortliks: suksesvolle leiers het die vermoë om ‘n uitkomsgefokusde toekoms te skep.

Dink byvoorbeeld hier aan John F. Kennedy wat met die ruimteprogram die Amerikaners en wêreld geïnspireer het. Sy vertrekpunt was nie gesprekke rondom wat die Amerikaners nodig het om die Russe in die ruimtewedloop te klop nie. Hy het ‘n visie geskep dat die mens die ruimte moet en kan verken.

Sy uitkomsgefokusde doel was kristalhelder. Dieselfde kan van Steve Jobs gesê word. Hy het die visie van ‘n iPad aan die wêreld verkoop. En ons almal weet wat die gevolg hiervan was!

Na aanleiding van hierdie drie faktore, vra uself as onderwysleier die volgende vrae:

Wat is die groot uitdagings in my invloedsfeer?

Wat is my “ruimtewedloop” en kan ek dit ontwikkel as inspirerende uitkomsgefokusde doel?

Watter denke en tegnologie gaan dit verg om die “onmoontlike” te bereik?

 

Onthou vanuit ons opvoedingsperspektief: onderwys is die paspoort na die toekoms. Môre en sy sukses behoort aan dié wat vandag daarvoor beplan.