Uit Wilna se pen

Hoe om kreatiwiteit in kinders te ontwikkel

Deur Wilna van Rooyen

Wat is kreatiwiteit?
Kreatiwiteit verwys na kinders se vermoë om hul verbeelding te gebruik, oorspronklike idees te hê, nuwe oplossings uit te dink en met nuwe maniere van doen te eksperimenteer. Dit is die manier waarop kinders reageer op wat hulle ruik, proe, voel, hoor of sien.

Hoe lyk kreatiewe kinders?
Kreatiewe kinders kan hul idees, emosies, verbeelding en individualiteit uitdruk deur te teken, te verf, te plak, konstruksies uit afvalmateriaal te bou, te sing, te dans, stories te vertel, speletjies uit te dink, verbeeldingspeletjies te speel, en nog meer. Dit is ook opvallend dat hulle belangstel in ’n groot verskeidenheid dinge, plekke en aktiwiteite, sowel as ’n verskeidenheid mense, insluitende ander kinders.

Hoe word kreatiwiteit ontwikkel?
Skeppende aktiwiteite:
Moedig kinders aan om deel te neem aan aktiwiteite waarin hulle hul eie idees gebruik, hul gevoelens kan uitdruk en self kan skep.
Speelervarings:
Kinders behoort ook self te kan besluit hoe om met speelgoed soos konstruksiespeelgoed, poppe, karretjies, plastiese diere, ensovoorts, te speel.
Musikale leerervarings:
Hulle kan self bewegings uitdink om op maat van musiek uit te voer, liedjies onafhanklik sing, klap en ander lyfslagwerk doen op maat van musiek.
Kunservarings:
Moedig kinders aan om hul eie prentjies te teken, te verf en ander items te ontwerp. Vermy die gebruik van inkleurboeke of werksvelle.

Prys kinders vir hul pogings en plak hulle werk teen ’n muur, ’n deur of ’n yskas om te wys dat hul prente en skeppings gerespekteer word

Wat is die voordele van kreatiwiteit?
Kinders se eiewaarde ontwikkel, hul sosiale vaardighede kry ‘n hupstoot, en hulle ontwikkel estetiese waardering wanneer hulle hul eie werk en dié van ander geniet.

Hulle kry ook die geleentheid om met kleure, vorms, teksture, en verskillende tegnieke te eksperimenteer.

Meer nog, hulle leer hoe om take aan te pak, en hoe om dit af te rond en te voltooi.

Uit ’n breingebaseerde hoek word die regterbreinhemisfeer gestimuleer – wat help om verbande raak te sien en probleme op te los.

En uit ‘n sosio-emosionele hoek help die vertolking van rolle om spanning te verwerk en empatie te bou, terwyl dansies en ander kreatiewe uitdrukkingsvorme kinders help om gevoelens uit te druk wanneer dit nie in woorde omgeskakel kan word nie.

Kinders wat kreatief kan dink het ‘n voorsprong in die lewe

Groete, Wilna van Rooyen