Ouers kan baie doen om hul kinders te help om hul emosies te reguleer. Die eerste twee maniere is om ‘n goeie voorbeeld te stel en ondersteuning te bied. Maar, dis vir baie ouers makliker gesê as gedaan …
>>> Modelleer selfregulering en benoem emosies
Dis essensiëel om self kalm en konsekwent op te tree, want kinders leer emosionele regulering deur modellering – as hulle sien hoe volwassenes met frustrasie of teleurstelling omgaan, neem hulle dit as voorbeeld, en boots die gedrag na.
Tweedens kan ouers kinders help om gevoelens te identifiseer en benoem, bv. deur te sê: “Ek sien jy voel kwaad omdat jy nie met jou speelding kan speel nie.”
Dis vir kinders makliker om emosies te hanteer as hulle geleer het om dit te herken en benoem.
>>> Ritmes en voorspelbaarheid
Vaste roetines – soos slaap- en etenstye, en duidelike gedragsreëls – bied vir kinders ’n gevoel van veiligheid. Dit help hulle om te voorspel wat gaan gebeur, en verminder so emosionele oorweldiging.
>>> Rolspel en speletjies
Ouers kan ook rolspel en/of speletjies gebruik om sosiale en probleemoplossingsvaardighede te oefen. So kan kinders byvoorbeeld geleer word hoe om om woede of teleurstelling op ’n positiewe manier te hanteer deur:
- Diep asem te haal
- Tien keer hande te klap
- Kalm met iemand oor ‘n probleem te praat
>>> Positiewe aanmoediging
Kinders se selfvertroue word versterk as hulle geloof word in situasies waar hulle probeer kalm bly. Dit kan klein oorwinnings wees – soos wanneer ’n kind nie skree of slaan nie, maar eerder hul woede op ’n veilige manier uitdruk.
>>> Verdere mylpale op die pad na suksesvolle emosionele selfregulering
Kinders moet ook voorskools leer om:
- “Nee” te aanvaar sonder om kwaad te word
- Nie te skree, slaan, klap of op die vloer te val wanneer dinge nie volgens hul sin verloop nie
>>> Beleggings op hierdie gebied hou groot voordele in
Kinders wat emosioneel intelligent is …
- Presteer beter
- Besoek die skool meer gereeld
- Raak nie betrokke by boeliegedrag nie
- Toon empatie teenoor klasmaats
>>> Ontspanningsaktiwiteite
Eenvoudige aktiwiteite kan help om spanning te verminder en selfbeheersing te verbeter:
- Diep asemhaling
- Strek-oefeninge
- Om na rustige, stil musiek luister
- Massering van arms, bene of rugspiere
Hierdie ontspanningstegnieke bevorder kalmte en veerkragtigheid.
>>> Ter afsluiting
Dis bemoedigend dat ouers se geduldige en konsekwente ondersteuning kinders stelselmatig kan leer om hul emosies beter te reguleer en positiewe maniere te vind om frustrasie, hartseer en ander uitdagende gevoelens te hanteer.
Soos wat kinders leer om emosioneel te selfreguleer, leer hulle ook tegelykertyd om emosies in ander mense beter te herken en hoe om verhoudings te bestuur.
Groete, Wilna van Rooyen

