Spel is soos asemhaal vir kinders, hul le raak lewendig die oomblik as hul le speel, maar terselfdertyd leer hulle baie meer as wat ons dink!
Daar is groot studies wat oor die verband tussen speel en breinontwikkeling gedoen is, maar ons deel hier ‘n paar voordele wat speel vir ’n kind se ontwikkeling inhou:
- Kinders leer van die wêreld
Speel is die primêre manier waarop kinders die wêreld om hulle leer ken en ontdekkings maak. Dit kan die vorm aanneem van ’n baba wat ’n voorwerp in sy mond sit om dit te verken, tot ’n vyf- of sesjarige wat maak asof hy ’n ruimtevaarder is wat die maan ontdek.
- Probleemoplossing
Dis nie maklik om vir ‘n kind te leer of verduidelik hoe om probleme op te los nie. Die beste manier om hierdie vaardigheid te ontwikkel, is deur regte probleme op te los — en dit gebeur die beste deur spel. Voorbeelde sluit in:
- Om ‘n toring met blokke te probeer bou, terwyl die blokke heeltyd omval.
- Om iets te vind wat as ’n brug kan dien, sodat kinders nie in ’n stroom vol krokodille of haaie val nie.
- Om konflik op te los wanneer meer as een kind die ma, brandweerman, of winkelier in die speletjie wil wees.
- Om uit te vind hoeveel sand en water nodig is om ’n perfekte modderkoekie te kan bou.
- Oorsaak en gevolg
Linders ontdek oorsaak en gevolg wanneer hulle ontdek: “wanneer ek hierdie doen, gebeur die volgende”. Met ander woorde, hulle ontdek hoe een ding tot iets anders aanleiding gee.
’n Jong kind mag byvoorbeeld ‘n gunsteling sagte speelding in die bad gooi wanneer hy of sy ontsteld is en dan baie ongelukkig wees omdat dit nie voor slaaptyd droog is nie. Of ouer kinders kan miskien ontsteld raak wanneer hulle besef dat die kleur verander het omdat hulle ’n verf- kwas in die verkeerde kleur houer geplaas het!
Speel bied ‘n veilige ruimte vir eksperimentering.
Kinders wat gereeld speel leer uit ervaring dat aksies gevolge het – en hulle leer gevolglik om vooruit te dink voordat hulle optree
- Verdere kognitiewe vaardighede
Sekere vaardighede ontwikkel spontaan terwyl kinders speel, soos om te leer sorteer en groepeer, verskille en ooreenkomste raak te sien, en hoe om opeenvolging en patrone te identificeer en te benoem.
Hulle leer ook belangrike lesse oor ruimte en tyd wanneer hulle speletjies met reëls speel, met blokke en pennetjiesborde werk, ander opvoedkundige speelgoed gebruik, en met konstruksiemateriaal eksperimenteer.
- Perseptuele vaardighede
Ouditiewe en visuele persepsie help die brein om sin te maak en te verstaan wat ’n kind hoor en sien. Hierdie vaardighede ontwikkel ook terwyl hulle speel, en dit het ‘n groot impak op akademiese vaardighede.
- Taalvaardighede
Linders se taalvaardighede ontwikkel terwyl hulle met maatjies speel, met hul versorgers te doen het en hul omgeving waarneem — eers leer hulle net om die taal te verstaan, en daarna bou hulle ’n woordeskat op om die taal self te kan gebruik.
Kinders leer om behoorlik te kommunikeer terwyl hulle speel omdat hulle ”n woordeskat opbou en prakties leer hoe die taalstruktuur werk
- Luistervaardighede
Linders ontwikkel luistervaardighede wanneer hulle na stories luister, speletjies met eenvoudige reëls speel, rympies aanleer en dit vertolk, en verbeeldingspeletjies saam met ander speel.
Luister is ’n onontbeerlike lewensvaardigheid wat hand aan hand loop met taalontwikkeling.
Beter luistervaardighede lei dus tot beter taalverwerwing. En iemand wat regtig kan luister, kan inligting effektief verwerk, instruksies uitvoer en dit evalueer — vermoëns wat ’n kind vandag kop en skouers bo die res laat uitstyg.
Groete, Wilna van Rooyen.
“ Prof. Marike de Witt se boek. “The Young Child in Context. A Ps’ycho-Social Perspective”, is hier aangehaal of gei’nterpreteer om te bevestig wat in die praktyk beleef is.

