Uit Wilna se pen

Hoekom is Gr. R belangrik?

Deur Wilna van Rooyen

Gr. R is nou ‘n verpligte deel van die grondslagfase en dit is belangrik dat ons sal vasstel hoekom Gr. R belangrik is.

Gr. R is ‘n unieke graad, dit is nie ‘n afgewaterde Gr. 1 klas nie, dit is ‘n volwaardige graad waar duisende aktiwiteite benodig word om kinders by te staan om skoolgereed te word.

Ons weet dat skoolgereedheid ‘n belangrike voorvereiste vir latere skoolsukses is.

Indien Gr. R volgens die 6 jarige se behoeftes aangebied word, kan dit ‘n beduidende rol in skoolgereedheid speel:

  • Kinders wat skoolgereed is, is gereed om meer formeel te begin leer.
  • Hul kan met meer gemak die vaardighede van lees, skryf en wiskunde bemeester.
  • Skoolgereedheid is egter ‘n omvattende begrip, dit sluit die ontwikkeling van die kind in geheel in, sensories-motories, emosioneel, sosiaal, geestelik en kognitief, waar woordeskat en taal ‘n kardinale rol speel.
  • Die doel van voorskoolse onderrig, ook graad R, strek veel wyer as skoolgereedheid. Indien slegs op skoolgereedmaking te fokus, word splintervaardighede vooropgestel, wat die volle ontplooiing van die jong kind strem.
  • Dié belangrike jaar kan kinders se wil om te leer maak of breek!

Dit is belangrik dat ‘n mens kennis sal neem van hoe jong kinders leer:

  • Deur te beweeg, te ervaar, te beleef:
  • Met hul hele liggaam (sintuie en spiere), met konkrete voorwerpe, waaraan gevat en gevoel kan word, op ‘n informele wyse.
  • Hulle leer deur te verken, te ontdek en self te doen.
  • Deur te eksperimenteer en te benoem.
  • Deur vrae te vra en antwoorde op vrae te soek.
  • Te ontwerp en te skep, planne te maak en probleme op te los.
  • Deur hul verbeelding te ontwikkel en te gebruik.

Watter vaardighede word benodig vir skoolgereedheid?

  • Balans, liggaamsbewustheid, lateraliteit, middellynkruising, spiertonus, skouerstabiliteit, ritme en koördinasie, rigting en volgorde.
  • Mondspiere vir praat, vingerspiere sterk genoeg om gemaklik te leer skryf.
  • Ouditiewe persepsie
  • Visuele persepsie
  • Woordeskat en taal – die vermoë om volledige sinne saam te kan stel en te verbaliseer, ook Wiskundige taal
  • Emosionele ontwikkeling op ouderdomsvlak
  • Sosiale ontwikkeling op ouderdomsvlak
  • Geestelike en normatiewe ontwikkeling op ouderdomsvlak

Indien bogenoemde vaardighede bemeester is, kan mens praat van skoolgereedheid, wat beteken die kinders is gereed om met formele werk in Gr. 1 te begin.

Mag dit ‘n vreugde wees om met die jong, entoesiastiese leerder in Gr. R te werk!

Vriendelike groete!

Wilna van Rooyen