ViVA

Hoort “wie”, “wat” en “waarop” aan dieselfde woordsoort?

Deur ViVA Blog

In ouer bronne word woorde soos waarin, waarvan, waarop en waaronder saam met wie en wat gegroepeer en betreklike voornaamwoorde genoem, hoewel hulle eintlik nie saam hoort nie. Die eerste groep woorde (waarin, waarvan, waarop en waaronder as enkele voorbeelde) hoort saam, terwyl wie en wat ’n afsonderlike tweede groep vorm. Groep 1 word “voornaamwoordelike bywoorde” genoem – hulle is dus ’n soort bywoord, terwyl groep 2 betreklike voornaamwoorde is – ’n soort voornaamwoord.

In hierdie blitsblog:

  • stel ek ondersoek in na die ooreenkomste en verskille tussen hierdie twee groepe woorde;
  • verklaar ek die term “voornaamwoordelike bywoord”; en
  • stel ek ’n naam voor wat gebruik kan word wanneer daar gesamentlik na hulle verwys wil word.

 

  1. Ooreenkomste

Daar is beslis ooreenkomste tussen hierdie woorde. Hulle word vir dieselfde doel gebruik. Lees die volgende pare sinne.

  • Voorbeeldsin 1: Dis ’n fantastiese kar. Jy het ’n fantastiese kar.
  • Voorbeeldsin 2: Die bus is geel geverf. Ons ry in die bus.

Wat merk ons op in albei voorbeelde? In voorbeeldsin 1 word in albei die simplekse (enkelvoudige) sinne van dieselfde kar gepraat (dit is fantasties; iemand spesifiek het hierdie fantastiese kar), en in voorbeeldsin 2 word in albei die simplekse (enkelvoudige) sinne oor dieselfde bus geskryf (geel bus; leerders wat ry in hierdie bus).

Wat ons nou kan doen, is om die inligting oor onderskeidelik die kar en die bus wat in die verskillende simplekse (enkelvoudige) sinne voorkom met mekaar in verband te bring. Hoe doen ons dit? Vir hierdie doel gaan ons wat en waarin onderskeidelik in die plek van ’n fantastiese kar en in die bus (aangedui in rooi) gebruik. Nou lyk ons sinne soos volg:

  • Voorbeeldsin 3: Dis ’n fantastiese [kar wat] jy daar het.
  • Voorbeeldsin 4: Die [bus waarin] ons ry, is geel geverf.

Gevolglik vorm wat in voorbeeldsin 3 ’n skakel met kar voor dit en waarin in voorbeeldsin 4 ’n skakel met bus voor dit. Ons sê dat wat en waarin ’n skakel met die antesedent voor dit vorm. Beide wat en kar, en waarin en bus verwys na dieselfde saak. Kyk na die prente wat ek gebruik het.

Voorbeeldsin 3: Dis ’n fantastiese [kar wat] jy daar het.

Voorbeeldsin 4: Die [bus waarin] ons ry, is geel geverf.

Wat wat en waarin ook gemeen het, is dat hulle albei nou ’n bysin inlei. Die bysinne in voorbeeldsin 3 en 4 is:

  • wat jy daar het
  • waarin ons ry

Hierdie bysin verrig ’n werk/funksie vir die hoofsin, naamlik om die sinsdeel (antesedent) in die hoofsin waarmee wat en waarin ’n skakel vorm, te spesifiseer.

  1. Verskille

Daar is egter belangrike verskille tussen die betreklike voornaamwoord wat (en wie), en die voornaamwoordelike bywoord waarin (en waarop, waarmee, waarvan, ens.).

  • Die eerste belangrike verskil is dat hierdie twee woordsoorte morfologies gesproke nie dieselfde bou het nie. Waarin (en waarop, waarmee, waarvan, ens.) bestaan uit die bywoord waar as die eerste lid – vandaar dat hierdie woorde as bywoorde geklassifiseer word – terwyl die tweede lid ’n voorsetsel is. Die betreklike voornaamwoord wat (en wie), daarenteen, is morfologies simpleks.
  • In die tweede plek kan waarin (en waarop, waarmee, waarvan, ens.) herskryf word as ’n sinsdeel bestaande uit ’n voorsetsel gevolg deur ’n voornaamwoord – vandaar dat sulke woorde voornaamwoordelike bywoorde genoem word. Vergelyk weer voorbeeldsin 4 wat só herskryf kan word (hoewel hierdie tipe taalgebruik nie in preskriptiewe bronne aanbeveel word nie[1]):
    • Die bus in wat ons ry, is geel geverf.
  • ’n Laaste verskil is dat die betreklike voornaamwoord wat (en wie) binne die bysin altyd in die plek van die subjek (oftewel “onderwerp”) of die objek (oftewel “voorwerp”) staan. Daarenteen hoef voornaamwoordelike bywoorde nie noodwendig in die plek van die subjek of die objek te staan nie, want dit kan selfs in die plek van ’n bywoordelike bepaling gebruik word.

 

Voornaamwoordelike bywoord Betreklike voornaamwoord

Haar velletjiesmat is weg. Sy slaap op die velletjiesmat.

Hier is op die velletjiesmat in die tweede sin ’n bywoordelike bepaling.

Dit is die boot. Die boot gaan Desember na Zanzibar toe vaar.

Hier is die boot in die tweede sin die subjek/onderwerp.

Haar velletjiesmat waarop sy slaap, is weg.

Wanneer waarop in die plek van die woorde op die velletjiesmat (die bywoordelike bepaling) staan, en gevolglik die bysin waarop sy slaap inlei, is dit nou ’n plekhouer vir ons oorspronklike bywoordelike bepaling.

Dit is die boot wat Desember na Zanzibar toe gaan vaar. 

Wanneer wat in die plek van die woorde die boot (die subjek/onderwerp) staan, en gevolglik die bysin wat Desember na Zanzibar toe gaan vaar inlei, is dit nou ’n plekhouer vir ons oorspronklike subjek/onderwerp.

 

Indien die onderwyser ‘n woord soek om woorde soos wat, wie en waarmee saam te groepeer, kan die term betrekkingswoord of betreklike woord gebruik word, want al hierdie woorde deel die eienskap om i) ’n skakel te vorm met ’n sinsdeel (antesedent) daarvoor; en ii) ’n bysin in te lei wat hierdie antesedent bepaal/spesifiseer.

[1] Fouché-Karsten (2024) verwys na Van Schoor (1983:307) wat redeneer dat sulke taalvorme kenmerkend van “spreektaalgebruik” is (wat volgens hom nie verkeerd is nie), nie skryftaalgebruik nie, en dat die skool eerder die “konserwatiewe weg” moet volg en die gebruik van vorme soos waarin moet aanmoedig, hoewel die gebruik van ’n setselstuk (soos in wat) deel is van normale taalontwikkeling.

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten

 Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

 

 

Bronnelys

Fouché, N., Kapp, S., Luther, J. & Erasmus, C. 2021. “Bywoorde: Voornaamwoordelike bywoorde”. Taalonderrigportaal. Virtuele Insitituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FBywoord%2FAAG_Woordsoort_ADV_Soorte_Voornaamwoordelik.html]

Fouché-Karsten, N. 2024. Leemtes in die gebruik van kohesiemerkers in die skryfwerk van Afrikaanssprekende graad 6- en graad 9-leerders. LitNet Akademies, 21(1).

Biber, D., Conrad, S. & Leech, G. 2018. Longman student grammar of spoken and written English. Essex: Pearson Education Limited.

Wybenga, D.M. 1988. Taalkompas: Elke student se gids. Pretoria: Serva-Uitgewers.