Op 21 Februarie is dit Internasionale Moedertaaldag en om dit te vier, kyk ons bietjie waar taal begin!
Ontwikkelingsmylpale vir taalontwikkeling:
Wanneer ‘n baba ongeveer 3 maande oud is, begin hul om gorrelende, koerende geluide te maak.
Teen 6 Maande begin babas te brabbel of te babbel.
Min of meer teen12 maande word die eerste woorde uitgespreek.
Op 18 maande ken babas al 5 tot 40 woorde.
Teen 2 jaar ken hul al 150 tot 300 woorde en maak 2 tot 3 woord sinne.
Teen 4 jaar kan kleuters 2000 woorde en gebruik 5 woorde in sinne.
Teen 5 jaar begin kleuters om klanke ouditief te onderskei en enkele letters visueel te identifiseer. Hul maak ook langer sinne.
Die belangrikheid van moedertaalonderrig:
Voor geboorte hoor die baba die ritme en intonasie van die taal.
Van geboorte af kan babas reageer op die ritme van die taal. Hulle herken die spanning, die tempo, hoë en lae klanke of toonhoogte van die taal.
Van 4 tot 6 maande kan babas onderskei tussen taalklanke en ander geluide. Hul sal, bv. die verskil tussen ‘n gesproke woord en ‘n klapgeluid herken.
Tot een jaar oud kan babas enige taal aanleer, aangesien hul die vermoë het om enige klank te maak, maar teen een jaar oud sal hul die klanke wat nie in hul moedertaal voorkom nie, verloor.
Teen drie jaar oud is alles wat kinders sê grammatikaal korrek. Hul woordeskat brei uit tot hul volwasse taal teen ongeveer 11 jaar oud bemeester.
‘n Baba se brein is bedraad om taal aan te leer. Dit beteken ‘n baba word nie geleer hoe om ‘n taal te praat nie, dit gebeur natuurlik. Hulle leer taal van geboorte af aan. Dit is ‘n baie komplekse vaardigheid, maar omdat dit natuurlik gebeur, is ons nie bewus van alles wat betrokke is nie.
Om te leer lees, is nie ‘n natuurlike proses nie. Lees moet aangeleer word. Dit is uiters kompleks om taal aan te leer, maar om te leer lees, is nog baie meer kompleks.
Fonemiese bewustheid, om bewus te wees daarvan dat praat uit die samestelling van verskillende klanke bestaan, is ‘n kritiese deel van leesgereedheid.
Om oor fonemiese bewustheid te beskik, is nie genoeg om kinders in staat te stel om te leer lees nie. Hulle moet die visuele voorstelling van klanke, naamlik letters, op papier kan onderskei en weet dat die letters klanke voorstel. Hul moet ook bewus wees daarvan dat sommige letters verskillende klanke voorstel. (Teen 6 – 7 j.)
Kinders leer op ‘n natuurlike wyse om te praat. Al word kinders nie geleer om te praat nie, speel ouers ‘n baie belangrik rol.
Ouers moet baie met kinders praat. Kinders met wie nie gepraat word nie, leer nie taal aan nie.
Kinders leer taal aan deur interaksie met die ouer of ‘n ander volwassene. Stories, versies, liedjies, gesprekvoering, gesels oor verskillende onderwerpe en die gebruik van werklike voorwerpe om nuwe woorde aan te leer, speel elkeen ‘n baie groot rol in die uitbreiding van woordeskat en taalontwikkeling.
Die gebruik van die moedertaal gebeur onbewustelik – die gebruiker hoef nie eers daaroor te dink nie. Die aanleer van ‘n tweede of derde taal, moet bewustelik gedoen word. Wanneer ‘n tweede taal gebruik word, moet mens die heeltyd dink wat jy sê. Vir kinders wat in ‘n tweede taal moet leer, terwyl hul nog die taal moet baasraak ook, moet twee keer so hard werk, nie net om die nuwe leerstof te bemeester nie, maar nog die taal ook.
Moedertaalonderrig hou talle voordele vir kinders in, hier volg net ‘n paar daarvan:
- Kinders leer beter en vinniger in die taal wat hul die beste kan verstaan, dit voorkom agterstande in leer.
- Hulle geniet skool baie meer, hulle voel tuis.
- Kinders wat in hul moedertaal onderrig word, se selfbeeld is sterker.
- Hul voel hul behoort, hul het ‘n eie identiteit en kan makliker met hul kultuur assosieer.
- Ouers se deelname verhoog gewoonlik, hul kan help met huiswerk en hul neem deel aan skoolaktiwiteite.
- Studies toon dat kinders wat in hul moedertaal onderrig was, makliker ander tale aanleer, hul behaal makliker sukses op tersiêre vlak en hul verdien ook groter salarisse wanneer hul begin werk.
- Die kinders presteer beter op skool en herhaal baie selde ‘n graad gedurende hul skoolloopbaan.
- Kinders wat in hul moedertaal onderrig word, is ook geneig om langer skool te gaan, hul val nie langs die pad uit die sisteem nie.
Dit is aan te bevele dat kinders so lank as moontlik in hul moedertaal onderrig sal word, om hul die beste moontlike kans vir sukses te gee.
Saamgestel deur Wilna van Rooyen