Uit Wilna se pen

Kan ons kinders kweek wat onselfsugtig in plaas van selfgerig is?

Deur Wilna van Rooyen

Ons leef in ‘n wêreld waar dit meestal oor die eie ek gaan.   Ons neem selfies, net ons wense tel, alles draai om ons.  Is dit moontlik om in so ‘n samelewing kinders te kweek met meer positiewe waardes, wat ook ingestel is op die welsyn van ander?  Dit is moontlik, dit neem net ‘n bietjie moeite, durf en deursettingsvermoë!

Hier volg ‘n paar wenke:

Empatie moet aangeleer word, dit kom nie sommer maklik vanself nie.

Vra kinders of hul al ooit daaraan gedink het hoe dit voel om die ander kind te wees, om in ‘n ander kind se skoene te loop.  Om ander se gevoelens verbaal te erken is baie belangrik.  Boeke wat voorgelees word en met kinders bespreek word is ‘n lekker manier om empatie oor te dra.  Die geleentheid om karakters se emosies en motivering te analiseer, help kinders om in die verbeelding in situasies op te tree en oplossings te vind.

Begin om kinders op ‘n vroeë ouderdom van selfloosheid of onselfsugtigheid te leer.

Ons dink jong kinders kan nie sulke vaardighede bemeester nie, maar studies toon dat dit belangrik is om empatie van jongs af aan te leer en voor te leef.  Indien sodanige vaardighede vroeg aangeleer word, word dit tweede natuur vir hulle.  Selfs kinders van twee jaar oud, wat speelgoed by een jaar oue kinders gryp, moet geleer word dat dit nie aanvaarbare gedrag is nie.  Ons weet dat kinders eers later regtig leer en verstaan wat dit beteken om te deel, maar die konsep moet van vroeg af aangespreek word.  Indien mens gereeld met ‘n kindjie praat oor hoe om te deel, doen hul dit makliker al van twee jaar oud af.  Ons moet ook die waarde van omgee aan hul duidelik maak.  Om goed te wees vir ander tel meer as goed waaraan ons kan vat, soos speelgoed.

Maak liefdadigheid ‘n familie-aktiwiteit:

Indien ons kinders wil opvoed om op natuurlike wyse selfloos te wees, moet hul in ‘n huis groot word waar liefdadigheid die norm is en nie net ‘n uitsondering is nie.  Ongebruikte klere of speelgoed kan gedeel word.  Oortollige kos of dalk groente en vrugte wat in die tuin groei, kan gedeel word.  Toiletware, kospakkies, watter oulike idee ons ook al het, dit maak ‘n groot verskil in iemand anders se lewe, maar ook in ons en ons kinders se lewens.  Hul leer dat liefdadigheid net iets is wat mens doen, of ons nou min of baie het om te deel, ons kan altyd iets gee, ook van ons tyd.

Maak seker dat kinders weet jy gee meer om vir hul karakters as vir hul prestasies:

Ons wêreld is obsessief oor prestasie en kinders word dikwels ouers se trofeë.  80% van studente by Harvard Universiteit in die VSA het gesê hul ouers is meer gesteld op hul prestasie as oor hul geluk.  Natuurlik is dit nie verkeerd om trots te wees oor ons kinders se prestasie nie, maar dit word ‘n probleem as kinders dink hul ouers is net trots op wat hul doen in plaas van om trots te wees op wie hul is.  Hul hoef nie altyd die beste te wees nie, maar dit sal ook gaaf wees as hul dalk die meeste omgee vir ander.

Herinner kinders gereeld daaraan dat hul verantwoordelik daarvoor is om vir ander om te gee, om vriendelik en liefdevol te wees.

Ons kinders dink baie keer dat die wêreld daar is om hul te plesier.  Hul moet leer  ons is hier om mekaar te dien, nie om gedien te word nie.  Kinders moet geleer word om ander eerste te stel en keuses te maak wat ander bevoordeel.  Dit is nie altyd maklik nie, maar ons moet hul gereeld daaraan herinner.  Somtyds speel ek die speletjie wat jy gekies het, ander kere kan ons weer die speletjie speel wat ek gekies het.

Wees versigtig vir die boodskap wat jy uitstuur:

Dit is belangrik dat ons ‘n voorbeeld stel van dit wat ons predik.  Dit help nie ons sê ons kinders moet hierdie mooi beginsels hê en ons pas dit nie self toe nie.

Herken en erken opofferings en koester dankbaarheid:

Dit is baie maklik om op die negatiewe te fokus in plaas van op die positiewe.  Ons samelewing vind maklik fout en gee moeilik erkenning.  Doen moeite om raak te sien wat ander opoffer en wys dit uit aan jou kinders uit.  Indien ‘n maatjie, boetie of sussie bereid is om hul eie speletjie op te offer om joune te speel, sien dit raak en wees dankbaar daaroor.

Byt vas!

Die kuns om onselfsugtige kinders groot te maak, is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie!   ‘n Leeftyd van voortdurende oefening en versterking is nodig.  Hou net moed, dit is regtig op die lang duur die moeite werd, vir die kinders, maar ook vir volwassenes!

Wilna van Rooyen

Vir verdere leeswerk: selfsufficientkids.com