ViVA

Letters en klanke: troebel waters

Deur ViVA Blog

  1. Inleiding

Onlangs wil ek oplees oor die klankgrepe van ’n bepaalde woord toe ek op die Uitspraakwoordeboek op my boekrak afkom. Op een van die eerste bladsye trek die opskrif “Spelling en uitspraak is nie dieselfde nie” onmiddellik my aandag, want so dikwels het ek al stellings gesien soos “Herken en gebruik dubbelklanke: aa, oo, ee, uu”, wat nie klanke is nie maar letters.

Die vraag is dus: Wat is letters, en wat is klanke, én hoe moet die verhouding tussen dié twee verwoord word?

  1. Wat is klanke, en hoe word dit gevorm?

Klanke (ook bekend as “spraakklanke”, “fone” of “segmente”) word volgens prof. Daan Wissing in sy hoofstuk “Fonetiek” in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde gedefinieer as “die kleinste identifiseerbare klankeenheid wat in die klankstroom voorkom”. Klanke word deur middel van verskillende produksiefases tot stand gebring. Hierdie produksiefases is die inisiasiefase, die fonasiefasie en die artikulasiefase (Wissing, 2017:100-101; Wierenga & Wissing, 2021), en elke produksiefase kan verduidelik word aan die hand van die fases gedurende die bak van kolwyntjies.

Inisiasiefase – kry die beslag gereed

Om kolwyntjies te maak, benodig ’n mens eiers, suiker, melk, olie, meel, bakpoeier, sout en vanieljegeursel. Dit alles word gebruik om ’n beslag te maak.

Net so het ’n mens lug, die beslag, nodig om klanke voort te bring. Gedurende die inisiasiefase voorsien die longe lug wat in ’n spraakstroom omgesit word (De Villiers, 1967:33). Hierdie lug word deur die lugpyp (oftewel “trachea”) na ’n belangrike orgaan – die strottehoof – gelei.

Fonasiefase – die kolwyntjies is in die oond

Die volgende stap is om muffinpapiertjies halfvol beslag te skep, die muffinpapiertjies op ’n muffinpan te plaas en in die oond, wat reeds op 180 °C gestel is, te sit. Om aan hierdie heerlike kolwyntjies te kan smul, moet die beslag gaar word. Gedurende hierdie gaarwordproses gaan nie al die kolwyntjies dieselfde lyk nie: Sommiges is effe groter as ander, en sommige platter.

Kom ons keer nou terug na spraakproduksie. Bo-op jou lugpyp waardeur die lug vloei, is daar ’n soliede raamwerk wat uit ’n klomp kraakbeentjies en spierweefsel bestaan. Hierdie struktuur noem ons die “strottehoof”. Jou adamsappel behoort vir jou ’n aanduiding te wees van waar die strottehoof geleë is. Die strottehoof waarin die stembande voorkom, is die oond waarin die klanke begin vorm kry. Kyk na die beeld van die strottehoof hier onder, en klik op dié skakel om te sien hoe die stembande lyk. Die lug wat deur die lugpyp (of trachea) voorsien word, pers deur die stembande wat herhaaldelik oop en toe maak. Dit skep pulse van lug (met ander woorde klein hoeveelhede lug) wat herhaaldelik deur die stembande ontsnap. Dié lug word getransformeer tot stemhebbende klanke – klanke wat gevorm word deur die stembande wat tril. Ander kere vibreer die stembande weer nie. Die stembande maak met ander woorde nie herhaaldelik oop en toe nie, en pulse van lug kan nie daardeur ontsnap nie. Ons sê dat stemlose klanke geskep word.

Die strottehoof waarin die stembande voorkom, is dus die plek waar die kolwyntjies (die klanke) begin vorm kry.

Net soos die kolwyntjies in grootte verskil, verskil die klanke wat betref stemloosheid of stemhebbendheid.

Artikulasiefase – die kolwyntjies word versier

Wanneer die kolwyntjies uit die oond gehaal is, word allerhande versiersels daarop gesmeer of gespuit.

Om terug te keer na die spraakproduksieproses: Die lug wat uit die strottehoof waarin die stembande geleë is, ontsnap, word hoër op in die spraakkanaal (in die keel-, mond- en neusholte) tot unieke klanke, ’n spesifieke vokaal, konsonant of diftong omvorm of “versier”.

 Die lug wat byvoorbeeld ongehinderd deur die stembande ontsnap het, kan afgesper word waar die twee lippe bymekaarkom. Die versiersel is dus die afsluiting waar die lippe bymekaarkom. Deurdat hierdie versiersel bygevoeg word, word ’n konsonant geproduseer, en meer spesifiek die p-klank

3. Die verhouding tussen letters en klanke

Klanke – wat met gesproke kommunikasie geassosieer word – is die primêre vorm van kommunikasie om verskeie redes. Enkele van hierdie redes is dat almal nie kan skryf nie, maar oor die gawe beskik om te kan praat en om dít wat gesê word, te begryp; en die feit dat enige kind vloeiend kan praat, voordat hy kan skryf (vergelyk Coetzee, 2018:27).

Die moedertaal wat jy as kind kan praat, word op skoolvlak gekoppel aan ’n skrifstelsel – iets wat eksplisiet onderrig word. Ons word dus onderrig om die klanke van die taal met letters voor te stel. Al word daar van ons verwag om letters terselfdertyd te “klank” (De Villiers, 1967:1), beteken dit nie dat taal bestaan uit letters wat uitgespreek word en dat letters gelykstaande aan klanke is nie. Hier wonder ons dus nie soos by die hoender en die eier wat eerste gekom het nie. Ons wéét dat die klanke van ’n taal eerste kom, en daarna leer ons hoe om dit in geskrewe vorm met letters voor te stel.

4. Hoe kan ons beter tussen letters en klanke onderskei?

Verskillende terme word aan letters en klanke toegeken. Die letter <s> in die Romeinse alfabet is ’n konsonantletter of ’n medeklinker. Die klank wat dit voorstel, naamlik die s-klank is ’n konsonant, aangesien dit gevorm word wanneer die lugstroom gedeeltelik of volledig versper word (Wierenga & Wissing 2021).

So ook is die letter <a> ’n vokaalletter of ’n klinker. Die klanke wat dit voorstel, die lang a-klank of die kort a-klank, is vokale, aangesien dit gevorm word deurdat die lug vrylik deur die spraakkanaal vloei en nie versper word nie (Wierenga & Wissing, 2021).

Vir letterkombinasies soos <oei> is die water egter nog troebel. Hoewel die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS 2017:714) aandui dat die term “diftong” of “tweeklank” gebruik moet word om na die samevoeging van twee vokale (die klanke) te verwys, word hierdie term in dieselfde bron as die term vir die letterkombinasie <oei> gebruik. My voorstel is dat ’n mens dalk die term “diftong” gebruik om na die letterkombinasie, en “tweeklank” om na die klank wat die diftong voorstel, te verwys.

5. Hoe kan die stelling in die inleiding dan anders geformuleer word?

“Herken en gebruik dubbelklanke: aa, oo, ee, uu.”

Voorstel: Herken en gebruik klanke wat met twee vokaalletters/klinkers voorgestel word, byvoorbeeld die lang a-klank wat deur die vokaalletters/klinkers <aa> voorgestel word, die lang o-klank wat deur die vokaalletters/klinkers <oo> voorgestel word, die lang e-klank wat met die vokaalletters/klinkers <ee> voorgestel word en die lang u-klank wat deur die vokaalletters/klinkers <uu> voorgestel word.

Op hierdie stadium wil ek ook daarop wys dat letterkombinasies soos <aa>, <oo>, <ee> en <uu> nie “dubbelklanke” is nie. Dit is in die eerste plek nie klanke nie; dit is letters. Dit stel ook nie twee klanke voor nie, want slegs een klank word gehoor: ’n lang a-klank, ’n o-klank, ’n e-klank en ’n u-klank onderskeidelik. Ons hoor dus een klank wat deur twee vokaalletters voorgestel word. In die Engelse literatuur word die term “diagraph” (vertaal as “diagraaf”) gebruik om te verwys na ’n groep van twee opeenvolgende letters wat ’n enkele klank voorstel (Nordquist 2019). Sou letterkombinasies soos <aa> nie “vokaalletters” of “klinkers” genoem wou word nie, maar verder gespesifiseer word, sou ’n frase soos “’n diagraaf wat bestaan uit vokaalletters” gebruik kon word. Die rede waarom ek “bestaan uit vokaalletters” byvoeg, is dat diagrawe ook konsonantletters kan wees. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die letters <ch> in “chronologies” wat ook een klank, ’n k-klank, voorstel.

    6. Slotopmerking

    Klank en skrif is nie gelykwaardig nie. In die Uitspraakwoordeboek van Afrikaans (Le Roux & De Villiers Pienaar, 1967:xi) kom die volgende stukkie voor wat vandag nog net so relevant is en waarmee ek wil afsluit:

      Die fonetikus en die taalondersoeker in die algemeen kan beswaarlik ’n groter fout begaan as die volgende: klanke met letters, uitspraak met skrif te verwar … Tog is dit ’n fout wat ons almal, meer of minder bewus, vanaf ons skooldae aankleef en wat jy ook dikwels daar aantref waar jy dit nooit sou verwag nie.

      Deur Nadine Fouche-Karsten

      Bronnelys

      AWS. 2017. Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de herbewerkte uitgawe. Kaapstad: Pharos.

      Coetzee, A.E. Fonetiek. 5de uitg. Pretoria: Van Schaik.

      De Villiers, M. 1967. Afrikaanse klankleer: fonetiek, fonologie en woordbou. Kaapstad: Tafelberg.

      Le Roux, T.H. & De Villiers Pienaar, P. 1967. Uitspraakwoordeboek van Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.

      Wissing, D. 2017. Fonetiek. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., eds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik.

      Wierenga, R. & Wissing, D. 2021. “Fonetiek en Fonologie”. Taalonderrigportaal. Virtuele Instituut vir Afrikaans. [https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal?link=Afdeling-Fonologie%2FAAG_FON_Inleiding.html]