Uit Wilna se pen

Liggaamsbewustheid bou selfvertroue

Deur Wilna van Rooyen

Kinders wat vertroue in hul lyfies het, tree met meer selfvertroue op.

Wat is liggaamsbewustheid?
Liggaamsbewustheid is een van die mees fundamentele vaardighede wat ’n kind kan ontwikkel. Dit behels om liggaamsdele te ken en te weet waar elke deel is, om te weet waar jou liggaam in die ruimte is, hoe die dele van jou liggaam met mekaar verband hou en hoeveel krag om te gebruik om aktiwiteite uit te voer. Dit is wat ‘n kind in staat stel om trappe te klim sonder om te struikel, ‘n sagte drukkie te gee in plaas van ‘n pynlike druk, op ‘n potlood te druk sonder om die punt te laat breek, en water in ‘n glas te gooi sonder om te mors.

Hoe ontwikkel liggaamsbewustheid?
Hierdie bewustheid ontwikkel geleidelik en natuurlik deur beweging, herhaling en sensoriese terugvoer — nie deur formele onderrig nie.

Elke keer as ’n kind klim, kruip, balanseer, dans of op ongelyke terrein hardloop, bedraad hulle die brein vir beter koördinasie en aanpasbaarheid

Drie stelsels werk saam om koördinasie te ondersteun

• Die vestibulêre stelsel vir balans en ruimtelike bewustheid
• Die proprioseptiewe stelsel vir liggaamsposisie en kragbeheer
Die visuele stelsel wat afstand bepaal en diepte skat

Wanneer hierdie stelsels goed ontwikkel is, beweeg kinders doeltreffend, bespaar hulle energie en navigeer hulle met selfvertroue in die omgewing waarin hulle hulself bevind

 Die impak op emosionele regulering
Kinders wat tuis voel in hul liggame, is beter toegerus om die innerlike sensoriese boodskappe wat hul liggame stuur op te merk.
So word hulle vroegtydig van spanning, moegheid en oorstimulasie bewus, sodat hulle daarop kan reageer voordat hul senuweestelsel daardeur oorweldig raak en dit vir hulle baie moeiliker word om te selfreguleer, logies te redeneer, te fokus en take uit te voer.

Liggaamsgebaseerde taal help
• “Dit lyk of jou lyfie bietjie moet strek en beweeg.”
• “Kom ons haal ’n bietjie diep asem om ons spiere te kalmeer.”
• “Hou jou arms wyd oop, haal diep asem, blaas stadig uit terwyl jy jouself ’n drukkie gee.”

Alledaagse roetines kan help om liggaamsbewustheid te bou

Ouers het nie spesiale toerusting nodig nie.
Alledaagse take help reeds baie, soos om…
• te help om ligte sakke met inkopies te dra
• die tafel te dek
• op een voet te staan terwyl tande geborsel word
• te buk om skoene aan te trek
• knope vas te maak
• te help om die kar te was of die tuin nat te gooi

Het jy geweet?
Speel versterk die brein-liggaamverbinding

Speel doen die res. Dink maar aan aktiwiteite soos:
• balansspeletjies
• op een been staan
• om op balanseerbalke te loop
• om “superman” op groot balle te speel
• hindernisbane
• dans
• buitelugverkenning
• klim en klouter
• swaai en draai
• verbeeldingryke bewegings (om soos allerlei diere te beweeg / spieëlspeletjies)

Hierdie bewegingservarings versterk die brein-liggaamverbinding op ’n natuurlike, prettige manier.

Selfvertroue deur beweging
’n Kind wat selfversekerd beweeg, dra daardie selfvertroue oral saam.

Elke sprong, tuimelbeweging en dans is ’n les in veerkragtigheid, gravitasiesekerheid en selfvertroue
’n Kind wat goed voel oor sy lyf, voel sommer goed oor homself.

Meer nog, hoe meer positief ’n kind oor homself voel, hoe makliker neem hy deel, groter word sy waagmoed, en makliker word dit vir hom om te leer en kreatief te wees.

Groete, Wilna van Rooyen