Uit Wilna se pen

Moedertaalonderrig bly die beste!

Deur Wilna van Rooyen

Beste Leser,

Hoe heerlik is dit om in jou moedertaal, Afrikaans, met jou kind te kan gesels, die mooi taal met ‘n uitgebreide skat van woorde tot ons beskikking.  Die taal wat nie net vir die afgelope 100 jaar ‘n amptelike taal is nie, maar wat ‘n kerktaal, ‘n skooltaal, ‘n universiteitstaal, ‘n vaktaal, ‘n hartstaal is.

Dink maar aan die ongelooflike skat van versies, rympies en gedigte waaroor Afrikaans beskik.  Al die informele en formele liede wat bestaan, die wonderlike boeke wat geskryf is, fiksie en nie-fiksie, boeke van hoë literêre waarde, wat met die beste in die wêreld vergelyk.

Die nuwe woorde wat deurlopend geskep word, die woordeboeke wat bygehou word, die gebruik van Afrikaans op radio en TV, die gebruik van die taal in die sosiale media.  Die gebruik van Afrikaans op talle terreine, maak ons trots op Afrikaans!

Om die taal nie net te laat voortleef nie, maar te laat gedy, vereis dat ons elkeen wat met Afrikaans te doen het, ons ten doel sal stel om die taal te gebruik, ons kinders daarin sal opvoed en laat onderrig.

Ons is terdeë bewus daarvan dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word, na skool met gemak in die wêreld funksioneer, ongeag die taal wat hul dan moet gebruik.

Baie Afrikaanse mense het ons land verlaat, wat druk op Afrikaanse Onderwys plaas.  Sommige ouers kies om hul kinders in ‘n tweede taal te laat onderrig, wat ook druk op Afrikaanse Onderwys plaas.  Laat ons egter volhou om Afrikaans as onderrigtaal vir ons kinders te kies en te gebruik, omdat dit grootliks in hul belang is.  Konsepte word makliker verstaan en aangeleer, lees met begrip is ‘n natuurlike uitvloeisel, kommunikasie en samewerking word vergemaklik, kreatiewe denke kry ‘n hupstoot, probleme word makliker opgelos.  Later word dieselfde vaardighede wat hier genoem is, met vrug gebruik, wanneer ‘n tweede of derde taal gebruik moet word.

Meertaligheid is ‘n positiewe uitvloeisel van ‘n moedertaalspreker.  As ons kinders in Engels laat skoolgaan, word Engels die enigste taal wat hul kan praat – hulle word dus eentalig.  Tweetaligheid of meertaligheid hou soveel meer voordele vir ons kinders in.

Meertaligheid verhoog breine se kapasiteit, wat beteken ‘n kind word meer intelligent, terwyl meertalige breine langer jonk bly.  Kinders wat aan meer as een taal blootgestel is, leer later ook makliker nog tale aan.

Wat sosiale strukture betref, voel moedertaalsprekers hul pas in.  Dit bevorder identiteitsvorming en bou ‘n positiewe selfbeeld, wat emosionele intelligensie bevorder.  Moedertaalonderrig bou selfvertroue en verhoog deelname in die klas, sportveld en op kulturele gebied, wat bydra tot die holistiese ontwikkeling van die kind.

Om in jou moedertaal te leef en te leer, is op talle vlakke voordelig vir kinders en is daarom in hul belang.  Mag ons besluite neem, wat werklike voordeel vir ons kinders inhou.

Baie dankie!

Vriendelike groete.

Wilna van Rooyen