UITNEMENDHEID IS ‘N REIS SONDER EINDE
‘n Algemene oorsig van die huidige onderwyssituasie skep ‘n beeld wat ten beste as disharmonies beskryf kan word. Die probleme is welbekend: onderwysers met onvoldoende vaardighede wat swak presteer, gebrekkige werksetiek, onvoldoende beheer deur onderwysowerhede, ‘n gebrek aan ondersteuning vanuit ouergeledere en bitter min aanspreeklikheid is enkele voorbeelde. Dit is g’n wonder dat so baie leerders stokkiesdraai of bloot wegbly nie. Die groot getal leerders wat langs die pad uitval en die hoë vlakke van misdaad in skole is ook direkte uitvloeisels van ‘n onderwysstelsel wat ‘n krisis beleef.
Dit is uiteraard so dat hierdie donker prentjie nie op alle skole betrekking het nie. Soveel skole gaan van krag tot krag, aangevuur deur toegewyde, gedissiplineerde, entoesiastiese en kundige hoofde, bestuurspanne en onderwysers. In die huidige klimaat is dit geen maklike taak nie en hierdie skole, en hul personeel, verdien die hoogste lof.
Dit is egter ook so dat daar altyd ruimte vir verbetering is, ongeag ‘n skool vanaf ‘n lae of hoë basis begin. Uitnemendheid in onderwys is inderdaad ‘n reis sonder einde. Met hierdie beginsel in gedagte wil ek graag my denke rondom onderwysleierskap kortliks belig.
Ek beskou onderwysleierskap as ‘n samewerkende vennootskap tussen hoofde, onderwysers, ouers, beleidmakers en, natuurlik, leerders. So ‘n vennootskap word gevestig en gekultiveer met ‘n primêre doel voor oë: ‘n visie van akademiese sukses vir elke enkele leerder. Akademiese sukses inkorporeer hoë standaarde en eksakte leerdoelwitte. Tesame hiermee, ‘n omgewing waar leerders veilig voel en ontvanklik is vir die ontwikkeling van nuwe vaardighede.
‘n Visie is nie woorde in ‘n raam teen ‘n muur nie. ‘n Visie leef en dit is die taak van die hoof om die inhoud daarvan aan alle belanghebbendes te kommunikeer, asook die aksies wat nodig is om dit te bereik en die vordering wat gemaak word.
Onderwysleierskap vereis van skoolhoofde om te delegeer. Sodoende word ander – onderwysers, ouers en leerders – bemagtig om medeverantwoordelik te wees vir die nastreef van die visie. Verdere voordele van delegering is natuurlik dat personeellede ‘n groter welbehae op persoonlike en professionele vlak ervaar, en dat hulle tuis voel in ‘n gemeenskap wat gesamentlik die hoogste onderrigstrategieë en -metodes nastreef. Die belangrikste? Leerders baat hierby!
Onderwysleierskap aanvaar ook dat nie net leerders nuwe vaardighede moet ontwikkel nie. Dit is beslis ook van toepassing op personeel. Hoofde moet toesien dat elke personeellid ‘n professionele ontwikkelingplan het, dat dit geïmplementeer word en dat personeel deurdagte terugvoering kry. Hoofde moet die voorbeeld stel deur hul eie vaardighede te ontwikkel, en bereid wees om aanpassings te maak op grond van nuut-gevonde kennis. Weereens, alles tot voordeel van die leerders!
‘n Land se sukses of mislukking word gebou op die fondament van menslike kapitaal. Tans sien ons dat gans te veel leerders sukkel met basiese boublokke. In Engels verwys ons daarna as die three basic R’s –
Reading, wRiting, aRithmetics.
Dit voorspel niks goed vir die toekoms nie. In 2008 het ‘n beroep soos Uber-bestuurder nie bestaan nie. Hoeveel beroepe wat gespesialiseerde vaardighede vereis, gaan nie in die toekoms ontstaan nie? Gaan Suid-Afrika in staat wees om tred te hou? Gaan ons met Swede en Singapoer kan kompeteer? Gaan ons ‘n ekonomie kan bou waarin die oorgrote meerderheid mense met waardigheid kan lewe?
Maak 2020 dus die begin van ‘n nuwe reis; ‘n reis na onderwysleierskap tot voordeel van leerders;
leerders wat die toekoms tegemoet moet loop met vertroue in hul vermoëns.