‘n Gesonde Selfbeeld
’n Eienskap wat ons kan uitsonder wat jou kind se toekomstige geluk en sukses kan waarborg, is ’n gesonde selfbeeld.
Hou kritiek opbouend! Afbrekende kritiek wat fokus op die negatiewe, gaan jou kind nie aanspoor nie. Moet veral nie jou kind voor ander verkleineer nie.
Moenie prestasies met liefde beloon nie! Jou kind verdien jou liefde en jou tyd, ongeag sy of haar prestasie!
Laat jou kind weet hy of sy voldoen aan jou verwagtinge, anders voel hulle dat hul net nooit goed genoeg is nie.
Waak daarteen om beloftes teenoor kinders te verbreek—hul voel dan dat hul net nie belangrik genoeg is nie.
Kinders hou van aanraking deur hul ouers, soos ’n drukkie of soentjie, jou hand op hul skouer sit, oor hul kop vryf, ens.
Leer jou kind om aan hom of haarself erkenning te gee, wanneer dit verdien word. Hulle moet ook komplimente positief kan hanteer.
Selfbeeld bou ‘n pantser:
Ouers se tyd is skaars en hul verpligtinge baie, maar dis baie belangrik vir jou kind se positiewe selfbeeld en selfrespek dat jy beskikbaar is om tyd saam met hom deur te bring. Dit laat hom of haar voel hul is belangrik en verdienstelik. Skep geleenthede vir positiewe samesyn, want dit is hoe gesinslede mekaar leer ken en respekteer, leer om onselfsugtig te wees en bande te bou. Beplan doelbewus gesinstyd wat almal kan geniet.
’n Gesonde selfbeeld beskerm jou kind ook in moeilike situasies. Seksuele misdadigers kies dikwels kinders met ’n lae selfbeeld, wat hulle dan “spesiaal” laat voel om hul samewerking te kry. ’n Sterk selfbeeld kan help dat ’n kind seker genoeg van homself voel om “nee” te sê vir misdadigers, of om iemand wat hy vertrou, van die misdaad te vertel.
Help jou kind om kommentaar en kritiek te hanteer deur positief te bly oor homself. Dit is belangrik om kritiek te hoor, maar dit moenie sy selfbeeld skaad nie. Help hom of haar om kritiek binne konteks te sien. Help jou kind om probleme positief te omskryf en teleurstellings te verwerk. Help om probleme te verstaan en werk saam aan ’n positiewe perspektief daarop.
Ken jouself! Sokrates Wees jouself! Sigmund Freud Gee jouself! Jesus Christus
Vrees:
Ons kleuters met hul ryk verbeelding ontwikkel dikwels vrese.
Erken die vrese: Moenie sy/haar vrese as belaglik afmaak nie! Vir hom of haar is dit ’n werklikheid, aanvaar die emosie. Luister met aandag. Sak af tot op jou knieë, kyk haar in die oë en gee jou volle aandag. So weet hy dat jy daar is vir hom. Hou jou reaksie kalm en vertroostend. Vee die monster met ’n besem by die huis uit, of spoel hom weg! Sit ’n gunsteling speelding onder die bed as nagwag.
Hou by roetine: Hou getrou by jul roetine. Die voorspelbaarheid help jou kind om voorbereid en in beheer te voel. Hou aandroetine rustig en koesterend. Jou kind moet seker wees van jou liefde en omgee.
Rus jou kind toe:: Gee jou kind strategieë en hulpmiddels, soos ’n nagliggie of troosvoorwerp. Los die deur oop, indien verkies.
Beheer jou eie angs: Moenie heeltyd gevare uitwys nie. Jou kind gaan jou vrees vir spinnekoppe, groot honde, diep water, ens. optel!
Monitor blootstelling: Dink mooi oor watter TV-programme, flieks, speletjies en boeke jou kind blootgestel word. Selfs onskuldige karakters kan jou kind bangmaak.
Geduld: Moenie jou kind dwing om dit wat hom bangmaak te trotseer nie. Dit sal sy vrees net vererger en vertroue in jou skaad. Gun hom tyd om dit self te ontgroei.
’n Anonieme skrywer het gesê vrees is die donkerkamer waar negatiwiteit ontwikkel word. Volgens Bertrand Russel is vrees die hoofoorsaak van bygeloof en een van die hoofbronne van wreedheid. Daarom is die oorwinning van vrees die begin van wysheid.
Vrede is die teenvoeter vir vrees.