Goeiedag,
Aan die einde van die jaar kan mens terugkyk en in verbasing staan oor al die suksesse, maar soms ook teleurstellings, van die jaar.
Suksesse moet gevier word en uit die teleurstellings of uitdagings kan mens baie leer.
Ek lees ‘n stuk wat deur Barry DC le Roux geskryf is en deel graag uittreksels uit sy skrywe: (volgens my interpretasie)
Die drie belangrikste bepalers van leer in skole:
Die onderwyser:
Die onderwyser is die belangrikste faktor binne die skool:
Hul skep sielkundige veiligheid, sodat leerders kan probeer sonder om te vrees.
Hul pas onderrig aan by die behoeftes van verskillende leerders.
Hulle motiveer, inspireer en modelleer denke.
Hulle bestuur die klaskamerklimaat.
Hulle bou verhoudings wat betrokkenheid dramaties verhoog.
Die formule kan as volg uitgedruk word: Goeie kurrikulum + slegte onderwyser = swak leer.
Gemiddelde kurrikulum + uitstekende onderwyser = sterk leer.
Die stelsel of skoolomgewing:
Die struktuur wat onderwysers óf toerus óf deaktiveer.
‘n Skool kan uitstekende onderwysers hé, maar as die stelsel:
- Chaoties is,
- ‘n tekort aan hulpbronne het,
- Oor swak leierskap beskik,
- Onderwysers oorlaai met administrasie,
…dan sukkel selfs die beste onderwysers.
Stelselfaktore sluit in:
- Leierskap en skoolkultuur
- Dissiplinestruktuur en konsekwentheid
- Ondersteuning vir spesiale behoeftes
- Beskikbaarheid van leerhulpbonne
- Professionele ontwikkeling van onderwysers
- Beleide oor ouerbetrokkenheid en die toepassing daarvan
‘n Sterk stelsel vermenigvuldig ‘n onderwyser se impak; ‘n swak stelsel kanselleer dit.
Alles anders:
Hierdie aspekte tree in wisselwerking met bogenoemde op:
Die leerder se huisomgewing:
60% van akademiese uitkomste spruit voort uit wat buite die skool gebeur:
- Stabiliteit, ondersteuning deur ouers of versorgers, leeskultuur.
- Voeding en slaap.
Kurrikulumgehalte:
‘n Duidelike, gestruktureerde, logies opeenvolgende kurrikulum help onderwysers en leerders.
Die kurrikulum alleen waarborg nie sukses nie (dit benodig goeie en genoegsame onderrig!)
Die portuurgroep:
Die portuurgroep beïnvloed gedrag, taalontwikkeling, aspirasies of ambisie, dissiplinepatrone.
‘n Swak gemanierde klas verlaag leer vir almal – selfs met ‘n goeie onderwyser.
Motivering en Leerderspigologie:
Geen stelsel kan interne motivering, denkwyse, nuuskierigheid en veerkragtigheid vervang nie.
Skole wat leer hoe om te leer, nie net wat om te leer nie, presteer beter as ander.
Sosio-ekonomiese konteks:
Armoede voeg kognitiewe las, stres, honger en onstabiliteit by, wat leertyd en aandag verminder.
Tegnologie: (die minste belangrik van almal)
Tegnologie help slegs as:
- Die onderwyser dit goed of effektief gebruik
- Die stelsel dit betekenisvol integreer.
Anders word dit slegs afleiding. (Dankie: Barry DC le Roux)
‘n Voorbeeld uit Finland: In Finland gaan kinders net vir 4 – 5 ure lank skool, maar hul tel nog onder die wêreld se top leerders. Met korter skooldae, minimale huiswerk, baie speeltyd, hoogsopgeleide onderwysers, wys hul dat slim, gebalanseerde leer beter werk as lang, stresvolle ure.
Aan die einde van die jaar kan ons terugdink en bepaal watter metodes ons gebruik het, wat sinvol en effektief was. Laat ons volgende jaar daarop fokus om ons leerders op alle gebiede te ondersteun en deel te maak van leer: sensories, motories, emosioneel, sosiaal, normatief en nie net kognitief nie.
Mag Kersfees opnuut betekenisvol wees en die nuwe jaar gevul met vrede, vreugde, voorspoed, seën, liefde, geduld en wysheid.
Groete!
Wilna van Rooyen.

