Uit Wilna se pen

Ondersteun Emosionele Intelligensie

Deur Wilna van Rooyen

Om jou eie emosies te kan bestuur is ‘n belangrike onderafdeling van emosionele intelligensie

Ons almal het nodig om emosioneel te reguleer – om rustig te raak wanneer dinge buite beheer is.

Maniere waarop ons emosionele regulering in kinders kan ondersteun:

  • Bou voorspelbaarheid.
    Roetines help om kinders en volwassenes te kalmeer. Wanneer kinders byvoorbeeld kan voorspel dat dit amper tyd is om huis toe te gaan, help dit om hul emosies kalm te hou.
  • Help om saam te reguleer.
    Gebruik ‘n kalm stemtoon en liggaamstaal om veiligheid uit te straal. Hou ‘n ontstelde kind styf vas totdat die hartklop bedaar en reëlmatig klop. Verseker ‘n kind van jou omgee – sonder oordeel.
  • Gebruik die liggaam om te kalmeer.
    Gebruik bewegings om spanning vry te laat. Sing liedjies en beweeg op maat daarvan. Sê saam versies op en klap die ritme van die versie. Vryf die hande teenmekaar en gee jouself ‘n drukkie.
  • Voorsien ‘n veilige hoekie.
    Skep ruimte waar kinders die geleentheid kry om self te reguleer. Sagte kussings of sitplekke kan baie help – selfs ‘n klein tentjie. ‘n Groot beer wat ‘n drukkie kan kry is ook nie te versmaai nie.
  • Herbevestig verhoudings wanneer kalmte intree.
    Dink saam oor strategieë en maak planne vir die toekoms – vir wanneer dinge dalk weer buite beheer kan raak.
  • Versterk verhoudings.
    Onderwysers behoort verhoudings met kinders by die skool te bou, sodat die kinders hulle kan vertrou. Sien positiewe gedrag raak en erken dit. Help kinders om verhoudings met mekaar te bou en vertrou hul voorkeure.
  • Vestig vaardighede.
    Leer kinders om diep in te asem en die lug dan stadig uit te blaas. Leer hulle ook om te fokus op dinge wat gevoel, gesien, gehoor, geruik, geproe en gedoen kan word wanneer hulle ontsteld is sodat hulle hul fokus kan verskuif na dinge wat buite hulself is, soos ‘n mooi liedjie wat speel, voëls wat sing, of ‘n aktiwiteit wat hul kan doen – soos om ‘n legkaart te pak.

Hoe lei ons kinders om hul emosies in moeilike situasies te bestuur?

Wanneer emosies te erg raak, kan dit voel asof die aarde te vinnig draai. Dan help “grounding” – oftewel om begrond, ge-aard of geanker te word – om alles weer in perspektief te bring.
*Die rede hoekom ‘n mens so onvas voel is omdat baie intense emosies ‘n stresreaksie veroorsaak waar die emosionele brein (amygdala) die logiese brein (prefrontale korteks) oorweldig en lamlê.1

Die 5-stap Ankertegniek:

Kort weergawe (vir jonger kinders of intense emosie):

“Kyk na 5 dinge wat jy kan sien.”
“Raak aan 4 verskillende teksture.”
“Luister na 3 geluide.”
“Ruik 2 reuke.”
“Proe 1 ding.” (Dit kan ‘n slukkie water wees.)

Uitgebreide weergawe (vir ouer kinders en
volwassenes):

“Kyk rond en noem 5 dinge wat jy kan sien. ”
“Raak aan 4 verskillende teksture en sê hoe dit
voel – bv. jou klere, die mat, die vloer en die
water bottel. ”
“Luister na 3 verskillende geluide en sê wat jy
hoor. ”
“Ruik 2 verskillende reuke en noem wat dit is
wat jy ruik. ”
“Proe een ding en sê wat jy proe. ”

Die uitgebreide weergawe is meer gepas vir ouer kinders , omdat dit meer kognitiewe verwerking verg.
Die korter weergawe is ideaal vir jonger kinders of vir iemand wie se emosionele brein so oorge stimuleer is dat die logiese brein “van lyn af is” .

Hierdie tegniek help nie net om kinders veilig en meer geanker te laat voel nie – dit werk net so goed vir volwassenes!

Groete , Wilna van Rooyen .