Uit Wilna se pen

Ouerwenke

Deur Wilna van Rooyen

Ouerwenke:

  • Die waarde van bedagsaamheid en vriendelikheid teenoor ander word bewys deur jou eie lewe.  ‘n Ouer moet vir sy kind die model wees.
  • Verwag van jou kinders dat hulle in die huis behulpsaam en bedagsaam moet wees.
  • Verwag van hulle om verantwoordelik te wees – selfs baie jong kinders kan skoonmaak waar hulle gemors het.
  • Huistakies en verantwoordelikhede moet vermeerder namate kinders groter word, dit kan al van 18 maande oud af begin.
  • Leer jou kinders dat eenvoudige goeie dade die lewe van ander mense kan verander.
  • Prys jou kind as jy oplet dat hy vir ander omgee.

Bron: Die hart van ‘n wenner…Dr. Pieter van Jaarsveld.

n Paar gedagtes oor skoolgereedheid:

Is jou kind gewillig om takies en opdragte aan te pak?
Kan hy of sy kritiek aanvaar sonder om dadelik in trane uit te bars of kwaad te word?
Kan jou kind sy of haar impulsiwiteit beheer?
Dit is alles tekens van sosiale skoolgereedheid.
Iets waarna mens kan oplet, is hoe jou kind op opdragte reageer.
Wanneer hy of sy skool toe gaan, moet dit by hom ‘n natuurlike aksie wees om dadelik te reageer as hy of sy ‘n opdrag kry en nie eers wanneer jy jou stem verhef nie.
Moenie iets vir jou kleuter doen wat hy self kan doen, of wat ander kleuters al self kan doen nie.
Raak oorbodig, sodat jou kleuter selfstandig kan word.

 

Kinders: 

‘n Kind se intelligensie is soos ‘n vlam wat, met die beste bedoelinge, maar alte maklik op twee teenoorgestelde maniere uitgedoof kan word: óf deur dit met te veel brandstof te voed, óf—en selfs belangriker—met te min.

Piet Cillié 

Iets te leer by gelukkiges: 

 YSLAND het ‘n onderwysstelsel wat kinders uitdaag om binne ‘n warm, skeppende omgewing hul volle potensiaal te bereik en almal word as gelykes gerespekteer.

In NOORWEë neem almal graag deel aan sport—somer en winter.

Baie kinders in die SKANDINAWIESE LANDE sing graag koor.

FINSE leerders gaan eers op sewe skool toe en opvoedingsmetodes in die laerskool wyk af van die tradisionele en word gestruktureer rondom speletjes-gebaseerde onderrig.  (Sensories-motoriese ontwikkeling vorm die basis van alle leer.) Skooldae is ook betreklik kort.

In al bogenoemde lande bly kinders so lank moontlik kinders.  (Sarie April 2017 het betrekking.)

Kom ons koester ons kinders se kindertyd!  Dit gaan blitsig verby en is nie herhaalbaar nie.

Ons het net een kans om hul die beste te laat beleef en dit is om onbevange kind te mag wees!   

Prettige aktiwiteite vir groot en klein

  • Perseptueel-motoriese vaardighede word tussen vyf en sesjarige ouderdom ontwikkel deur spelaktiwiteite soos boomklim, balskop en trampolienspring. Wanneer kinders nie genoeg aan hierdie vaardigheidsoefening blootgestel word nie, kan dit nagevolge inhou vir die toekoms.
  • Koördinasie, balans, skouerstabiliteit en lateraliteit (om innerlik tussen links en regs te kan onderskei) moet soos ‘n fondament gelê word en eers wanneer dit reg is, kan jy begin met formele leer, anders kan leerprobleme later ontwikkel. Anienie Veldsman

 

Hier volg ‘n klompie aktiwiteite wat ouers saam met hul kinders kan doen om grootspiere te ontwikkel.

  1. Kruiwaloop: Hou jou kind se bene net bo die knieë vas en laat hom vorentoe of agtertoe op sy hande loop. Dié speletjie stimuleer die hand-, nek- en rugspiere.  Dit is ook ‘n bilaterale aktiwiteit, dit wil sê die twee hemisfere van die brein werk saam.
  2. Diereloop: Loop soos ‘n groot olifant, vlieg soos ‘n vlinder of soos ‘n voëltjie, hop soos ‘n hasie, skop soos ‘n donkie, spring soos ‘n padda, loop soos ‘n gorilla, loop soos ‘n krap, ens. Dit stimuleer ‘n klomp spiergroepe en lei tot beter ruimtelike vaardighede en motoriese beplanning. Dit stimuleer ook die verbeelding en probleemoplossingsvaardighede.
  3. Bollemakiesie: Deur vorentoe te rol word spiere wat baie belangrik is vir balans en motoriese beplanning gestimuleer.
  4. Spring: Spring op een beentjie, twee beentjies, maak sterspronge, wat eli tot beter bewustheid van die liggaamsdele in die ruimte, asook balansvaardighede.
  5. Huppel en kruishuppel: Hierdie bewegings stimuleer die vloeiende gebruik van die twee helftes van die liggaam en middellynkruising.  Die heup-, maag- en rugspiere word onder andere hierdeur ontwikkel.

Ma’s:  

Ander mense kan jou liefhê, maar net ‘n ma verstaan.  Ander mense werk vir jou, maar net ‘n ma sloof haar af.  Ander mense kan jou verpleeg, maar net ‘n ma versorg. Wie kan jou ooit só liefhê of so vergewe? Die enigste slegte ding wat ‘n ma kan doen, is om op te hou lewe.

Barones Hutton