PANDEMIE BIED GELEENTHEID OM OOR ONDERWYSMODELLE TE HERBESIN
Daan Potgieter | Hoof Uitvoerende Beampte | Afrikaanse Onderwysnetwerk
Een goeie aspek van grendeltyd is tyd. Tyd om stil te raak, te besin, te herdink en herbeplan. Met die uitdagings wat die pandemie aan onderwys gestel het en die gepaardgaande krisisbestuur waartoe dit gelei het, het die vraag laat ontstaan: is ons besig om die regte goed rég te doen?
Dit is dalk nou die geleentheid om totaal nuut na onderwysmodelle te kyk. Die lering van wetenskaplike bestuur en ander prosesse in onderwys soos ons tans ken het skouspelagtig neergestort – en dit as gevolg van ‘n virus! Soos Taylor se siening in sy boek, The Principles of Scientific Management word van standardisering, oorbeklemtoning van toetsing/meting ook in onderwys rigied en misleidend toegepas. Die huidige klemverskuiwing op die skryf van toetse en selfs die weglaat van minder belangrike dele van die kurrikulum onderstreep die argument dat dit dalk in die eerste plek oorbodig was. Die dringende najaag van hierdie praktyk blyk dus nou nutteloos en ‘n mors van geld, tyd en energie.
Die skokkende is egter nie net dat daar nou ‘n besef ontstaan het dat toetse oorbodig is nie, maar dat skole reg oor die wêreld kan sluit en ‘n kwartaal sondermeer net uitgevee kan word. Meteens was duisende onderwysers en miljoene leerders (nagenoeg 420 miljoen wêreldwyd) totaal verlore en ontnugter. Wat doen ons sonder die rigiede voorskrif en roetine van ‘n skool, klaskamer en toetse? Die digitale leerplatforms was inderhaas geskep is, is ook nie veel meer as die normale klasroetine en lesaanbieding wat via digitale platforms afgelewer word nie. Die tragedie van hierdie praktyk is dat die leerder nou ‘n keuse het om vanaf die rusbank of die kombuis na die onderwyser se aanbieding te luister en/of kyk en dit enige oomblik kan afskakel. Wat duidelik blyk uit die huidige uitdaging is dat die vaardighede wat benodig word vir die suksesvolle gebruik van tegnologie tesame met die toepassing van vakinhoudelike kennis dikwels nog by baie ontbreek. Dit is ‘n area wat onmiddellik deur opleiding en vaardigheidsontwikkeling aangespreek behoort te word ten einde die gaping te oorbrug. Die nuwe onderrigmodel kan slegs suksesvol uitgerol word indien hierdie gaping met dringendheid aangespreek word.
Waarom het die tradisionele onderwysmodel dan in duie gestort as ‘n siening gehuldig word dat inligting steeds die belangrikste onderwyskomponent is?
Terugvoer van skole wys daarop dat ons steeds glo dat inligting en data en die suksesvolle oordrag daarvan die belangrikste onderwyskomponent is en dat toetsing bloot die vermoë van leerders om te memoriseer en inligting weer te gee, bepaal. Gedurende die grendeltydperk het e-leer in baie gevalle slegs behels dat dieselfde inligting wat die onderwyser in die klas sou aanbied net deur ‘n ander platform of medium oorgedra is.
Oor die afgelope paar dekades was daar gereeld kenners wat die onderwysmodelle verander het met beloftes van transformasie, ontsluiting van vaardighede en bemagtiging. Een na die ander het hierdie leringe ook tot ‘n val gekom en vele modegiere het ook gekom en gegaan. Dink byvoorbeeld hoeveel interaktiewe witborde werklik optimaal in ‘n klas gebruik word en hoeveel daar is wat in onbruik verval het. Hierdie is maar een van die stille getuies van mislukte onderwysinisiatiewe.
Groot koste is aangegaan om hierdie noodsaaklikhede aan te skaf en vele begrotings is op soortgelyke blink, nuwe giere spandeer in plaas daarvan om beleggings in mense en opleiding te maak. Dit het goed ingeskakel by die huidige uitgangspunt was om inhoud en inligting aan leerders oor te dra (pushing of content) veel eerder as die ontwikkeling van vaardighede en denke.
Die oorkoepelende doel van al die onderwysmodelle en -programme was eenvoudig: die fasilitering en meting van die oordra van inligting. Nie-toepaslike kennis is jaar na jaar aan leerders oorgedra en ingeprent. Die vermoë om te memoriseer is met herhaling getoets en verder moet ons nie van die kompetisie faktor vergeet nie. Ons uitslae moet beter wees as dié van die buurskool en daarom rig ons ons leerders baie goed af om op hierdie manier sukses vir die skool te behaal!
Tog is daar duisende onderwysers wat net in die beste belang van leerders wil optree en net die beste bedoeling en intensies het, maar ongelukkig word hulle aan bande gelê met ‘n rigiede, voorskriftelike stelsel en word die gepaardgaande administratiewe las vir hulle ondraaglik.
Is die huidige onderwysmodelle sterk genoeg om die volgende generasie voor te berei op maniere om wêreld uitdagings soos aardverwarming, ekonomies-, sosiale- en kulturele uitdagings na die pandemie op te los? Gaan die memorisering van feite, of die voorskrifte om een of ander konkoksie saam te flans, hulle genoeg vaardighede, ervaring, kennis en perspektief gee om die uitdagings wat in die volgende twee dekades op hulle wag, die hoof te bied? Die afrigting vir toetse, wat skielik ook nie meer so relevant en toepaslik is nie, gaan geen bydrae tot leerders se vermoë of vaardighede lewer om enige van hierdie uitdagings aan te pak nie.
Die betoog gaan nie teen inligting en die belangrikheid daarvan nie! Inligting is vrylik en maklik bekombaar. Met die druk van ‘n knoppie is enige en alle inligting tot ‘n persoon se beskikking. Die uitdaging is ook nie om dit bloot te memoriseer of onkrities te absorbeer nie. Die pandemie het ons weer onder die besef gebring dat “hoe” ons onderrig net so belangrik is as ‘wat” ons onderrig. Waarom bekommerd wees oor die persentasie van leerders wat die gestandardiseerde eksamen slaag, as hulle nie die leerproses kan gebruik om hul lewens en die van die gemeenskap te kan verbeter nie?
Ons fokus ná die pandemie moet daarop gerig wees om afgeronde, bekwame, vaardige en toegerusde leerders te ontwikkel. Die probleem met ‘n instruktiewe fokus op inligting is nie net dat dit nie afgeronde, bekwame, vaardige en mensgerigte leerders ontwikkel nie, maar hulle opeis. Instruktiewe leer skep die ideale omgewing vir outomatisering – daarom dat soveel innoverende onderwysmodelle probeer het om onderwysers met masjiene en algoritmes te vervang. Die beginsel van oordra van inligting is op sy beste onvolledig, elementêr en onderontwikkel.
Die DIKW-piramide (data, inligting, kennis, wysheid) wil ons weer herinner wat ons fokus behoort te wees asook die eintlike doel van onderwys – veral na die pandemie: mense wat data en inligting tot sinvolle inhoud kan verwerk en wat die kennis in ‘n relevante konteks met wysheid en insig kan toepas
Die toekomstige leeromgewing gaan meer menslikheid en minder meganisasie, minder data en meer wysheid, minder objektiwisering en meer verpersoonliking, minder Plato en meer Aristoteles nodig hê. Die huidige modelle skiet vér te kort.
Die pandemie het dalk reeds die besondere geleentheid geskep om krities, vernuwend en innoverend na onderwys en onderwysmodelle te kyk.