Uit Wilna se pen

Persoonlikhede in jou klas

Deur Wilna van Rooyen

Watter persoonlikhede word in jou klas verteenwoordig?

‘n Nuwe kwartaal bied geleentheid vir nuwe idees en nuwe denke.  Om vas te stel watter persoonlikhede in jou klas teenwoordig is en begrip daarvoor te hê, maak die lewe vir jou en die kinders sommer baie makliker.  Neem ook jou eie persoonlikheid in ag, want dit het ‘n invloed op hoe jy teenoor die persoonlikhede in jou klas optree.

Volgens die webwerf www.colorcode.com kan mens persoonlikhede in vier kleure indeel, nl. Rooi, blou, wit en geel. (Vrouekeur webblad – Zerelda Esterhuizen)  Lynette Beer praat weer in haar boek:  “Watter kleur is jou persoonlikheid?” van rooi, blou, geel en groen kleure.  In “Kweek kinders met karakter” praat Hettie Brittz van die boomtipes, wat die persoonlikhede van kinders uitbeeld.  ‘n Kort opsomming help om kinders te identifiseer en korrek teenoor hul op te tree.

ROOI:  Hierdie kinders kry dinge gedoen.  Hulle is hoogs gemotiveerd en gedrewe.  Hulle is gewoonlik verantwoordelik, vasberade, pro-aktief en selfgeldend.  Hulle het ook sterk leierseienskappe.  Hulle is gewoonlik ekstroverte, wat hul doen moet sin maak en prakties uitvoerbaar wees. Dit is hul sterk punte, maar daar moet gewaak word teen baasspelerigheid, veeleisendheid, hul kan argumenterend wees, wil altyd reg wees, kom aggressief voor, is manipulerend en dikwels selfsugtig.

Hoe hanteer mens “rooi” kinders?: Hierdie eienskappe moet  bestuur word en positief gekanaliseer word:  Gebruik logiese beredenering, wees direk en spesifiek, help die kind om sy of haar intelligensie te ontwikkel en laat hom of haar toe om besluite te neem.

Belangrik: Moenie vir hierdie kind preek of ooremosioneel reageer nie, moenie te baasspelerig wees nie en moet nooit hierdie  kind voor ander kinders verneder nie.

BLOU:  Sterk punte:  Hierdie mense is baie lojaal, maklik dissiplineerbaar, is goed aangepas, hulle gee om vir ander mense en is baie betroubaar.  Hulle stel hoë standaarde en werk hard om daaraan te voldoen.  Hulle is dikwels introverte en hou nie van die kalklig nie.

Waak hierteen:  Hul raak gou gefrustreerd, is baie sensitief, is maklik buierig en emosioneel, is baie krities en kan martelaar speel.

Hoe hanteer ons “blou” kinders?  Wees sensitief, help die kind om veilig te voel, waardeer die kind, wees opreg en bevorder kreatiwiteit.

Moenie die kind skuldig oor dinge laat voel nie, moenie spontaneïteit verwag nie, moenie van hom of haar verwag om altyd te vergewe nie, moenie perfeksie verwag nie.

WIT/GROEN:  Sterk punte:  Hierdie kinders is vredemakers, hul is baie akkommoderend, gemaklik met hul eie geselskap, glad nie vol drama nie, nooit veeleisend nie.  Hul is spitsvondig met ‘n droë humorsin.  Hulle is baie prakties en bekwaam.  Al is hul gewoonlik introverte, kan hul wel goeie leiers wees.

Waak hierteen:  Hierdie kinders hou niks van druk nie, voel dikwels ongemaklik met sosiale interaksie, is soms onverskillig  en voltooi selde take.

Hoe moet “wit” kinders hanteer word?  As jy moet kritiseer, doen dit opbouend.  Luister aandagtig.  Bevorder betrokkenheid sonder om uitermate druk toe te pas.  Aanvaar die kind se individualiteit.

Moenie onsensitief wees nie, moenie sosiale interaksie afdwing nie, moenie hierdie kind dwing om in te pas nie.

GEEL:  Sterk punte:  Hierdie kinders geniet die lewe, aanvaar ander maklik, is baie sosiaal, is mal oor drukkies en fisieke aanraking en is nuuskierig.   Hulle leef in die oomblik en is sorgvry.  Hulle praat maklik en met entoesiasme.

Waak hierteen:  Hulle hou nie van outoriteit nie, is baie bekkig, is geneig om selfsugtig te wees, is soms onverantwoordelik en kan ‘n terggees wees. Hulle wil graag mense gelukkig maak en bied oral hulp aan – later het hul te veel hooi op hul vurk.

Hoe hanteer ons “geel” kinders?:  Wees positief en opbouend, prys hierdie kinders en toon liefde op ‘n tasbare manier, bevorder kreatiwiteit, laat verbale uitdrukking toe.

Moenie te ernstig wees nie,  Moenie hierdie kinders ignoreer nie, moenie perfeksie verwag nie.  Daar moet tyd wees vir pret en plesier.

Hierdie is ‘n baie kort opsomming van ‘n komplekse onderwerp, dis beslis die moeite werd om verder daaroor na te lees!

Saamgestel deur Wilna van Rooyen

Lees meer:

Vrouekeur – Zerelda Esterhuizen

Lynette Beer – Boek:  Watter kleur is jou persoonlikheid?

Juig – Die vier Geesbeheerde temperamente

Hettie Brittz – Kweek kinders met karakter

Kobus Neethling – The 8 dimensional thinking.