Kinders wat met propriosepsie sukkel kan wel gehelp word. Hulle het ekstra insette nodig om hul liggame rustig te hou, en hulle het hulp nodig om hul bewegings te organiseer en te reguleer.
Die volgende aktiwiteite help:
• Hulle kan gewigdraende oefeninge doen, bv. om te help om inkopies, boeke, en wasgoedmandjies vol wasgoed te dra.
• Hulle kan buite met bakstene bou wat lekker swaar is.
• Hulle kan ‘n waentjie of speelgoedkruiwa vol sand rondstoot of -trek, help om met die stofsuier in die huis te werk, of swaar bokse rondstoot.
• Moedig hulle aan om aan hul arms te hang aan ringe of die dwarslatte van klim- en klouterapparaat, of om te hang aan die takke van ‘n boom wat groot en stewig genoeg is om in te klim.
• Hulle kan op ‘n hoop kussings val, spring, rol, strek en duik.
• Laat hulle soos krappe hande-viervoet (op vier ledemate) rondstap met ‘n pak rys of mielies op die rug.
• Stywe drukkies – of om styf vasgehou te word – stuur boodskappe na die brein omtrent waar die liggaam hom bevind.
• Rofstoei met pappa of mamma is genotvol en help met propriosiewe ontwikkeling. (Alhoewel rofstoei met maats voordelig kan wees, kan dit in ‘n geveg ontaard wanneer daar te veel druk toegepas word.)
• Die mondspiere versterk wanneer kinders kougom kou, borrels blaas, deur strooitjies suig en plastiese balle opblaas. Lekker aktiwiteite, soos om papierbootjies op water met strooitjies aan te blaas, is ook groot pret.
• ‘n Stresballetjie of klei wat gedruk en gemanipuleer word, help om die hande besig te hou en handspiere te versterk.
Hoekom help hierdie aktiwiteite?
Die brein ontwikkel ‘n outomatiese reaksie op inligting wat herhaaldelik van die sintuie af ontvang word.
Wanneer inligting herhaaldelik van die proprioseptiewe reseptore ontvang word, ontwikkel die brein ‘n “kaart van die liggaam”
‘n Liggaamskaart anker ‘n mens in die tasbare wêreld waarin jy leef.
‘n Liggaamskaart is die brein se interne prentjie van jou eie liggaam. Dit vorm deur beweging, taswaarneming, en inligting wat ontvang word van ander sintuie en gewrigte. Soos jy aan dinge raak en beweeg, ruik, proe, hoor en sien, leer jou brein waar elke liggaamsdeel is en hoe dit voel.
Tod Perelmuter het gesê: “Ons sintuie is die deurgang na hierdie spesifieke oomblik en hoe meer ons bewus raak van elke oomblik, hoe minder sal ons in ons eie gedagtewêreld leef en hoe meer sal ons voluit kan lewe en die meeste uit elke lewensoomblik put.”
Ons wens vir ons kinders is dat hulle voluit sal leef!
Groete, Wilna van Rooyen

