Beste Lesers,
Ons het al baie gesels oor spel, maar dié onderwerp kan nooit uitgeput raak nie, aangesien die waarde van speel nooit genoeg beklemtoon of ontgin kan word nie. Vandag beklemtoon ons graag ‘n paar aspekte van wat die waarde van spel is.
Wat is propriosepsie?
Propriosepsie is jou liggaam se vermoë om te weet waar jou liggaamsdele is en hoe hulle beweeg. Dit werk soos ‘n onsigbare sesde sintuig. Dit stuur boodskappe van die spiere en die gewrigte af na die brein.
‘n Voorbeeld daarvan is om jou oë toe te maak en aan jou knie te raak – propriosepsie is die rede hoekom jy weet waar jou knie is, sonder om daarna te kyk.
Hoekom is dit belangrik?
Kinders sukkel om vloeiende, gekoördineerde en beheerde bewegings uit te voer wanneer hul breine nie genoeg akkurate inligting van hul proprioseptiewe sintuig ontvang nie.
Gevolglik is dit vir hierdie kinders ‘n probleem om te kruip, loop, en teken. Prakties gesproke sukkel hulle om hul bewegings te beplan, hul lyfies in ‘n stabiele posisie te hou, ‘n bal na ‘n teiken te gooi, en om te weet hoe hard of sag hulle op ‘n potlood moet druk.
Kinders met gebrekkige propriosepsie lei dikwels aan ‘n swak selfbeeld omdat dit vir hulle voel asof hulle opdragte gedurig verkeerd uitvoer. Dit gebeur ook dat maats hulle verwerp omdat hulle ander kinders soms per ongeluk seermaak.
Wat is die rooivlae?
- Daar is tekens wat maklik vir ‘n mens wys dat ‘n kind se propriosepsie nie na wense ontwikkel nie:
- Hulle is meer lomp is as tipiese kinders, en meer geneig is om teen voorwerpe te stamp en seer te kry.
- Hulle sukkel om bewegings te koördineer. Hulle sal byvoorbeeld gereeld hard teen maats stamp en rof met hulle speel, en hulle is geneig om só hard op ‘n potlood te druk dat die punt soms breek. Dis ook opvallend dat ‘n mens hulle kan hoor loop, omdat hulle hul voete besonder hard op die vloer neersit.
- Hulle beweeg gedurig. Hulle skop aanmekaar teen voorwerpe, vroetel met die hande, kou aan klere of iets anders, byt naels of knak gedurig hul kneukels.
- Hulle kan oorenergiek wees. Hulle hardloop wild, spring rof, wip rond of maak onvanpaste geraas.
- Hulle voel nie gemaklik in hul liggame nie. Gevolglik hou hulle van klere wat styf pas en sukkel hulle om hul liggaamsposisie te handhaaf – wat lei daartoe dat hulle sukkel om stil te sit of op een plek te staan.
Soms dink ‘n mens sulke kinders is stout, maar eintlik sukkel hul net om hul liggame te beheer.
Groete, Wilna van Rooyen.
Lees ook: Propriosepsie: Jou sesde sintuig deur Marinda Schutte, Maroela Media Julie 2023, Baba en Kleuter Aug. 2015.

