Sinne op skoolvlak: Nou maak dit sin! (Deel 1)

  1. Inleiding

Daar is soveel definisies vir die term sin wat verhoed dat onderwysers weet wát ’n sin nou eintlik is,  watter tipe inligting hulle moet insluit en watter voorbeelde hulle moet gebruik wanneer die sin onderrig moet word. Vergelyk maar ’n paar voorbeelde van definisies:

  • ’n Sin is ’n eenheid (’n woord / ’n groep woorde) wat deur intonasie as ’n voltooide geheel gekenmerk word en wat geïsoleerd gebruik kan word. Met ander woorde, ’n sin is volgens sy vorm onafhanklik en ook op betekenisvlak onafhanklik, want dit is nie op die situasie of die omringende taalverband aangewese om verstaan te word nie.
    • Hierdie definisie impliseer dat taaleenhede soos Meneer Jansen, Eina! en Hy loop as sinne gereken word, hoewel jy sal agterkom dat ons slegs Hy loop as ’n sin klassifiseer (kyk na die gevolgtrekking aan die einde van hierdie blog vir ons standpunt oor taaleenhede soos Eina! en Meneer Jansen).
  • ’n Sin is ’n groep woorde wat ’n volledige gedagte uitdruk, nie tot ’n groter sintaktiese eenheid behoort nie en ’n afsonderlike klankeenheid vorm.
    • Hierdie definisie impliseer dat iets soos Foeitog! as ’n sin gereken word, omdat dit ’n volledige gedagte uitdruk, al is dit net een woord. Soos gaan blyk uit afdeling 2 hierna en die gevolgtrekking aan die einde van die blog, is hierdie woord, gemeet aan ons definisie van ’n sin, beslis nie ’n sin nie.
    • Hier word ook gemeld dat ’n sin ’n afsonderlike klankeenheid is. Vir ’n moedertaalspreker sal dit duidelik wees waar een sin as ’n “afsonderlike klankeenheid” eindig, maar nie vir aanleerders van ’n taal nie. Derhalwe word die definisie van ’n sin as ’n afsonderlike klankeenheid nie as voldoende beskou om ’n sin te identifiseer nie.
  • ’n Sin is iets wat uit ’n onderwerp en ’n gesegde bestaan.
    • Dit is die definisie wat ons as vertrekpunt in hierdie blog gaan gebruik.

In hierdie blog word die eienskappe van ’n sin, soos vervat in VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika, gelys. Daarna word elkeen van die eienskappe verduidelik. Laastens word ’n aantal voorbeelde gegee en ontleed volgens hierdie eienskappe. In ’n volgende blog, getiteld Die sin: kreatiewe, leerdergesentreerde onderrigleeraktiwiteite vir die Afrikaansklaskamer word leeraktiwiteite voorgestel om sinne op ’n geïntegreerde en ontdekkende wyse te onderrig.

 

  1. Wat is ’n sin?

 

·         ’n Sin is ’n taaleenheid wat sintakties onafhanklik is en minstens uit twee basiese sinsdele bestaan, naamlik ’n onderwerp (ons noem dit ook die subjek) en ’n gesegde.

·         ’n Sin kan selfs uit meerdere sinne saamgestel wees.

·         Naas die feit dat ’n sin uit meer as een sin saamgestel kan word, kan dit ook taaleenhede bevat wat nie geïntegreer is in die subjek óf die gesegde van die sin nie.

 

  1. Wat beteken hierdie definisie?
  2. Toepassing

Noudat ons weet wat die eienskappe van ’n sin is, kan die onderstaande sinne gemeet word aan hierdie eienskappe om te bepaal of hulle werklik sinne is.

Voorbeeld 1: Stefan eet ’n toebroodjie.

&  Hierdie taaleenheid is sintakties onafhanklik, omdat dit net so binne ’n teks (waarna ons luister en wat ons lees) gebruik kan word om die betekenis oor te dra dat Stefan besig is om iets te eet.

& Dit het beslis ’n subjek (naamlik Stefan) en gesegde (naamlik eet ’n toebroodjie) wat duidelik vir ons genoem word.

& Dit is ’n voorbeeld van ’n sin wat uit slegs een sin saamgestel is.

 

Voorbeeld 2: Hy sê dat Stefan ’n toebroodjie eet.

& Hierdie taaleenheid is sintakties onafhanklik, aangesien dit net so binne ’n teks gebruik kan word om die betekenis oor te dra van iemand wat vertel van Stefan se aksie (dat hy ’n toebroodjie eet).

& In teenstelling met voorbeeld (1) bestaan voorbeeld (2) uit twee kleiner sinne, naamlik hy sê en Stefan eet ’n toebroodjie (waarvan die woordorde – die werkwoord eet wat skuif na die einde van die sin – verander as gevolg van die gebruik van die voegwoord dat). Hulle word as sinne gereken, omdat hulle ’n subjek en gesegde bevat:

  • Hy sê [subjek: hy; gesegde: ]
  • Stefan eet ’n toebroodjie [subjek: Stefan; gesegde: eet ’n toebroodjie]

 

 

Let op dat die voegwoord (naamlik dat) nie op enige manier deel van die tweede sin vorm nie, met ander woorde dit het nie ’n plek in die subjek van die tweede sin (naamlik Stefan) of die gesegde (eet ’n toebroodjie) nie.

Die sin Stefan eet ’n toebroodjie verrig eintlik een of ander werk vir die sin hy sê. Dit dui op dít wat die “hy” sê.

 

Voorbeeld 3: Die toebroodjie wat Stefan eet, lyk heerlik.

& Hierdie taaleenheid is sintakties onafhanklik, aangesien dit net so binne ’n teks gebruik kan word om die betekenis oor te dra van Stefan se toebroodjie wat smullekker lyk.

& Net soos voorbeeld (2) bestaan dit ook uit twee kleiner sinne, naamlik die toebroodjie lyk heerlik en Stefan eet die toebroodjie.

Jy wonder seker of die tweede sin nie liewers wat Stefan eet moet wees nie? Wel, die sin wat Stefan eet is eintlik die resultaat van ’n hele proses wat plaasgevind het.

 

Die skrywer sien dat die toebroodjie lyk heerlik en Stefan eet die toebroodjie ’n sinsdeel gemeen het (naamlik die toebroodjie).

 

Om hierdie twee sinne op ’n manier saam te voeg, word die woord wat gebruik. Dit doen twee dinge tegelykertyd: (i) Dit skakel die herhaling van die toebroodjie in die tweede sin uit; (ii) en dit verbind die tweede sin met die vorige sin. Gevolglik skuif die werkwoord eet na die einde van die sin. Vergelyk:

·         Die toebroodjie lyk heerlik [wat (= die toebroodjie) Stefan eet].

 

Omdat ’n sin wat deur ’n betrekkingswoord ingelei word, iets oor ’n ander sinsdeel sê, maak dit sin om dit direk ná hierdie betrokke sinsdeel te plaas. Die vorige sin kan daarom soos volg herskryf word:

·         Die toebroodjie wat Stefan eet, lyk heerlik.

 

In teenstelling met die voegwoord dat in voorbeeld (2) vorm die betrekkingswoord wat deel van die tweede sin (naamlik wat Stefan eet).

 

Hulle word as sinne gereken, omdat hulle ’n subjek en gesegde bevat:

  • Die toebroodjie lyk heerlik. [subjek: die toebroodjie; gesegde: lyk heerlik]
  • Stefan eet die toebroodjie. [subjek: Stefan; gesegde: eet die toebroodjie]

 

Voorbeeld 4: Johan, ek wonder nou oor Stefan se toebroodjie.

&  Hierdie taaleenheid is sintakties onafhanklik, omdat dit net so binne ’n teks gebruik kan word om die betekenis oor te dra dat iemand besig is om oor Stefan se toebroodjie te wonder. (Dit moet ’n heerlike toebroodjie wees!)

& Die sin, naamlik Johan, ek wonder nou oor Stefan se toebroodjie bevat ’n subjek en gesegde:

  • Subjek: ek
  • Gesegde: wonder nou oor Stefan se toebroodjie

& Dit bevat ook ’n taaleenheid wat as ’n aanspreekvorm gebruik word (naamlik Johan), maar wat nie geïntegreer is in die subjek of die gesegde van die sin nie. Vergelyk hier onder hoe min die sin sou sin maak as die aanspreekvorm wel in die subjek of die gesegde gebruik sou word. Die subjek en die gesegde word telkens tussen blokhakies geplaas.

  • Deel van die subjek: *[Ek Johan] wonder nou oor Stefan se toebroodjie.
  • Deel van die gesegde: *Ek [wonder Johan nou oor Stefan se toebroodjie].

 

Gevolgtrekking

Ek hoop dat hierdie blog jou kan help om die aanwesigheid van ’n sin aan bepaalde eienskappe te meet. Die tradisionele siening dat ’n sin iets is wat met ’n hoofletter begin en met ’n leesteken (soos ’n punt) eindig of iets is wat ’n samehangende gedagte uitdruk, veroorsaak verwarring. Byvoorbeeld, sou hierdie laasgenoemde definisie as die standaarddefinisie vir sin geld, sou ’n taaleenheid soos Sjoe! of ’n afkorting wat begin met ’n hoofletter en afgesluit word met ’n punt (bv. Mnr.) verkeerdelik as ’n sin gereken word. Sulke taaleenhede is nie sinne nie. Neem die woord sjoe as voorbeeld.

  • Volgens ons meetbare kriteria bevat dit nie ’n subjek of gesegde nie.
  • Dit is bloot ’n tussenwerpsel – ’n woordsoort wat normaalweg van die res van die sin geskei (bv. Sjoe, ek is moeg! of Ek is moeg, sjoe!) of alleenstaande gebruik word.

Dit is ook belangrik om daarop te wys dat sommige taalkundiges die sin gelykstel aan ’n taaleenheid wat “volledig” is en die “ideale” vorm het. Hierdie siening veronderstel dat die gebruik van Agter die deur as antwoord op die vraag Waar is die besem? nie deur hierdie taalkundiges as ’n sin gereken word nie. Tog beskou ons Agter die deur as ’n sin waarin die subjek en die gesegde nie eksplisiet genoem word nie, maar tog geïmpliseer word. Ons kan sê Die besem is agter die deur waar die besem die subjek en is agter die deur die gesegde is.

Buiten dat daar praktiese wenke vir die onderrig van die sin in die blog Die sin: kreatiewe, leerdergesentreerde onderrigleeraktiwiteite vir die Afrikaansklaskamer gegee word, kan jy verdere teoretiese blogs oor simplekse sinne en komplekse sinne verwag. Die blog oor simplekse sinne sal oor hul vorm en funksie handel, en in die blog oor komplekse sinne (oftewel saamgestelde sinne en veelvoudige sinne) sal onder andere verwys word na die tipes sinne waaruit komplekse sinne bestaan en die eienskappe van hierdie onderskeie sinne. Een blog sal spesiaal aan die bulletjie van die sinsfamilie – die bysin – afgestaan word.

VivA-groete

Nadine Fouché-Karsten