Narsiste is mense wat dink hulle is belangriker as ander. Hulle gedy wanneer die aandag op hulle gefokus word. In Engels sê ons hierdie mense het “delusions of grandeur”, wat beteken hulle wil die hele tyd in die kollig wees. Hulle is die rede vir die partytjie, en almal se aandag moet op hulle gefokus wees.
Die onderwerp (of subjek) van ‘n sin is ‘n narsis. In sinsontleding (sintaksis) is hierdie narsistiese laventelhaan regmatig die fokuspunt van die sin.
Soos ek in my vorige blog verduidelik het, is die twee basiese sinsdele van elke sin die onderwerp/subjek en die gesegde. Die onderwerp/subjek en gesegde is die twee dele wat nie (buiten onder baie spesifieke omstandighede) uit ‘n sin weggelaat kan word nie.
Die narsistiese onderwerp/subjek is die haan op die partytjie. Sonder hom is daar nie ʼn partytjie nie. Hy is die partytjie. Hy raas en drink en praat die hardste.
Wat beteken dit as ons sê ʼn sinsdeel is die onderwerp (of subjek) van ʼn sin?
Die onderwerp/subjek van die sin het ʼn spesifieke verbintenis of verhouding met die werkwoord. Die handeling of toestand word deur die werkwoord uitgedruk, en die onderwerp/subjek is die entiteit of ding wat die handeling uitvoer. Kyk na die voorbeelde hier onder, waar die gesegde telkens net ʼn werkwoord is:
ONDERWERP/SUBJEK | GESEGDE |
Sy | slaap |
Die vrou | slaap |
Die vrou met die twee jong kinders | slaap |
Die vrou wat pas twee jong kinders aangeneem het | slaap |
Uit hierdie voorbeeldsinne kan ons sien dat die onderwerp/subjek ʼn enkele woord of ʼn hele komplekse bousel kan wees. Dit is dus belangrik om dadelik te besef dat ʼn bepaalde bousel ʼn sinsfunksie en ʼn sintaktiese vorm het, en dat ons apart oor hierdie twee eienskappe van sintaktiese bousels praat. Die sinsfunksie het te doen met die verhouding tussen die bousel en die werkwoord. Die vorm het te doen met watter soort woorde in die bousel self gebruik word, spesifiek watter woordsoort die kern van die bousel is.
As ons die voorbeeldsinne hier bo anders rangskik, kan ons sien dat ʼn bepaalde bousel (in ons voorbeelde die vrou) vormlik presies dieselfde kan bly, maar in verskillende plekke in die sin gaan optree, waar dit telkens ʼn ander funksie verrig:
- Die vrou (onderwerp/subjek)
- Hy bel die vrou wanneer sy wil slaap. (direkte voorwerp/objek)
- Hy gee blomme vir die vrou. (die vrou = indirekte voorwerp/objek)
- Die skuldige is die vrou. (die vrou = kopulakomplement)
Dit is dus kernbelangrik om in die sintaksis kop te hou met hoe ons oor die verskillende bousels praat, en hoe ons te werk gaan om hulle te identifiseer.
Hoe herken ons die onderwerp (subjek) van ʼn sin?
Ons het gesien dat die onderwerp/subjek te doen het met sinsfunksie, en die entiteit/ding is wat die handeling uitvoer. Dit beteken dat ʼn mens by sinsontleding altyd begin deur die werkwoord(e) in die sin te identifiseer. (Kyk in die Afrikaanse Skoolgrammatika in ons Taalonderrigportaal vir ʼn uiteensetting van die verskillende soorte werkwoorde in Afrikaans en hoe om hulle te identifiseer.) Sodra jy die werkwoord(e) gekry het, kan jy vra wie/wat [werkwoord]? en daardeur die onderwerp/subjek bepaal, byvoorbeeld:
- Iemand het jou gebel. (werkwoord(e) = het gebel; wie/wat het gebel? = iemand = onderwerp/subjek)
- Kandidate met geldige verskonings kan die toets later aflê. (werkwoord(e) = kan aflê; wie/wat kan aflê? = kandidate met geldige verskonings = onderwerp/subjek)
- Die outjie wat die koerante aflewer, is al weer laat. (werkwoord(e) = is; wie/wat is? die outjie wat die koerante aflewer = onderwerp/subjek)
Watter soort bousels tree op as die onderwerp (subjek) van ʼn sin?
Navorsers het reeds die harde werk namens jou gedoen, en vasgestel dat die onderwerp/subjek in Afrikaans vormlik by verstek ʼn naamwoordstuk is. So ʼn naamwoordstuk het altyd as kern ’n naamwoord of ’n voornaamwoord, byvoorbeeld:
- Vrouens slaap gewoonlik lekker. (soortnaamwoord)
- Sarina slaap gewoonlik lekker. (eienaamwoord)
- Sy slaap gewoonlik lekker. (voornaamwoord)
In bostaande voorbeelde is dit maklik om die onderwerp/subjek te herken, want dit bestaan uit een woord, maar in werklike taalgebruik bestaan die naamwoordstuk natuurlik meestal uit meer as net die enkele woord. Naamwoorde neem byvoorbeeld gemaklik die volgende woorde voor die kern:
- Lidwoorde (bepaald of onbepaald): Die vrou slaap lekker.
- Adjektiewe: Die uitgeputte vrou slaap lekker.
- Telwoorde: Die twee uitgeputte vroue slaap lekker.
- Versamelnaamwoorde: Die groep uitgeputte vroue slaap lekker.
- Maatnaamwoorde: Die klomp uitgeputte vroue slaap lekker.
Afgesien van die woorde wat voor die kern van die naamwoordstuk kan optree, kan daar ander sintaktiese bousels ná die naamwoordstuk self ook optree, byvoorbeeld:
- Die vrou wat die twee jong kinders aangeneem het, slaap lekker. (betreklike bysin)
Hierdie betreklike bysin is vormlik ʼn nabepaler by die naamwoordstuk, en funksioneel deel van die onderwerp/subjek.
Op hierdie punt moet jy dus insien dat die onderwerp/subjek bestaan uit alles wat die antwoord is op wie/wat [werkwoord]? Let ook daarop dat ek reeds in ʼn vorige blog daarop gewys het dat ons nie ʼn byvoeglike bepaling onderskei as ʼn sinsfunksie nie. Die betreklike bysin in die laaste voorbeeld hier bo, is vormlik ʼn betreklike bysin, maar dit is op sinsfunksievlak deel van die onderwerp/subjek.
Waar sukkel ʼn mens om die onderwerp (subjek) van die sin te herken?
Soos wat dit maar gaan met taalgebruikers wat die taal kan inspan om ten beste vir hulle te werk, is daar gevalle waar dit moeilik raak om die onderwerp/subjek te identifiseer.
In sommige sinne is ʼn bysin op sy eie die onderwerp/subjek:
- Om te kan slaap, is die vrou se grootste behoefte. (infinitiefbysin)
- Wie ook al die kinders aangeneem het, gaan min slaap. (betreklike bysin)
Vir leerders wat sukkel om te verstaan dat die bysin = onderwerp/subjek, raak dit makliker as ʼn mens daardie sin met enkelwoorde vervang:
- Dit is die vrou se grootste behoefte.
- Sy gaan min slaap.
Nog ʼn kopkrapper is sinne waar die onbepaalde voornaamwoord dit of die eksistensiële daar as ʼn sogenaamde “leë onderwerp/subjek” optree. (Let daarop dat hierdie dit en daar in ouer bronne dikwels as onpersoonlike voornaamwoorde geklassifiseer word. Volg die skakels hier bo na die bespreking van die kwessie in die Afrikaanse Skoolgrammatika om te begryp hoekom die nuwe indeling gedoen is.):
- Dit reën.
- Dit spook in daardie huis.
- Daar is nie meer kos in die huis nie.
- Daar is al twee motors in ons kompleks gesteel.
In passiefkonstruksies (lydende vorm) ruil die onderwerp/subjek en voorwerp/objek plekke om, en die gedemoveerde onderwerp/subjek kan maklik uit sulke passiefkonstruksies weggelaat word. Die weglating van die onderwerp/subjek is trouens een van die grootste beweegredes waarom ʼn mens ʼn passiefkonstruksie in jou teks inspan – jy raak van voorspelbare inligting ontslae, of jy skryf ʼn onbekende onderwerp/subjek uit jou teks, byvoorbeeld:
- Iemand steel gereeld die motors in ons kompleks.
- Die motors in ons kompleks word gereeld deur iemand
- Die motors in ons kompleks word gereeld gesteel.
Die sinsdeel wat in die sinsaanvang voorkom, is nie altyd die onderwerp/subjek nie. Hoewel die onderwerp/subjek in eenvoudige, simplekse sinne gemaklik in die sinsaanvang optree, hoef dit nie daar te staan nie. Moet dus nie sommer dadelik aanvaar dat die eerste sinsdeel in die sin die onderwerp/subjek is nie, kyk eers na al die sinsdele se verhouding met die werkwoord, en besluit dan waar die onderwerp/subjek is, byvoorbeeld:
- Saans slaap die vrou lekker. (bywoordelike bepaling van tyd in die sinsaanvang; die vrou is steeds die onderwerp/subjek)
- Omdat sy nie genoeg slaap nie, raak die vrou maklik siek. (bywoordelike bepaling van rede in die sinsaanvang; die vrou is steeds die onderwerp/subjek)
- Wanneer slaap die vrou? (vraagwoord in die sinsaanvang; die vrou is steeds die onderwerp/subjek)
Bevelsinne het meestal nie ʼn onderwerp/subjek nie, byvoorbeeld:
- Slaap! (Stelsin: Jy moet slaap.)
Infinitiefsinne het ook nie ʼn onderwerp/subjek nie. Die onderwerp/subjek van ʼn sin is egter so oorheersend dat as hy die partytjie verlaat, die res van die partytjiegangers steeds van hom bewus is. Die infinitiefsin impliseer eintlik dat die narsis steeds daar is, al is hy afwesig, byvoorbeeld:
- om te slaap …
Tot volgende keer!
VivA-groete
Cecilia