Uit Wilna se pen

Skoolgereedheid getoets maar emosioneel nog nie gereed nie?

Deur Wilna van Rooyen

 Wanneer ’n kind wel skoolgereed getoets het, maar steeds sukkel met die emosionele aspek, is dit belangrik om hom of haar met geduld, begrip en doelgerigte ondersteuning te help.

Begin deur ’n veilige en liefdevolle omgewing te skep. Dis belangrik dat die kind weet dat sy of haar gevoelens aanvaar en verstaan word. Moedig die kind dus aan om oor emosies te praat – vra hoe hy of sy voel, en help om woorde te gebruik om gevoelens uit te druk. 

Praktiese maniere om ondersteuning te gee

>>> Bou roetines en voorspelbaarheid

Vaste roetines gee kinders ’n gevoel van sekuriteit omdat dit ‘n voorspelbare atmosfeer skep. Hou dus by vaste tye vir slaap, eet en huiswerk. Wanneer veranderinge onvermydelik is, berei die kind vooraf daarop voor – baie kinders hou nie van verrassings nie.

>>> Gebruik stories, speletjies of rolspel

Dit help om emosies te bespreek. Optrede in sosiale situasies kan ook so ingeoefen word, soos hoe om met maats te deel of konflik op te los.

>>> Gee lof en positiewe aanmoediging

Dit versterk selfvertroue en laat die kind trots voel op klein suksesse. Goedkeuring van ’n volwassene beteken baie vir ’n kind, en dit dra by tot ’n positiewe selfbeeld.

>>> Leer eenvoudige ontspanningsvaardighede

Leer vir kinders hoe om:

  • Diep asem te haal
  • Tot tien te tel wanneer hy of sy kwaad of gespanne voel
  • Op sintuiglike ervarings te fokus deur aandag te gee aan dit wat hulle sien, hoor, ruik, voel en proe (selfs net ’n slukkie water)

>>> Benadruk samewerking tussen ouers en onderwyseresse

Deurlopende ondersteuning by die huis en skool verseker optimale ontwikkeling.

>>> Lei aandag af met fisieke aktiwiteite

Laat die kind op een been staan, vorentoe of agtertoe spring, hande klap – enige bewegingsaktiwiteit wat ‘n kind se aandag aflei kan help om spanning te verlig.

Ter afsluiting

As die kind steeds groot emosionele uitdagings ervaar, kan dit nuttig wees om ’n spelterapeut of kinderberader vir verdere leiding te raadpleeg.

Die belangrikste wenk is om geduldig te wees. Emosionele groei neem tyd, en met liefde en ondersteuning kan elke kind leer om selfversekerd en gelukkig in die skoolomgewing te funksioneer.

 

Groete, Wilna van Rooyen