Uit Wilna se pen

Stimuleer Slim

Deur Wilna van Rooyen

Stimuleer slim:

Die brein is dol oor kleur.  Gebruik werklike voorwerpe met mooi kleure om woordeskat uit te brei.

Gebruik musiek tydens die leerproses.  Dit stimuleer die vrystelling van endorfiene, die lekkervoel-chemikalië in die brein wat ‘n gunstige uitwerking op die leerposes het.

Sorg dat jou kind gereeld aktief buite speel.  Oefening is goed vir jou denkprosesse, dit help om meer suurstof en bloed na die brein te laat vloei.

Sorg dat jou kind genoeg slaap.

Maak gedurig grappies terwyl jy jou kind leer.  Lag verhoog witbloedsel-aktiwiteit en verander die chemiese balans in die bloed, wat die liggaam se produksie van senuwee-oordragstowwe (goed vir waaksaamheid en die geheue) kan verhoog.

‘n Positiewe ingesteldheid stimuleer ook die leerproses.

Jou kind se vermoë om inligting in te neem, te verwerk en boonop te onthou is die sleutel tot sy of haar prestasie.

 

Bou selfvertroue met woorde:

Elke mens heg verskillende waardes aan dinge wat gesê word en verstaan dit soms verskillend.  Dit is waarom ons mekaar soms verkeerd verstaan.  Dit is hoekom ons nie van ‘n tweejarige dieselfde kan verwag as van ‘n sesjarige wanneer ons ‘n opdrag in die huis gee, of iets probeer verduidelik nie.  Vir tweejariges moet ‘n opdrag, byvoorbeeld baie herhaal word, om seker te maak dit word verstaan.

Namate kinders groter word, begin ons hulle in kassies plaas.  Jy dink en sê soms jou kind is agterlosig, dromerig, onoplettend, vergeetagtig, deurmekaar.  Jou ander kind is georganiseerd, pligsgetrou en netjies.  Dié etikette dra by tot die vorming van hul identiteit.

 As jy iets gedoen wil hê, vra jy jou seun, want jy weet jou dogter gaan die helfte van die opdrag vergeet.  So maak jy hom die een wat dinge moet doen en verfyn dié eienskap.  Van haar verwag jy nie dieselfde nie en mettertyd is sy ook nie in staat om dit te doen nie.  Sy begin aan haar vermoë twyfel.

Ons is geneig om kinders in taal-kategorieë te plaas: stout, soet, moeilik, probleemkind—en kort voor lank glo die kind en die ouer dat sy in daardie kategorie hoort en word die taalbeskrywing haar identiteit.

Pasop dat jy nie woord-etikette om jou kind se nek hang nie, want daardie woorde kan sy of haar hele menswees bepaal.

Werk aan jou eie selfbeeld.  Dis moeilik om aan jou kind se selfvertroue te bou as jy self ‘n swak selfbeeld het.

Taal is nooit onskuldig, neutraal of objektief nie. Dit gaan altyd met die oordrag van waardes gepaard.  Elke woord wat ons sê, spruit uit ‘n rits onderliggende waardes.  Elke keer as ek taal gebruik, roep ek hierdie waardes op. Daarom kan iets wat heel onskuldig lyk, eintlik ‘n manier wees waarop ek waarde toeken.  Daardie waarde kan negatief of positief wees.

Gawe kinders:

Almal wil graag glo hul bloedjies is die liefste, oulikste kinders ter wêreld. Maar is dit regtig waar, en wat moet jy doen om die gawe kinders groot te maak wat jy so graag wil hê?

Navorsers aan die Universiteit van Harvard in die VSA het in ’n studie bevind byna 80 persent van die jongmense wat aan die studie deelgeneem het, het gesê hul ouers is baie besorg oor hul prestasies en geluk, meer as wat hulle besorg is daaroor dat hul kind vir ander omgee.

Richard Weissbourd, ’n sielkundige wat deel was van die studie, sê as ons graag wil hê ons kinders moet gaaf wees, moet ons hulle so grootmaak.

“Kinders word nie eenvoudig goed of sleg gebore nie en ons moet nooit moed opgee nie. Hulle het volwassenes nodig wat hulle sal help om in elke fase van hul kinderjare om te gee, respekvol te wees en verantwoordelik op te tree.”

Maak omgee ’n prioriteit. Ouers is geneig om hul kind se geluk en prestasies belangriker te ag as dat hul kind vir ander omgee. Tog is dit belangrik dat jou kind van jongs af leer hulle kan bydra tot ander se geluk.  Vertel jou kinders hoe belangrik dit is om vir ander om te gee. Sê eerder: “Die belangrikste ding is dat jy gaaf is.” as “Die belangrikste ding is dat jy gelukkig is.”

Maak dit ’n reël om vir ander om te gee.

“Die belangrikste reël in ons huis is dat ons gaaf moet wees,” skryf Shawn Fink, die stigter van die Abundant Mama-projek op haar blog. “Al die ander dinge in die lewe val onder daardie reël.”

Maak ook seker jou kinders spreek ander altyd met respek aan. Jy kan daagliks ’n geleentheid skep waar hulle praat oor iets waarvoor hulle daardie dag dankbaar was.

Skep geleenthede waar jou kinders omgee en dankbaarheid kan beoefen:

Soos met die meeste dinge in die lewe, verg dit oefening om te leer om gaaf te wees. Vra hulle om ’n maat met ’n taak te help of die bure se kat te voer wanneer hulle met vakansie is.

Praat met jou kind oor voorbeelde wat hulle byvoorbeeld op televisie sien van mense wat omgee.

Wees self die voorbeeld van omgee.    

 Albert Einstein sê:

‘Dis net as jy vir ander leef dat jou lewe die moeite werd is.’