Wat is taspersepsie?
Taspersepsie is die vermoë om sin te maak van dit waaraan jy raak of vat. ‘n Mens se vel maak dit moontlik om te voel of iets warm, koud, grof, glad, sag of hard is.
Kinders met ’n ontwikkelde taspersepsie kan ’n voorwerp van een hand na ’n ander verskuif, en hulle kan voorwerpe in hul hande rondrol of omdraai en dit met albei hande ondersoek. Hulle kan ook hul duim en opponerende vingers in elke hand afsonderlik gebruik om voorwerpe vas te hou. Verder lag hulle wanneer hulle gekielie word, huil as hulle seerkry, druk sagte speelgoed teen hul liggame vas, en weet hoe om met harde speelgoed om te gaan.
Hoe ontwikkel die tassintuig?
Jong kinders gebruik hul tassintuig om die wêreld om hulle met hul hande, voete, lippe, tong, wange en vingers te verken. Hulle sal selfs voorwerpe in hul monde sit om vas te stel hoe dit voel. Hulle kan ook voorwerpe teen hul bene of arms vryf. Hoe groter die belewing, hoe groter is die leergeleentheid.
Hoe beter kinders se sintuie ontwikkel, hoe beter is hul belewing van hul omgewing, en hoe meer ontwikkel hulle
Aktiwiteite
1. Identifiseer voorwerpe: Plaas plastiekdiere in ’n sak of kussingsloop en laat kinders daaraan voel en die diere identifiseer. Op dieselfde trant kan verskillende plastiekvorms of houtblokkies in ’n sak geplaas word sodat kinders beurte kan maak om dit te identifiseer deur daaraan te voel.
2. Sorteerspeletjies: Laat kinders aan nat of droeë voorwerpe voel en hul ervaring in woorde beskryf. Hulle kan ook aan growwe en gladde voorwerpe voel en dit volgens dié eienskappe sorteer. Dieselfde kan gedoen word met klein en groot voorwerpe (grootte), voorwerpe wat swaar of lig is (gewig) en materiale wat hard of sag is, soos lap, metaal of hout.
3. Beskrywende aktiwiteite: Kinders kan spesifiek aan teksture voel om dit te beskryf, soos iets wat slymerig, stekelrig of taai is.
4. Omgewingservarings: Laat kinders doelbewus van tyd tot tyd op sagte of harde kussings sit, of op ‘n growwe of sagte mat, en dalk ‘n vloer wat koud en hard is, in teenstelling met ‘n kombers wat sag en warm is.
Rigtingwysers
1. Maak die leerervarings interessant: Laat kinders met hul monde voel of iets koud of warm is, teksture beskryf, en tydens bak-en-brou prakties beleef hoe hard of sag vrugte is, ens.
2. Verpersoonlik die leerervarings: Kinders kan só geleentheid kry om voorkeure te verbaliseer en te sê waaraan hulle wil raak, of nie wil raak nie.
Groete, Wilna van Rooyen.


