Uit Wilna se pen

Tegnologie en Ontwikkeling – TV, selfoon en Tablet

Deur Wilna van Rooyen

TV, selfoon en Tablet:

Tegnologie kan ‘n positiewe of negatiewe uitwerking op kinders se ontwikkeling hê; daarom is dit uiters belangrik dat ouers ingeligte besluite daaroor neem en sterk beheer toepas op hul kinders.

Studies het duidelik getoon dat te veel tegnologie-tyd sleg kan wees vir jou kind se slaaproetine, aandagspan, fisieke toestand, gedrag en IK.  Kinders wat te veel televisie kyk is geneig om meer aggressief te wees en sukkel meer dikwels op skool.

Kinders onder 2 jaar moet so min as moontlik aan tegnologie blootgestel word.

Kinders ouer as 2 jaar se skermtyd moet beperk word tot tussen een en twee uur per dag.

Pas streng beheer toe sodat jou kinders net na opvoedkundige programme kyk en opvoedkundige speletjies speel.  Jy moet kies waarna hul kyk, nie andersom nie.

Maak seker dat die TV-programme ouderdomsgeskik is.  Baie van die tekenprente op TV is eintlik vir ouer kinders geskryf en kinders jonger as 8 moet glad nie daaraan blootgestel word nie.

Probeer om saam met jou kinders TV te kyk of speletjies te speel; so kan jy meer noukeurige beheer toepas.

Moet nooit ‘n TV of tablet as oppasser gebruik nie.  Probeer liewer om tegnologietyd by ‘n roetine in te bou sodat die kinders duidelikheid het oor die reëls wat geld.

Moenie as ‘n gesin voor die TV eet nie.  Maak etenstyd ‘n gesinsaktiwiteit waarin julle mekaar in die oë kyk terwyl jul gesels.

Lomé Koekemoer Sielkundige en Ouerskapsdeskundige.