Dis vir enigeen moeilik om kop te hou met ʼn tweede (of derde of vierde of …) taal. Leerders wat Afrikaans Eerste of Tweede Addisionele Taal aanleer, val dikwels vas met woorde wat baie na aan mekaar lê en moeilik vertaal. Moedertaalsprekers weet instinktief wanneer om die een te gebruik en wanneer die ander reg is, maar die oomblik as ʼn mens die onderskeid tussen die twee moet verduidelik, besef jy waarom hulle sukkel – die betekenis is soms so verstrengel en die onderskeid so fyn dat dit werklik kophou kos om die verskillende gebruikstoepassings duidelik te maak.
Hierdie lys bevat ʼn paar sulke strikke. Stuur gerus vir ons wenke as jy nog sulkes teëkom sodat ons dit in ons databasis kan opneem en kan help om die verwarring op te los.
besondere x besonderse | Die HAT en WAT dui aan dat ʼn mens albei woorde mag gebruik vir “spesiale”. “Besondere” het egter ʼn bykomende betekenis van “bepaalde”, wat “besonderse” nie het nie.
Eselsbrug: “Besonderse” (met die s) is die een wat net “spesiale” kan beteken. |
· Dit is ʼn besondere/besonderse kunswerk.
· Hierdie besondere probleem moet dringend aandag kry. |
bly x gelukkig | Albei die woorde is in Engels “happy”, maar “bly” is in Afrikaans ʼn kortstondige gemoedstoestand, terwyl “gelukkig” ʼn langdurige syn is (Engels: state of being). | · Ek is bly jy het vir my kom kuier.
· Hulle is al jare gelukkig getroud. |
gesin x familie | In Engels is daar die woord “family” waarmee ʼn mens na beide huismense en bloedverwante verwys. In Afrikaans is daar onderskeidelik “gesin” en “familie” vir die twee begrippe. | · My huisgesin bestaan uit my, my ma en my twee susters.
· My familie bestaan uit my ouers, twee oumas en een oupa, vyf tantes, drie ooms en veertien niggies en nefies. |
guur x onguur | “Guur” en “onguur” is sinonieme waar dit na enigiets anders as mense verwys. Mense kan net “onguur” wees. | · Ek hou nie van hom nie, hy maak gedurig gure/ongure aanmerkings.
· Ons nuwe bure is ʼn ongure spul. |
halwe x helfte | ʼn “Helfte” is een van twee gelyke dele, ʼn “halwe” is iets waarvan daar net 50% oor is. Dit klink na dieselfde ding, maar dit is nie. Dit dui wel dieselfde hoeveelheid aan, maar die verhouding tot die geheel verskil. | · Ek sit vanoggend met ʼn halwe klas (die oorblywende 50% van die geheel), want die helfte van die leerders (1 van 2 gelyke dele) het griep. |
hulp x help | In Engels is “help” ʼn selfstandige naamwoord en ʼn werkwoord. In Afrikaans is “help” die werkwoord en “hulp” die selfstandige naamwoord. | · Ek wou hom help, maar hy wou nie my hulp hê nie. |
ken x weet | In Engels gebruik ons “know” om aan te dui dat jy van iets bewus is (dit “weet”) en dat jy kennis onder die knie het (dit “ken”). Dui ook vir tweedetaalleerders aan dat “ken” in Afrikaans altyd oorganklik is. Jy ken altyd iemand of iets, jy kan nie net ken nie. “Weet” is oorganklik of onoorganklik. | · Ek weet nie waarvan jy nou praat nie.
· Jy weet mos hy luister nooit. · Hy weet iets, maar hy praat nie daaroor nie. · Sy ken haar werk. · Hy ken die see, daarom is hy ʼn goeie visterman. · Ek ken al sy buie – as hy so lyk, gaan ons bars. |
klere x kleure | Hierdie een verwar selfs moedertaalsprekers. Die toekenning wat leerders vir sport- en ander prestasies kry, is “kleure”. Dit kom van ʼn tradisie by Oxford en Cambridge waar ʼn uitblinker ʼn lint aan sy/haar baadjie vasgesteek het en dan die universiteit se “colours” (skakerings van blou) gedra het. | · Leerders wat kleure by die prysuitdeling kry, moet dit voor die einde van die volgende week op hulle klere aanbring. |
lid x lidmaat | Jy is ʼn “lid” van ʼn organisasie, maar ʼn “lidmaat” van ʼn kerk. Die verwarring ontstaan omdat jou betrokkenheid by enige liggaam, vereniging of organisasie as “lidmaatskap” bekend staan en baie organisasies na konsepte soos “lidmaatskapgelde” of “lidmaatskapvoorwaardes” verwys. | · Jy moet ʼn lidmaatskapaansoekvorm onderteken as jy ʼn lid van die ATKV wil word.
· Jy moet belydenis van geloof aflê om ʼn lidmaat van die NG Kerk te word. |
ly x lei | Hierdie bekende homofoon verwar nie net tweedetaalsprekers nie. Jy “ly” as jy as gevolg van ʼn siekte of ʼn ander uitdaging swaarkry. As jy die voortou neem, “lei” jy.
Eselsbrug: Lyding is nie iets wat in ʼn agtermiddag oor is nie, dis ʼn lang proses. Dit kry die “lang y”. |
· Mens en dier ly onder die verskriklike droogte.
· Ons het nou sterk leierskap nodig om ons uit hierdie doolhof te lei. |
present x persent | ʼn “Present” is iets wat jy “presenteer” (nee, dis nie anglisisties nie, dit kom uit Nederlands); dis met ander woorde ʼn geskenk. “Persent” is die eenheid waarmee persentasie uitgedruk word. | · Moenie nou jou present oopmaak nie, jy verjaar eers môre.
· Die maatskappy se wins het met vyftig persent (50%) opgeskuif. |
sommige x som x soms | Die Engelse “some” en die Afrikaanse woorde loop soms deurmekaar. “Sommige” is “ʼn paar van” en is in Engels “some”. “Som” is “berekening” of “totaal” en die ekwivalent van die Engelse “sum”. “Soms” beteken “elke nou en dan” en is die ekwivalent van die Engelse “sometimes”. | · Sommige leerders werk hard en kry goeie punte, terwyl ander nie voorberei nie en dan druip.
· Dui die som van al die berekeninge heel onder op die bladsy aan. · Hy is meestal in sy kantoor, maar soms drink hy koffie op die balkon. |
sinloos x sinneloos | Weer een waarmee moedertaalsprekers ook kleitrap. Die “sin” in “sinloos” verwys na betekenis of inhoud, en “sinloos” is dus leeg, betekenisloos, doelloos. Die “sinne” in “sinneloos” verwys na kognisie, verstand en/of begrip, en “sinneloos” beteken dus dwaas, belaglik, waansinnig, ondeurdag, redeloos of onverstaanbaar. | · Dis sinloos om die vloere te was terwyl die honde deur die huis hardloop.
· Sy sinnelose gebrabbel het almal net ontstel en verwar. |
VivA-groete
Sophia